Só leer baba twee tale gelyk

baba-lees-pappa

Foto: Picsea/Unsplash.com

Deur Nicoline de Wet

Babas wat in tweetalige huise grootword, leer twee tale gelyktydig, sonder dat dit verwarring of vertragings veroorsaak. Dit is egter steeds onduidelik watter meganismes daarvoor verantwoordelik is.

Tydens die huidige studie het die navorsers bevind dat tweetalige babas van selfs 20 maande reeds suksesvol en akkuraat twee tale kan prosesseer, en dat hulle dus tussen die woorde van twee tale kan onderskei. Hulle dink nie dat “hond” en “dog” maar net twee weergawes van dieselfde ding is nie, hulle weet implisiet dat die woorde aan twee verskillende tale behoort.

Die navorsers het foto’s van bekende voorwerpe aan 24 tweetalige Frans-Engelse babas en 24 volwassenes van Montreal gewys. Saam met die foto’s het die deelnemers eenvoudige sinne in ʼn enkele taal (“Kyk. Soek die hond!”) of ʼn mengsel van die twee tale (“Kyk! Soek die chien!”) gehoor. In ʼn ander eksperiment het hulle ʼn oorskakeling tussen die twee tale gehoor (Daardie een lyk na pret! Le chien!”). Kinders in tweetalige gemeenskappe hoor gereeld hierdie oorskakeling tussen tale.

Die navorsers het metings van oogsporing gedoen, soos hoe lank ʼn baba of volwassene se oë op die foto gefikseer gebly het, asook pupilverkleiningsmetings. Pupilverkleining vind onwillekeurig plaas wanneer die brein hard werk en bied dus ʼn meting van kognitiewe inspanning.

Die volwassenes is as die kontrolegroep gebruik en dieselfde foto’s en oogsporingstoetse as op die tweetalige babas, is ook op hulle toegepas. Dit is gedoen om te bepaal of taalbeheermeganismes dieselfde is tydens die lewensgang van enige tweetalige spreker se lewe.

Die navorsers het bevind dat oorskakeling tussen tale met “prosesseringskoste” gepaardgaan: wanneer van een taal na ʼn ander oorgeskakel word, vernou die pupille onwillekeurig omdat die prosessering groter kognitiewe inspanning verg. Daar blyk dus geen begripshindernisse te wees nie, maar wel ʼn doeltreffende prosesseringstrategie wat aktivering en prioritisering behels van die taal wat op daardie oomblik gehoor word. Luidens Casey Lew-Williams, medeskrywer van die studie, bevestig die feit dat soortgelyke resultate by babas én volwassenes gekry is dat tweetaliges regdeur hul lewensgang hul tale op dieselfde wyse prosesseer.

Wanneer taaloorskakeling baie gereeld, aan die einde van sinne of wanneer die luisteraar dit verwag, plaasvind, word geen ekstra prosesseringstyd benodig nie.

Hierdie navorsingstudie wys dat ouers nie bekommerd hoef te wees dat kinders verward sal raak wanneer hulle tweetalig grootword nie. Selfs babas aktiveer outomaties die woordeskat van die taal wat op ʼn bepaalde tydstip gebruik word. Dit bevestig ook weereens waarom tweetaliges regdeur hul lewensgang verstandelik deur hul tweetaligheid bevoordeel blyk te word en waarom daar bevind is dat tweetalige kinders en volwassenes beter as enkeltaliges vaar wanneer van hulle vereis word om van een taak na ʼn ander oor te skakel. Die waarskynlike rede is dat die gedurige oor- en terugskakeling tussen verskillende tale vir die verstandelike bevoordeling verantwoordelik is.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae