Só help jy die matrikulant in jou huis

Akademia_studente_studeer_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Colette Schultz

Die eindeksamen is seker een van die moeilikste tye in jou lewe: dis die laaste eksamen wat jy skryf voor jy die “grootmenswêreld” gaan betree en daar word soveel druk op matrikulante geplaas om seker te maak dat hulle in dié eksamen presteer.

Vir talle matrikulante bepaal die uitslag van hul eindeksamen ook of hulle ‘n spesifieke rigting kan studeer by ‘n tersiêre instelling.

Dis gewoonlik net soveel spanning vir die res van die lede van die gesin – daar is byna ‘n tasbare atmosfeer van die matrikulant en sy of haar leerwerk.

Hier is ‘n paar wenke om dit vir die matrikulant in jou huis bietjie makliker te maak om te fokus en te leer:

  • Gesonde kos en genoeg daarvan: vars groente en vrugte en natuurlik baie breinkos, soos proteïene. ’n Honger kind gaan nie lekker leer of eksamen skryf nie. Begin die dag met ’n stewige ontbyt. Vermy te veel suiker en soetgoed – suiker laat jou bloedsuiker vinnig styg maar ook vinnig daal.
  • Baie water: Vermy liefs die energiedrankies en drink eerder ’n Rehydrate (in sakkies en nou ook in botteltjies) om elektroliete en minerale in die liggaam terug te sit, veral as mens baie sweet.
  • Vitamineaanvulling – veral vitamine B. (Die inspuiting is ook ’n goeie idee – hy hou ongeveer ’n week).
  • Genoeg slaap is baie belangrik – moedig hulle aan om lank voor die tyd al te begin studeer vir die moeilike vakke sodat hulle genoeg slaap kan inkry en nie deurnag hoef te leer nie.
  • Skep ’n rustige huisatmosfeer. Hou maar die onbenullige stryery en praatjies vir tot ná die eksamen. Bespreek enige bekommernisse oor finansies, familie, toekoms, en dies meer eerder in privaatheid, sodat die matrikulant nie daaroor ook hoef te stres nie.
  • Hou musiek, geselsies en ander geraas sagter vir die tydperk van die matriekeksamen ter wille van ondersteuning.
  • Beperk kuiertjies van familie en vriende sodat die matrikulant se aandag nie onnodig afgelei word deur ’n geskerts en gesels nie.
  • Studeervertrek: Hou dit koel, gemaklik en skoon sodat dit vir die matrikulant lekker is om daar te studeer.
  • Buitelug: Moedig die kind aan om gereeld in die tuin of elders te gaan stap, swem, vars lug in te asem, en selfs met die diere te speel of plante water te gee – om hul aandag bietjie van die studies af te lei. Die vitamine D van die son sal hulle ook goed doen.
  • Bederf hom/haar gerus en gereeld met koeldrank, koffie of ’n lekker koppie tee sodat die matrikulant ook belangrik voel en só ondersteun word.
  • Verskoon hom/haar maar van die huistakies tydens die matriekeksamen – behalwe dat dit leertyd inkort, kan dit maklik ook as ’n verskoning gebruik word om nie te studeer nie.
  • Sorg dat die eksamenrooster sigbaar is in die huis, sodat almal kan weet watter vak op watter dag geskryf word.
  • Selfone: Sommige kinders het meer aanmoediging nodig, so maak seker daardie selfoon word afgesit en/of gebêre en vra gereeld hoe dit met die leerwerk gaan.
  • Hou jou verwagtinge oor jou kind se uitslae realisties en moenie agt onderskeidings verwag as jy weet jou kind kan dalk net 1 kry nie.
  • Bid gereeld vir jou kind.

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.