Só weet jy of jou kind iets met ʼn app gaan leer

Argieffoto

Argieffoto

Sedert tabletrekenaars bekend gestel is, is duisende “opvoedkundige” apps vrygestel. Maar hoe opvoedkundig is ʼn app werklik?

Volgens ʼn artikel wat oorspronklik op The Conversation gepubliseer is, is daar vier eenvoudige maniere om te bepaal of jou kind werklik met ʼn spesifieke app iets gaan leer.

Maroela Media publiseer hier slegs ʼn opsomming van die artikel, lees gerus die volledige artikel vir meer besonderhede.

1. ʼn App moet ʼn kind se denke stimuleer

Maak seker dat jou kind werklik probleme moet oplos en mooi gaan moet nadink wanneer hy die app gebruik, en dat dit nie net vrugte is wat heen en weer geskuif word nie.

2. ʼn App moet betrokkenheid verg, en nie net aandagafleidend wees nie

Volgens ʼn studie wat elektroniese en tradisionele boeke met mekaar vergelyk het, was ouers en kinders meer betrokke in die storie wanneer ouers ʼn tradisionele boek aan ʼn kind voorgelees het, in plaas daarvan om bloot net vir die kind te sê, “druk hierdie knoppie”. Kinders wat tradisionele boeke gelees het, het groter begripsvermoë getoon en kon die verhaal beter onthou.

3. ʼn App moet betekenisvol wees

Dis belangriker vir ʼn kind om ʼn driehoek in ʼn pizzaskyf raak te sien as perfek getekende vorms wat altyd dieselfde lyk. Indien ʼn kind syfers of letters leer, is dit noodsaaklik dat die kind weet waarom die inligting belangrik is en hoe dit in die werklikheid aangewend word.

4. ʼn App met sosiale interaksie bevorder leervermoë

Navorsing het al herhaaldelik gewys dat die beste hulpbron vir kinders nie ʼn mooi video, DVD of ʼn app is nie, maar eerder ander mense. Kinders leer vinniger wanneer hulle in ʼn sosiale omgewing iets geleer word – byvoorbeeld wanneer iemand op hulle reageer, al is dit regstreeks of op ʼn skerm. Nuwer apps moedig kinders aan om saam met hul ouers of ander vriende te speel.

Lees gerus die volledige berig op The Conversation.
Die volgende persone het die berig saamgestel:
Jennifer M. Zosh (assistentprofessor in Menslike Ontwikkeling en Gesinstudies aan die Pennsylvania State University)
Kathy Hirsh-Pasek (Lid van die Stanley en Debra Lefkowitz-fakulteit by die Departement van Sielkunde by Temple University)
Roberta Golinkoff (H. Rodney Sharp professor en direkteur, UD-kindertaalprojek by Delaware-universiteitUniversity of Delaware)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Begin met die kind deur hom die koeitjies en kalfies te gaan wys op ‘n plaas. Gaan stap met haar/hom ‘n staproete en indien groot genoeg ‘n pakstaproete. Leer eers die kind van wat aangaan in die natuur. Hierdeur sal hy/sy ook homself leer ken. Daarna kan hierdie ander goete geleer word. Navorsing wys dat 1 uit 5 tieners tussen 10 jr en 19jr selfmoord oorweeg. Naby die natuur in die stilte van die nag op ‘n wildernis staptog kan die kind tot die besef kom dat hy/sy nie alleen is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.