Só hanteer jy gevoelens van teleurstelling as hoop faal

teleurstelling

Foto: Aaronbushell.com

Daar is vele gepaste woorde om Suid-Afrikaners se gevoelens rondom die huidige stand van sake in ons land te beskryf: woede, moedeloosheid, hartseer, angs, neerslagtigheid, onvergenoegdheid, frustrasie, swaarmoedigheid, ontevredenheid, hopeloosheid – om maar enkeles te noem.

Die woord “teleurstelling” vat al hierdie woorde saam. Wikipedia beskryf “teleurstelling” as ʼn gevoel van ontevredenheid as verwagtinge of hoop faal.

En dít is presies wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur. Rassegeweld, chaos op kampusse, korrupsie, ʼn onbevoegde regering, gewelddadige protesoptredes, die dreigende moord op ʼn taal en aanslag op minderheidsgroepe, geweldige droogte en finansiële krisis, plaasmoorde en hoë misdaadsyfers en honderde ander negatiewe gebeure en bewegings het tot gevolg dat gewone mense teleurgesteld voel omdat verwagting of hoop faal.

Ons voel wanhopige teleurstelling.

Menige Suid-Afrikaanse ouer se vrese rondom die toekoms lê juis by hul kinders: “Wat gaan van my kinders word?” Dit is ʼn geldige vraag. Donker wolke bedreig ʼn rooskleurige toekoms in Suid-Afrika. Sal ons kinders die teleurstelling kan hanteer?

Volgens dr. Thelma Loubser, bekende opvoedkundige sielkundige, is dit belangrik dat ouers hul kinders op teleurstelling voorberei. “Die ergste manier om kinders deur teleurstelling te help, is om krisisbestuur toe te pas. Dit is veel beter om kinders reeds van kleins af toe te rus om teleurstelling te hanteer.”

Van die grootste teleurstellings wat ʼn kind moet baasraak, is om agter te kom dat hul ouers nie perfekte helde is nie en dat die lewe maar moeilik is. Suid-Afrikaanse kinders word daagliks met teleurstelling op verskeie vlakke gekonfronteer – ouers kan dit nie meer wegsteek nie.

Deesdae is die vermoë om teleurstelling te hanteer ʼn nuttige, prysenswaardige instrument.

Dr. Loubser gee tien wapens waarmee ons ons kinders kan toerus om hulle voor te berei op die oorlog teen teleurstelling. Ouers moet hul kinders die volgende waarhede op die hart druk:

  1. “Vandag se ongemaklikste situasies sorg vir môre se snaaksste herinneringe.”

Sy gebruik die voorbeeld van ʼn kind wie se voet op die verhoog vashaak wanneer hy ʼn prys moet ontvang. Op daardie oomblik kan die kind nie dink dat daar enigiets erger met hom kan gebeur nie. As volwassenes weet ons egter dat hierdie situasie later vir goeie, humoristiese  stories gaan sorg. Ons moet nooit ons sin vir humor verloor nie.

  1. “Jy wil nie jou piek bereik terwyl jy nog op skool is nie.”

Dr. Loubser beklemtoon dat ʼn werklik suksesvolle persoon mettertyd verbeter. As ʼn persoon haar volle potensiaal reeds in haar kinderjare bereik, is daar nie meer ruimte vir verbetering nie. Ouers kan help deur hul kinders aan te moedig om doelwitte te stel wat verder in die toekoms lê.

  1. “Tegnologie maak dit tans makliker as ooit om verhoudings en reputasies te vernietig.”

Mense is geneig om net mooi enigiets op sosiale media te plaas. Platforms soos Facebook word gebruik om ander te beledig en privaat sake uit te blaker. Volgens dr. Loubser is dit problematies dat mense se vingers vinniger as hul verstand beweeg. Afgesien daarvan dat kinders dikwels die slagoffers van ander se onoordeelkundige gebruik van sosiale media is, moet hulle ook geleer word om dit sélf oordeelkundig te gebruik.

  1. “Sorg dat jy altyd in goeie, opbouende geselskap is.”

Sy beklemtoon dat ons ʼn Bybelse opdrag het om almal lief te hê, maar dat ons nie noodwendig een en almal in ons binnekring moet toelaat nie. Ouers moet hul kinders leer dat verkeerde vriende se verkeerde gedrag die een of ander tyd afsmeer. Die toets vir goeie vriende is die vraag of jy gemaklik en veilig in hul teenwoordigheid voel. As die antwoord “nee” is, moet jy die hasepad kies.

