Sorina se ‘Tjominis’ eersdaags bekendgestel

Sorina Erasmus en die Tjominis. (Foto: Verskaf)

Sorina Erasmus, die sangeres en aktrise ook beter bekend as Die Flooze, stel eersdaags ʼn splinternuwe opvoedkundige platform vir kinders genaamd Tjominis bekend.

Die Flooze is onder meer bekend vir loslittreffers soos “Die bliengmasjien” en “Hoezit my tjomma?”, maar agter dié lawwe karakter is Erasmus ʼn ma van twee spruite wat ʼn behoefte vir ouderdomgepaste, opvoedkundige vermaak vir kinders raakgesien het.

Erasmus vertel sy het reeds sowat vyf jaar gelede die konsep vir die platform begin ontwikkel, maar dat die projek tussendeur moederskap en ander verpligtinge as sangeres en aanbieder eers opsy geskuif was.

Die platform sal die eerste week in Julie beskikbaar wees. Erasmus vertel die idee het aanvanklik ontstaan toe haar besige seuntjie Braam (6) as peuter nie kon stil sit om sy kos klaar te eet nie.

“In ʼn poging om hom te kry om stil te sit, het ons vir hom begin opvoedkundige video’s wys op ʼn slimtoestel. Dit het darem so bietjie gehelp vir die rooimiere sodat hy kos in sy lyfie kon kry! En daar het ek en my man, Braam, besef dat goeie, Afrikaanse opvoedkundige inhoud só skaars is en ek het toe die konsep vir die Tjominis begin ontwikkel.”

Die platform, wat deur ‘Tjomamma’ Sorina en die vier Tjomini-karaktertjies gelei word, bestaan tans uit nege opvoedkundige afdelings vir kinders tussen nul en sewe jaar oud. “Die Flooze is nie hier betrokke nie, dit is net ek as mamma Sorina,” sê sy.

Hierdie afdelings sluit in “Tjomini Tunes” met stories en liedjies, “Dieremaniere” oor diere en hul dinge, “Bid Buddies” wat gewyde oudio-dagstukkies behels, “Plesier en avontuur” waar gebak en brou en in die modder gespeel word en “Wonderwêreldwiel”, waar lande en plekke oor die wêreld verken word. Daar is ook ʼn aparte afdeling vir kleuterskole, “Tjomini Skool”, met inhoud wat spesifiek op kleuterskole gerig is.

Ouers kan op die platform registreer en nuwe inhoud word maandeliks verskaf. “Ek het einde verlede jaar 52 liedjies vir die platform opgeneem. Ek is maar soos hulle sê ʼn one man band, en het al die stories en liedjies self geskryf en ook die stemme verskaf en die kostuums gedra!”

Sorina en haar man, Braam en hulle twee kinders, Braam en Miana. Hierdie foto is verlede jaar op Miana se derde verjaarsdag geneem. (Foto: Facebook/Bambino Photography)

Ferdinand Skead, die musiekvervaardiger wat verantwoordelik was vir die vervaardiging van Die Flooze en Dirk van der Westhuizen se snitte “Die tennis tune” en “Sout en peper”, het gehelp om die musiek vir die Tjominis af te rond. “Dit was vir hom ook ʼn lekker uitdaging om musiek vir die kleintjies te maak.”

Chanie Jonker het gehelp met klassieke verwerkings van musiek in die “Diere Maniere”-afdeling. “Ons wou ook ʼn paar goed met ʼn rustiger aanslag hê,” verduidelik sy.

Sy vertel sy toets al haar inhoud op Braam en sy vierjarige sussie, Miana. “Ek is so ingestel daarop dat dit ouderdomsgepas moet wees. ʼn Mens moet so versigtig wees waaraan jou kinders op skerms blootgestel word. Ek het baie huiswerk gedoen oor opvoedkundige aspekte en die inhoud het baie opvoedkundige waarde,” sê sy.

Kleuterskole wat meer inligting wil hê oor hoe om betrokke te raak by Tjominis, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Hou die webwerf dop vir meer inligting.

Corona & die Tjominis (vir die kleinspan)

Die eerste van baie Afrikaanse opvoedkundige vermaak vir die kleinspan van my nuwe reeks "Die Tjominis". Besoek die web www.tjominis.co.za & sluit aan by die Tjomini Klub waar ons die kleinspan speel-speel & sing-sing gaan leer

Posted by Sorina aka Flooze Fan Page on Thursday, June 11, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.