Skermtyd en jou kleuter

kinders-speletjies-selfoon-tv

Foto: Pixabay.com

Deur Christien Neser

Hoeveel tyd is genoeg? Hoeveel tyd is gesond? Wat is die alternatiewe? Hoe vind ʼn mens balans?

Rekenaars is hier om te bly. Of dit nou ʼn iPad of grootskermrekenaar is, kleuters word daaraan blootgestel.

Wat is die voordele?

  1. Selfvertroue: Kinders wat leer om ʼn probleem op te los, voel trots op hulself. Dit maak nie saak watter probleem nie. En tabletrekenaars bied ʼn eindelose bron van probleme wat kinders leer oplos in die vorm van speletjies.
  2. Motivering: Verskeie studies bewys dat kinders beter leer as hulle beloon word met tyd op hulle tablette. Dis ook ʼn baie nuttige manier om te dissiplineer: Die tablet word weggeneem as hulle ongehoorsaam is. So vervang die tablet die nuwe goue sterretjie of suigstokkie as motivering en die houtlepel as afskrikmiddel.
  3. Leer lees: Daar is soveel speletjies waarmee die kinders speel-speel letters, syfers en klanke kan leer ken. Dit vervang egter nog nie die driedimensionele en interaktiewe 1:1-leer nie.
  4. Probleemoplossing: Hulle word sommer van jongs af geleer dat ʼn probleem net iets is wat na ʼn slim oplossing soek.
  5. Hand-oog-koördinasie: Daardie vingertjies moet blitsig skuif.
  6. ʼn Tablet is te klein vir twee mense om werklik interaktief mee te speel, maar wanneer ʼn kind op ʼn ouer se skoot sit, kan storievertel ʼn heel nuwe dimensie kry. Die vele opvoedkundige toepassings kan ook so saam-saam deurgewerk word.
  7. Die kind is “mak” vir rekenaars wanneer hy skool toe gaan. Sy voorkennis maak latere sleutelbordvaardighede en programmering makliker.
  8. Kinders uit laer sosio-ekonomiese agtergrond kan makliker op gelyke voet met meer welgestelde kinders kom, wanneer hulle met rekenaarspeletjies gestimuleer word. Hulle woordeskat kan ook op hierdie manier uitgebrei word. Kinders wat uit huise kom waar daar baie interaksie en stimulasie is, baat nie soveel daarby nie.

ʼn Aanhaling deur Rosie Flewitt, dosent aan die London University of Education:

According to one study, 40 per cent of children aged 8 and younger in the US had tablets in their homes in 2013 compared to 8 per cent in 2011. Rosie Flewitt, professor in Early Years and Primary Education at the Institute of Education in London, says touchscreens are particularly motivating for children, allowing them to use a tool they can see is important to adults. “There is an unquestionable body of research showing that new technologies can engage children,” she says. Her own studies have shown that children who struggle to learn using books often made more progress with iPads.

Die rekenaar en iPad is dus so goed soos die ouer dit gaan toelaat om te wees. Oogkundiges beveel speelgoed aan wat met die rekenaar beheer kan word, soos Play-I, wat robotte vervaardig wat met ʼn i-Pad beheer kan word. So word tegnologie met die realiteit, in 3D, gekombineer.

Kind_Ipad_tegnologie.jpg

Foto: O.canada.com

Wat is die nadele?

