Skoolklere wat jou beursie laat snak na asem

board-1500370_1920Verbruikers wat kinders op skool het, kan nou rustig terugsit en asem skep nadat die gejaag om betyds skoolklere te koop, verby is. Hul beursies, aan die ander kant, gaan nie so gou weer asem skep nie, aangesien ouers weer baie duur moes betaal vir items soos skoolhemde met die skoolwapen op en kleurbaadjies. Ina Opperman verduidelik wat die Mededingingskommissie se ondersoek na skoolklere sal behels, wat die Menseregtekommissie al in 2005 oor skoolklere gesê het en hoe ouers self iets aan die situasie kan doen.

Mededingingskommissie

Die Mededinginskommissie is gestig in terme van die Wet op Mededinging, wat daarop gerig is om mededinging te bevorder en handhaaf en onder meer te sorg dat verbruikers mededingende pryse betaal en voldoende produkkeuses het.

Die kommissie stel nou ondersoek in nadat dit klagtes ontvang het van potensiële skoolklereverskaffers omdat hulle uitgesluit word van mededinging in die mark vir skoolklere, weens eksklusiewe ooreenkomste tussen skole en verskaffers wat geen afsnydatum het nie. Ouers het ook by die kommissie gekla oor hierdie ooreenkomste, aangesien hulle meen hulle moet as gevolg daarvan buitensporige pryse vir skoolklere betaal.

Die bepalings van die Wet verbied praktyke wat mededinging verhoed en lei tot hoë pryse en verminderde keuse. Die Wet verbied ook dominante maatskappye om hul dominansie te misbruik deur uitermatige pryse te vra en kleiner mededingers se deelname aan die mark uit te sluit.

Skole moet nou stappe doen omdie potensiële onmededingende uitwerking van ekslusiewe ooreenkomste vir skoolklere te verminder, wat insluit om die mark oop te maak vir ander verskaffers en ‘n beperking op die termyn van eksklusiewe kontrakte of ‘n vaste termyn daarvoor.

Volgens ‘n omsendbrief van die onderwysdepartmente aan skole, moet skoolklere so generies as moontlik en beskikbaar by verskeie verskaffers wees. Indien dit onmoontlik is, moet eksklusiwiteit beperk word tot die nodige items wat die skool bepaal.

Skole moet mededingendheid vir die verskaffing van skoolklere bevorder en handhaaf en daarom vra vir tenders om skoolklere te verskaf om alle verskaffers kans te gee om mee te ding om die skoolklere te verskaf. Meer as een verskaffer moet aangewys word indien moontlik om seker te maak mededinging word nie negatief beinvloed tydens die duur van die ooreenkoms nie. Samespanning en prysvasstelling moet ook vermy word wanneer kontrakte toegeken word.

Basiese onderwys se riglyne

Die department het in 2006 nasionale riglyne vir skoolklere uitgevaardig in ‘n kennisgewing wat in terme van die Skolewet in die Staatskoerant gepubliseer is. Volgens hierdie riglyne het skoolklere ‘n belangrike sosiale en opvoedkundige doel en openbare skole kan dit behou indien die skole dit verkies.

Die riglyne se doel is om te verseker dat praktyke wat verband hou met skoolklere nie toegang tot skole op enige manier verhinder nie en dit mag nie op mense se grondwetlike regte inbreuk maak nie. Die riglyne is daarop gerig om die koste van skoolklere te verminder, veral vir die armes, sodat dit kinders nie verhoed om skool te gaan nie. Dit kan die beste gedoen word deur die huidige uitgebreide reeks skookklere te verminder en die aantal uniforms wat ‘n skool vereis, te beperk en die enkele verskaffer-benadering te ontmoedig.

Volgens die riglyne beskou rolspelers skoolklere ook as ‘n positiewe en kreatiewe manier om skoolkinders te identifiseer om probleme met dissipline en skoolveiligheid te vermy. Skoolklere kan ook ouers en kinders help om te skop teen groepsdruk vir duur klere, diefstal van veral duur klere en skoene verminder, bendegeweld verminder, dissipline verbeter en leerders help om op hul skoolwerk te konsentreer.

Die Menseregtekommissie het egter destyds, toe die riglyne gepubliseer is vir kommentaar, daarop gewys dat baie van die redes wat die Riglyne gee waarom skoolklere gedra moet word, soos om dissipline te verbeter en geweld en diefstal te verminder, nie deur empiriese navorsing ondersteun word nie. Kinders wat nie skoolklere dra nie is nie sommer ongemanierd, geweldadig of bendelede nie.

Wat kan ouers doen?

Ouers moenie vergeet hoeveel hulle aan die begin van die jaar vir skoolklere betaal het nie en moet onthou dat elke skool en sy ouervereniging self besluit oor skoolklere.

Die eerste ding wat ouers kan doen is om navraag te doen oor die ooreenkoms wat die skool met die verskaffer het. Is daar net een verskaffer en hoe lank duur die ooreenkoms?

