Ses nuwe tendense in tegnologie om dop te hou!

matrieks_tegnolgie_2.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Melissa Peyper

Tegnologiese vooruitgang is ´n onvermydelike verandering wat daagliks in ons lewe plaasvind. Kan jy dink aan ´n dag redelik onlangs, waar jy nie afhanklik van tegnologie was om jou met daaglikse takies te help nie? Toemaar, daar is min mense wat kan.

Tegnologie het nou al so ´n groot deel van ons daaglikse lewens geword dat meeste van ons nie eens meer agterkom dat ons dit nie net in ons persoonlike hoedanigheid nie, maar ook in die werkplek gebruik nie. As jy daaraan dink – ons maak staat op e-posse vir kommunikasie, ons skootrekenaars om ons te herinner van afsprake, aanlyn artikels vir leesstof en aanlyn stoorplekke om al ons werk te stoor.

´n Belangrike vraag aangaande al hierdie nuwe tegnologie is hoe dit die werkplek en ons produktiwiteit kan verbeter. Hier volg ´n paar voorbeelde van nuwe tegnologie wat ons werkplek kan verbeter.

Die Wolk (“Cloud”)

´n Maklike manier om al ons inligting te stoor, asook toegang te gee tot ander hulpbronne wat voorheen nie moontlik was nie. In plaas daarvan om ´n kollega te vra vir inligting, kan jy self op die sisteem gaan kyk. Dit is wel binne perke van toelaatbaarheid. Die Wolk se dienste bied soveel opsies om van te kies, byvoorbeeld “Google Drive”, “Microsoft OneDrive”, of “Apple iCloud Drive”. Vir sommige van die dienste gaan jy moet betaal, afhangend van hoeveel jy wil stoor. Die Wolk is ´n veiliger opsie om al jou inligting te stoor, want jy kan dit nie verloor of misplaas soos met ´n geheuestokkie nie. Jy kan op enige plek en enige tyd die Wolk gebruik, hetsy op jou skootrekenaar of op jou foon, solank jy toegang tot die internet het. Daar is geen beperking op dit wat jy kan stoor nie – jy kan foto’s, dokumente, voorleggings, asook notas stoor. Beslis ´n handige program!

Virtuele persoonlike assistente

Byvoorbeeld Siri op iPhones, of interaktiewe Google-programme wat kan help om afsprake te skeduleer, te onthou, om takies aan te dui en af te merk sodra dit voltooi is. Dit is soos om jou eie persoonlike assistent op jou skootrekenaar of foon te hê.

Digitale kommunikasiestelsels

´n Goeie voorbeeld is Skype, ´n program wat werknemers toelaat om met ´n kliënt enige plek in die wêreld kontak te maak. Dit vergroot die teikenmark van enige besigheid en is meer effektief. Werknemers kan enige tyd kontak maak met ander sonder om eers hul tafel te verlaat.

Virtuele werklikheidsopleiding

Werknemers kan nou aanlyn gaan, ´n kursus kry wat hulle graag wil voltooi en in hul werkplek, virtuele realiteit gebruik om dié kwalifikasie te kry. Dit is ´n goedkoper opsie vir werkgewers om hul werknemers op te lei en so kan daar meer gereeld opleiding gedoen word.

Gesamentlike skerms tydens vergaderings

Dié tegnologiese vooruitgang sal video telekonferensie na ´n nuwe hoogte neem. Die tegnologie vergemaklik kommunikasie tydens vergaderings. Een persoon in die vergadering kan op ´n tegnologiese witbord of tablet skryf en dit sal dan op elkeen se afsonderlike skerm verskyn. Microsoft is tans besig om gespesialiseerde vergaderingskamers te ontwerp en te bou, wat spesifiek vir die tegnologie ingerig sal wees.

Die program genaamd “The Internet of Things”

Dié program bevat ´n verskeidenheid van apps wat werknemers in kennis sal stel wie en wie nie op kantoor is, watter raadsale beskikbaar is en watter nie, en dan ook wanneer dit beskikbaar sal wees indien dit nie is nie. Die raadsale waarin die program geïnstalleer is sal afgeleë werknemers, wat deel van die vergadering moet wees, virtueel daar plaas, notas van vorige vergaderings beskikbaar maak vir bespreking en ook die beligting aanpas. Wat die program ook uniek maak, is die feit dat die program ´n boodskap sal uitstuur as die huidige groep mense in die saal nog besig is en ´n ander vergadering moet begin, om te sê dat die huidige groep nog besig is en dat die volgende vergadering uitgestel sal word met ´n sekere aantal minute.

Tegnologie sal definitief die werkplek ´n makliker plek maak en as dit reg benut word kan dit selfs jou daaglikse produktiwiteit verbeter. Dit is ´n verandering wat deel vorm van ons toekoms en gaan net al hoe meer ontwikkel. Dink net aan al die tegnologie wat ons oor 10 jaar sal kan gebruik – beslis iets om na uit te sien!

 Die artikel het oorspronklik verskyn op Solidariteit-Jeug se webblad

Bronne:
www.maroelamedia.co.za
https://www.wikihow.com/Make-a-Study-Timetable
https://sleepfoundation.org/sleep-topics/teens-and-sleep
https://www.vital.co.za/product/omega-3/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Louw ·

Ou nuus en tegnologie. Net nuwe name. Video konferensies al in die laat sewentigs gedoen.

Gerhard ·

Maar nie op ‘n telefoon wat jy oral saam met jou kan dra nie.

Theo van Burick ·

Die verduidelik van IoT (Internet of things) is heeltemal verkeerd en van “die Wolk” uiters gebrekkig. Hierdie moderne tegnologieë verteenwoordig gulde geleenthede vir opleiding en werk, veral vir die jeug. Ek beveel aan dat ‘n kenner genader word om die regte, meer opwindende, inligting te bekom en te publiseer. Dit kan baie jong mense se toekoms voordelig beïnvloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.