  1. “Dít wat jou anders maak, is dít wat jou spesiaal maak.”

Ons lewe in ʼn samelewing waar dit, veral vir kinders, van groot belang is om by die groep in te pas. Dr. Loubser benadruk egter dat geen persoon ʼn blywende indruk of verskil in die samelewing kan maak deur in te pas nie. Verder gaan drome in die proses verlore; en dan raak die groep se drome jou drome. Om uniek te wees, kos waagmoed.

  1. “Dit is in orde as jy nog nie jou toekomsdrome presies geformuleer het nie.”

Ouers moet jonger kinders verseker dat hulle nog jonk is en baie tyd het om hul drome te formuleer. Dit is baie belangriker vir ʼn kind om eerder goeie korttermyn- as langtermyndoelwitte te hê. Kinders moet ook weet dat die lewe ʼn pad met elke mens stap en dat niemand vooraf weet watter loop die pad gaan neem nie.

  1. “Jou uniform bepaal nie jou identiteit nie.”

Met hierdie stelling bedoel dr. Loubser dat selfvertroue en identiteit nie aan prestasie gekoppel is nie. Daar is sekere dieper waardes wat jou identiteit bepaal. ʼn Uniform of prestasie is soms net tydelik – dit kan enige tyd weer weggeneem word. As kinders leer om die groter prentjie raak te sien, sal hulle vinnig besef dat prestasie dikwels van verbygaande aard is en nie ewigheidswaarde het nie.

  1. “Toejuiging kan misleidend wees.”

Deesdae meet mense hul sukses aan die hoeveelheid “likes” wat hulle op Facebook inwin. Sukses word aan getalle gemeet terwyl dit eintlik aan die waarheid gemeet moet word. Volgens dr. Loubser moet sukses eerder aan innerlike vrede en tevredenheid gemeet word. Kinders moet van kleins af leer dat hulle nie noodwendig gewild gaan wees as hulle die regte dinge doen en sê nie.

  1. “Daar is ʼn verskil tussen hulpvaardige en opbouende raad en remmende kritiek – wees baie versigtig na wie jy luister.”

Na wie luister jy? Na dié wat wil hê dat jy misluk, of na dié wat graag wil hê dat jy suksesvol sal wees? Die volgende vrae kan help: Vertrou ek hierdie persoon ten volle? Dwing die persoon respek af? Volg die persoon self die raad wat hy gee? Wil ek eendag soos hierdie persoon wees? As die antwoorde op hierdie vrae “nee” is, is dit nie die regte persoon om na te luister nie.

  1. “Jy is spesiaal.”

Dit is baie belangrik dat ouers hul kinders van hierdie stelling sal oortuig.

Liezel Lüneburg

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Ek voel so bevooreg dat ek as grootouer my kleinkinders in SA en Australie sien grootword as goedgebalanseerde jongmense.My oudste kleinkind studeer regte in haar 2de jaar op NWU en vorder uitstekend en haar jonger broer is n top atleet wat elke jaar SA kampioenskappe deelneem en uitstekend doen in graad 11 en boonop vlieglesse neem om as vlieenier te kwalifiseer.My oorsese kleinkinders is onderskeidelik eerste en tweede in gimnastiek en swem in hulle ouderdom met vele medaljes en die skoolwerk vorder goed.Ek wil net die Hemelse Vader bedank vir die seeninge op my gesin wat ondanks die chaos wat ons elke dag in SA moet belewe maar ek glo dit is my gebede elke dag vir my gesin en my geloof in die skepper wat ons deurdra.

Johannes Meintjes ·

As elkeen maar net wil doen wat reg en stigtelik is, op elke moontlike vlak, terrein of sfeer van die daaglikse samelewing. Ongeregtigheid kan net die botoon voer omrede geregtigheid sluimer of die plig versuim. In hierdie morele en etiese opvoedingstaak het ouers, skole en kerke skynbaar gruwelik en tragies gefaal sedert 1652.

Jacques du Plessis ·

Hierdie is ‘n besonderse artikel. Propvol goeie inligting, insiggewend en baie goed saamgestel. Ek is by die Universiteit van Wisconsin, en doseer Afrikaans aanlyn vir studente by Yale Universiteit, en ons werk tans deur hierdie stukke. Dit gaan maar stadig vir julle, maar hulle voel baie goed oor elke woord wat hulle hier lees. Dis mos kos!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.