Sien só om na jou gemoed in ʼn onseker tyd

(Foto: Nik Shuliahin/Unsplash)

Die vinnige verspreiding van die koronavirus, die self-isolasie en winkels wat leegloop saai paniek in Suid-Afrika en die res van die wêreld. Vrees en angstigheid oor ʼn siekte kan oorweldigend wees en mense se geestesgesondheid kan daaronder begin ly.

Om beheer oor jou stres, angstigheid, moedeloosheid of vrees te neem sal jou familie en gemeenskap beter dien as om hierdie emosies te voer.

Volgens die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) hanteer almal stresvolle situasies anders, afhangend van hul agtergrond, die dinge wat hulle anders as ander mense maak en die gemeenskap waarin hulle woon.

Die CDC sê die volgende mense is geneig om meer stres te ervaar in ʼn situasie soos dié waarin ons ons tans bevind:

  • Ouer mense en mense met chroniese siektes wat hoërisikogevalle is vir Covid-19
  • Kinders en tieners
  • Mense wat deel vorm van die reaksiespan vir Covid-19, soos dokters en ander gesondheidslui
  • Mense met geestestoestand- en dwelmmisbruikprobleme

Stresgedrag tydens ʼn uitbreking van ʼn oordraagbare siekte behels:

  • Vrees en kommer oor jou eie gesondheid en die gesondheid van jou geliefdes
  • Verandering in slaap- en eetpatrone
  • Probleme met konsentrasie
  • Chroniese gesondheidsprobleme wat vererger
  • Groter inname van alkohol, tabak en dwelms

Die CDC moedig mense aan om na hulself, hul families en vriende om te sien omdat dit ʼn mens help om stres te hanteer. “Om ander te help om die stres te hanteer, sal ook jou gemeenskap versterk,” sê die CDC.

Hier is dinge wat jy kan doen om jouself en ander se geestesgesondheid te ondersteun:

  • Moenie sonder ophou kennis neem van die pandemie nie. Om heeltyd aan die pandemie herinner te word kan ontstellend wees en lei tot meer angs.
  • Versorg jou liggaam. Haal diep asem, doen gereeld strekoefeninge en mediteer. Probeer om gesonde, gebalanseerde maaltye te eet, kry genoeg slaap in en vermy alkohol en dwelms.
  • Maak tyd om te ontspan. Probeer om ʼn paar aktiwiteite te doen wat vir jou genot bring.
  • Praat met mense wat jy vertrou oor jou bekommernisse en oor hoe jy voel.

(Foto: Jordan Whitt/Unsplash)

Ouers kan die volgende doen om hul kind of tiener by te staan in dié stresvolle tyd:

  • Ruim tyd in om met jou kind te praat oor Covid-19. Beantwoord vrae en deel inligting op ʼn manier wat jou kind kan verstaan.
  • Herverseker jou kind of tiener dat hy of sy veilig is. Maak ook seker hulle weet dit is oukei om ontsteld te wees daaroor. Deel met hulle hoe jy jou eie stres hanteer sodat hulle van jou kan leer.
  • Beperk jou gesin se blootstelling aan nuus oor die virus, insluitend sosiale media. Kinders kan dié inligting misinterpreteer en onnodig bang raak vir iets wat hulle nie verstaan nie.
  • Hou by jou gesin se normale roetine. As skole gesluit is, skep ʼn skedule vir leeraktiwiteite, ontspanning en pret.
  • Wees ʼn rolmodel. Neem ʼn blaaskans, slaap genoeg, doen oefeninge en eet gesond. Bring kwaliteit tyd saam met vriende en familie deur.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.