Die volgende stap is om te kyk na alternatiewe. Kan die kinders nie kort broeke in die somer en langbroeke in die winter dra saam met kortmou en langmou T-hemde wat baie goedkoper gedruk kan word nie? Wat van denimbroeke vir die winter wat warmer en goedkoper is? Wat van sandale in die somer en tekkies in die winter?

Skole kan besluit oor eenvormige reëls soos dat denimbroeke nie geskeur of gebleik mag wees nie, dat sandale nie hakke mag hê nie en dat tekkies net een kleur mag wees.

Die belangrike kwessie is om klere te koop wat by alle kleinhandelaars beskikbaar is en ouers wat dit nie so breed het nie, kan klere aanskaf vir baie minder as wat hulle tans betaal.

Ouers kan solank na alternatiewe oplossings kyk sodat hulle reg is met voorstelle wanneer die ooreenkoms met die verskaffer verval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LS ·

Denims is net so duur deesdae, so wat help dit ?
ALLES IS DUUR !!!
Meer gesê, begin skole dit toelaat dat kinders denims mag dra, gaan denims net duurder word !!!

Asjas ·

En nie almal kan Levi’s bekostig nie dan sit jy weer met boelies en snobs wat ander kinders spot.

Lee-anne ·

“JA” vir skoolklere, maar dan moet ek dit by PEP kan koop – grys broek, wit hemp, blou/groen/maroen trui/rok vir dogters. En swart skoolskoene – asb, ek het gesien hoe dit begin lyk as dit tekkies mag wees… En kan jy dink hoe sandale gaan lyk, nee o aarde.

Asjas ·

Stem saam. Skoolskoene is redelik bekostigbaar solank jy dit nie by die skool se enigste uitruster op die dorp koop nie. Grys broeke en wit hemde kos die helfte by PEP, Ackermans en Jet. Koop net truie, dasse en baadjies daar maar hulle maak op met die Sportklere!

Leana ·

‘n Gewone wit/blou of grys hemp kan vir goedkoop aangeskaf word, dan kan die skool hulle skoolwapen apart verkoop en jy kan dit self op die sak van die hemp vaswerk. Dit spaar baie geld. Sodra dit by denimbroeke kom, word dit weer ‘n geval van ‘n spesifieke handelsmerk wat gekoop moet word.

Elmien ·

Ek is vir skoolklere maar stem saam dit is baie duur. Ek dink regtig dit kan goedkoper wees en jy kan nie meer alle grotes grys hempe by PEP kry nie. So daar kan maar bietjie na die pryse gekyk word veral sportklere en baadjies.

Marieta ·

Ek voel ook skoolklere moet basies wees en net los wapens moet he wat die skole onderskei….. en ja die goedkoper winkels se kwaliteit is nie meer so swak gemaak nie…..eintlik het ek klere gesien wat swak kwaliteit is maar dis die skool se klere …. dieselfde moet ook geld vir skryfbehoeftes…. sekere ‘namebrands’ moet beperk word!!!…. en kwaliteit behoort ook nie ingeboet word nie!!
nou moet skoolklere en skryfbehoeftes se pryse afgebring word!!

Asjas ·

Boeke geld van R1,600 in Januarie is ook sommer strooi en dan mag jy nie eers die boeke hou nie. As jy een van die Boeke verloor waarvoor jy betaal het, dan moet jy betaal!! Skoolgeld beloop R1,500 per maand en dan MOET jy elke kwartaal nog onder andere ‘n ream papier ook stuur.

Santi ·

Ek stem vir skooldrag. Maar maak dit bekostigbaar. Hierdie pryse is highway robbery. Daar is armoede in ons land. So baie enkel ouers wat geen onderhoud kry nie. Maak alles eenvormig, behalwe die trui en baadjie. Daar is klerebanke, maar nie noodwendig van alles wat n kind nodig het nie. En onthou, daardie klere is ook eens op ‘n tyd ten duurste aangekoop. Dan nog baie onnodige skryfbehoeftes ook. Sommige goed word net een keer gebruik, en elke kind moet dit koop. Vir wat? Een taak. Nee wat geld groei nie op mense se rug nie.

Moegviraldiebeloftes ·

In ons dorp het die skole klerebanke – daar word eers vir die wat nie geld het nie en skoolbeurse het gesorg dan kan die gewone ouer koop – ons het omdat my kind n beurs gehad ‘n afspraak buite skool ure gemaak en dan het ons vir haar klere daar gekry – alles behalwe broekies, sokkies en skoene. So het niemand geweet ons het ons klere by die klerebank gekry nie. Ook help dit as jy families ken wat kinders in die skool het so het ons ool bv uitgeruil onder mekaar of sommer teen ‘n redelike bedrag dit gekoop by hulle of bv ‘n nuwe skooltas of wat hulle nodig het gekoop in rul vir die klere.

Marietjie ·

Moes laasjaar my vriendin se een dogter se romp reg maak, sy vertel my toe hoe duur die kleine rompie is en sy moet vir 2 skoolklere koop en sy is ‘n enkel ouer. Sy is een van daai wat die klerebank by die skool benut. Kinders groei so vinning dat die klere daar nog baie goed is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.