Ses wenke as jou kind met sy gewig sukkel

Argieffoto (Foto: studioessen/Pixabay)

ʼn Maand van die jaar is al reeds amper verby. Die meeste van ons het Nuwejaarsvoornemens gehad. Die vraag is of jy nog volhou met daardie lysie vol voornemens? Op talle mense se lysie was gewigsverlies, meer oefeninge en ʼn gesonde lewenstyl bo-aan.

Op Google se soekfunksie is die woord “dieet” en dieetverwante onderwerpe bykans dubbel die hoeveelheid kere van die vorige maand ingesleutel. Trefwoorde op Google is “ketogeen dieet”, “intermittent fasting”, “chia seed diet”, “hoë proteïendieet”, “Mediterreense dieet” en talle, talle meer.

Nuwe tekkies word gekoop, oefenfietse word aangeskaf en groot planne word gemaak om die vetjies af te sweet.

Gewig bly maar daardie een ding wat mense, mans en vroue, wil beheer. Dit gaan nie net oor die persoon se gewig en gesondheid nie, maar is dikwels ook gekoppel aan sosiale aanvaarding, die perfekte voorkoms en ʼn illusie dat jy in beheer is van jou lewe.

In my praktyk word daar nie een of ander dieet en oefenplan vir volwassenes uitgewerk nie, maar daar word met kinders gewerk. Die seer en die vernedering van oorgewig kinders word hanteer en bespreek. Kinders en hul ouers kom sit by my en hulle uitdagings is heelwat meer kompleks en uitdagend as om net ʼn eet-en-oefenplan te volg.

Elke kind se uitdaging is uniek. Dit wissel tussen trauma, genetiese en mediese toestande en lewenstyl wat oorgewig veroorsaak. Byna al die kinders wat voor my sit het een groot uitdaging en dit is boeliegedrag van maats. Hulle word geterg, gespot en verneder wat weer inwerk op skoolwerk, verhoudinge en ironies weer op gewigtoename. ʼn Negatiewe spiraal ontstaan en dit laat talle ouers met hulle hande in die hare.

Boonop het die gemeenskap min genade en plaas die skuld op die skouers van ouers. Dit is dus absoluut noodsaaklik om ouers toe te rus om die uitdagings rondom hul kinders wat leef met oorgewig, in 2019 by te staan.

Hier is ses wenke:

  1. Maak seker dat die regte oorsaak van die oorgewig eers geïdentifiseer word. Diëte en streng oefenplanne help nie as die oorsaak van die probleem byvoorbeeld trauma as gevolg van ʼn egskeiding of dood is nie.
  2. Verbeter doelbewus die kommunikasiekanale tussen jou en jou kind. Eet aan ʼn tafel en praat oor die dag of maak letterlik ʼn afspraak, al is dit tien minute om met jou kind te gesels.
  3. Neem die vrymoedigheid om ʼn professionele persoon te gaan besoek om die onderliggende probleme te takel. Dit is so normaal soos om dokter toe te gaan vir griep. Die probleem gaan nie verdwyn nie, dit gaan net eskaleer.
  4. Neem ʼn onderwyser by die skool in jul vertroue. Verduidelik die uitdagings van die kind en veral waar daar boeliegedrag betrokke is. Rus jou kind toe om boeliegedrag te hanteer.
  5. Toets jou eie lewenstyl. In vandag se gejaagde lewe verval ons maklik in kitsoplossings. Jou lewenstyl word jou kind se lewenstyl.
  6. Laat jou kind altyd besef hy of sy is uniek en deur God geskape. Omvou hom/haar met jou liefde. Veiligheid en aanvaarding is ʼn basiese behoefte van alle kinders, maar veral die kind wat met oorgewig leef.

Kom ons bou ʼn kultuur waar almal, die ouer wie se kind met oorgewig leef op ʼn positiewe wyse help en ondersteun en nie net afbreek en negatiewe opmerkings maak nie.

Elsha Kinderterapie bied werkswinkels aan om ouers toe te rus. Indien jy belangstel om so werkswinkel by te woon stuur ʼn e-pos aan [email protected]

Vir meer inligting oor Elsha Kinderterapie en wenke oor hoe om kinders, wat leef met oorgewig, te hanteer besoek www.ekterapie.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DWS ·

Wenk 1 – 9:
Haal hulle van hulle fone, XBox, Playstations en rekenaars af en laat hulle BUITE speel en VARS LUG kry saam met oefening !!

Wonder maar net ·

Judge Dredd en DWS julle is so reg. Ek wonder net of ouers nie kan “sien” as hulle kinders vet raak nie. Nou ja hulle is dalk self so besig met tegnologie dat hulle “vergeet” om kos te maak en vinnig gemorskos koop.

Opinie ·

Ek stem saam met Judge Dredd en DWS.
Kry jul kinders aan die beweeg. Buitespel en aktiwiteite is goed vir hul gesondheid NIE NET gewig.
Hou op gemorskos koop elke aand. Hou op snoepiegeld inpak.
…..Die OUERS moet hul luigyt laat staan. Dis omdat OUERS nie hul kinders wul entertain nie, dat die TV en XBOX dit moet doen. Dis omdat OUERS nie meer wil kosblik pak en kosmaak na werk nie dat GEMORSKOS en SNOEPWINKELS so mooi na jul kindertjies kyk.
*ek verstaan daar is die mediese gevalle wat hartseer is, maar meeste gevalle is dit net slegte ouers…..

Papa G ·

Die kommentare is te wagte. Vreet minder en beweeg meer, jou useless kind! Julle wat altyd krities staan teenoor almal leer julle kinders om te boelie. Die oorsake van obesiteit is soms kompleks. Weet julle hoe voel ń kind wat oor gesonde kos by die skool gespot word wyl die maeres lekkers en skyfies met gaskoeldrank afgorrel? Die meeste gee op omdat hulle in elk geval gespot en verneder word. Ek het my dogter geleer hoe om, sonder veel moeite, ń boelie se neus te breek; brandmaer met ń gebreekte neus…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.