  1. Te veel skermtyd is nadelig. Verskeie kenners sê dat ʼn voorskoolse kind nie meer as ʼn uur skermtyd per dag moet hê nie; verkieslik in twee periodes van 30 minute. Hou in gedagte dat kinders oor naweke soms ʼn twee uur lange fliek kyk, dan iPad speel en later met Ouma gaan skype. Tussendeur speel hy op Ma se foon. Dit kan maklik ʼn 8 uur lange marathon van skermtyd word.
  2. Te veel skermtyd kan die oë benadeel. Die volgehoue fokus op die klein skerm plaas oormatige stres op die oogspiere. Uitgewers weet reeds dat kinders se oogspan ingekort word deur die klein skerm van hul selfone. Boeke word reeds in smaller formaat gedruk. ʼn Sessie op ʼn skerm mag nie 30 minute vir ʼn kleuter oorskry nie. Dan moet daar eers ʼn breuk wees, sodat die oë kan rus en die ogies weer die middellyn kan kruis met ander aktiwiteite.
  3. Te veel skermtyd het ʼn invloed op ons kinders se BMI. Daar is in ʼn onlangse Britse studie met 11 000 skoolkinders bevind dat daar ʼn direkte verband tussen oorgewig en verhoogde skermtyd is (4+ uur per dag). Kinders beweeg minder en peusel meer: ʼn slegte kombinasie. Onthou dat aksiebelaaide skermtyd, soos Wii, ʼn slim oplossing kan wees om hulle aan die beweeg te kry.
  4. Te veel skermtyd het ʼn invloed op kinders se emosionele ontwikkeling. Daar is ʼn nuwe en baie ontstellende fenomeen wat wêreldwyd posvat: digitale demensie. Dit is waar die rekenaar en ander skerms vir ʼn kind só belangrik raak dat hulle geen behoefte aan menslike kontak meer ervaar nie, dat hulle geheue só verswak dat hulle geen telefoonnommer kan onthou nie, dat hulle gewete heeltemal vervlak. Dr. Byn Gi-Won van die Balance Brain Centre in Seoel sê die oormatige gebruik van slimfone en skerms beïnvloed die gebalanseerde ontwikkeling van die brein. Hierdie kinders ontwikkel tipies net die linkerbrein en skeep die regterbrein af. Die kreatiwiteit word dus deur die skerm vir hulle op ʼn skinkbord aangebied; hulle moet dit net manipuleer. Konsentrasie wat in die regterbrein gesetel is, ontwikkel swak en dit lei in tot 15% van hierdie oormatige gebruikers na vroeë demensie (ʼn vorm van Alzheimer se siekte). Hierdie term is vir die eerste keer in 2012 gebruik in die boek deur die Duitse neuroloog, dr. Manfred Spitzer, in sy boek: Digital Dementia.
  5. Breinontwikkeling word geraak. Soos reeds genoem, raak kinders maklik aan tegnologie verslaaf, veral weens die “onmiddellike bevrediging” oftewel “instant gratification”. Sielkundiges (Lin & Zhou) beweer dat enige kind wat ʼn oormaat tegnostimulasie kry, subtiele breinveranderings ondergaan. Hulle eerste simptome is buierigheid, gebrek aan konsentrasie, slaapstoornisse en ʼn oorlaaide sensoriese sisteem. Hierdie kinders is dus rusteloos en geen ander speletjies bied hulle dieselfde bevrediging as die tablet of rekenaar nie. Hulle artikel noem ʼn aantal ontstellende tendense wat hulle in die breinskanderings van sulke kinders sien, soos atrofie (wegsterwing) van grysstof, witstof wat abnormaliteite toon, verminderde kognitiewe funksie, en verdunning van die korteks. Hierdie kinders ontwikkel makliker voedseldrange, wat dus ook die verhoogde BMI-indeks onder tieners verklaar.
  6. Nederlandse sielkundiges, onder andere Sieneke Goorhuis, voer aan dat kleuters dommer word met iPads in die hand. Hulle voel dat hulle minder kreatief is as vorige generasies en dat veral hulle luistervaardighede, konsentrasie en uithouvermoë swakker Hierdie sielkundiges voel dat 30 minute die absolute maksimum skermtyd vir kleuters is.
  7. iPad vs storieboek? Studies deur die Universiteit van Harvard (Augustus 2015) waar magnetiese resonansie van die brein van kleuters gedoen is terwyl hulle ʼn storie op ʼn skerm kyk versus wanneer dit vir hulle voorgelees word, wys dat voorlees die brein dwing om self visuele beelde te skep. Die visuele gebied van die brein werk baie hard terwyl ʼn kind na ʼn storie luister. Daar is heeltyd wisselwerking tussen linker- en regterbrein. Wanneer ʼn kind na ʼn skerm kyk, is die regterbrein baie onaktief. Stories luister is dus breingimnastiek. Kinders wat gereeld stories tuis hoor se Magnetiese Resonansie-toetse (MR) wys meer aktiwiteit in die linker-pariëto-tempero-oksipitale deel van die brein: dis die gebied waar taalbegrip en verbeelding gesetel is. ʼn Kind wat met ʼn voorgeleesde storie bed toe gaan, het dus ʼn voordeel bo die een wat net na die storie op ʼn skerm kyk. DUS: Slaaptydstories is baie belangrik.

Argieffoto.

Op die ou end is dit WAT jy met die skerm maak wat belangrik is. ʼn Tablet, rekenaar, slimfoon of TV is geen voltydse kinderoppasser nie. Dit moet met omsigtigheid toegelaat word en verkieslik saam met ander mense geniet word. Niks kan die skoot van ʼn ouer vervang nie. Nie eens die kleurrykste tabletrekenaar nie.

  • Christien Neser is ʼn spraakterapeut en skrywer. Sy het ‘n BA- in spraak & gehoor, Hons- (Frans) en MA-graad in toegepaste linguistiek behaal.

Bronne:

  1. Baba en Kleuter, Des 2015, Daniella de Witt
  2. Wietske Boon, Spelterapeut, www.childtherapist.co.za
  3. Kennisplatform voor het onderwijs. http://wij-leren.nl – ipad-steve jobs. «Kleuters worden dommer van iPads»
  4. Gray Matters: Too much screen time damages the brain. Psychology Today, Feb 27, 2014
  5. Kids love tablets, but screen time may be bad for their eyes. Essilor.com.newsroom
  6. John Hutton et al. Home Reading Environment and Brain Activation in Pre-School Children, Aug 2015

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.