Sorina woeker met opvoedkundige app vir die kleinspan

Sorina Erasmus en die Tjominis. (Foto: Verskaf)

As vermaaklikheidster en ma van twee jong spruite weet die sangeres en aktrise Sorina Erasmus (ook bekend as Die Flooze) hoe belangrik opvoedkundige programme van gehalte vir kinders – veral in ʼn kind se moedertaal – is.

Daarom het sy onlangs die splinternuwe opvoedkundige reeks vir die jongspan genaamd Tjominis bekend gestel en sedertdien gaan dié vier unieke karaktertjies, Bushaka, Apertjoe, Cheeka-Cheeka en Krokkija, en hulle sogenaamde Tjomamma van krag tot krag.

Nie net is ʼn splinternuwe aanlyn platform verlede jaar bekend gestel nie, maar daar is nou ook ʼn Tjominis-app asook ʼn CD en ʼn DVD beskikbaar.

Die Covid-19-pandemie het ʼn groot uitwerking op hulle gesin óók gehad, vertel Sorina. As kunstenaar kon sy nie haar brood en botter op die verhoog verdien nie en haar man, Braam Riekert, moes as entrepreneur verskeie sakegeleenthede noodgedwonge deur sy vingers laat glip.

Tog het dit haar ook die geleentheid gebied om gehaltetyd saam met haar kinders, Braam (6) en Miana (4), deur te bring, al moes sy elke nou en dan wegglip om aan die Tjominis-app te werk.

Sorina Erasmus. (Foto: Verskaf)

“Braambossie vra my darem nog om saam met hom met sy blokkies en karretjies te speel en dan gee ek toe. Ek laat staan my werk vir ʼn paar uur, want ek besef die dae dat hy graag saam met sy mamma op die mat wil sit en speel, is in ʼn oogwink verby.”

Sy probeer haar kinders ook daagliks daaraan herinner dat dit belangrik is om hulle kleintyd soveel moontlik te geniet.

“Braambossie vra my gereeld of ek vir hom ʼn selfoon kan koop. Dan sê ek vir hom dit is grootmensdinge daardie. Hy kan eendag wanneer hy groot is vir homself vier selfone koop as hy wil, maar nou moet hy buite gaan speel met sy voete in die modder. Dit is ons as ouers se verantwoordelikheid om ons kinders se kindwees behoue te laat bly.”

Sy gee toe dat nie altyd maklik is om haarself van die wêreld af te sny nie. “Dit is moeilik as jy weet daar lê werk op jou lessenaar wat gedoen moet word, maar die hartseer werklikheid is dat my kinders se kleintyd nie vir altyd gaan hou nie en dit is my motivering om doelbewus tyd aan hulle af te staan.”

Haar raad aan ander ouers is om net te doen wat hulle kan. “Moenie te hard op jouself wees nie. Ons as ouers is so hard op onsself en as mammas voel ons altyd skuldig. Ons moet egter onsself en ons kinders daaraan herinner dat ons ook foute maak en dat dit oukei is.”

Sy vertel sy toets al haar Tjominis-inhoud op Braam en Miana. “Ek is so ingestel daarop dat dit ouderdomgepas moet wees. ʼn Mens moet so versigtig wees waaraan jou kinders op skerms blootgestel word. Ek het baie huiswerk gedoen oor opvoedkundige aspekte en die inhoud het baie opvoedkundige waarde.”

Die Tjominis-platform bestaan tans uit nege opvoedkundige afdelings vir kinders tussen nul en sewe jaar oud. Hierdie afdelings sluit in “Tjomini Tunes” met stories en liedjies, “Dieremaniere” oor diere en hulle dinge, “Bid Buddies” wat gewyde oudio-dagstukkies behels, “Plesier en avontuur” waar gebak en brou en in die modder gespeel word, asook “Wonderwêreldwiel”, waar lande en plekke oor die wêreld verken word. Daar is ook ʼn aparte afdeling vir kleuterskole, “Tjomini Skool”, met inhoud wat spesifiek op kleuterskole gerig is.

Ouers kan op die platform registreer en nuwe inhoud word maandeliks verskaf.

Sy begin ook weer eersdaags skiet aan die tweede seisoen van die SABC2-vasvrareeks Fundis, waarvan sy die aanbieder is. “Dit is ʼn wonderlike vooruitsig vir die jaar,” sê sy.

ʼn Nuwejaarsboodskap van Sorina:

“Mag jou liggie skyn, al is dit ook hoe klein. Mag die hoop in jou hart nie wanhopig word nie, maak nie saak hoe deurmekaar dinge dalk lyk nie. Mag ons onthou dat God se liefde, wat jou sal omvou en nóóit sal laat gaan nie, die enigste ding is wat wél seker is in ʼn onsekere tyd.”

Besoek die Tjominis-webwerf hier of laai die app hier af.

Wen: Vyf gelukkige lesers kan elk ʼn geskenkpak met ʼn Tjominis-CD en -DVD wen. Die kompetisie sluit Vrydag 15 Januarie om middernag.

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal lukraak uit die inskrywings gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Slegs vyf wenners word aangewys wat elkeen ʼn geskenkpak met ʼn Tjominis-CD en -DVD ontvang.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die prys kan ook nie vir enige ander geleentheid omgeruil word nie.
  • Die prys bestaan uit een geskenkpak met ʼn Tjominis-CD en -DVD.
  • Die pakkies sal per koerier direk by die fisieke adres wat deur die wenner verskaf is, afgelewer word. Maroela Media aanvaar geen aanspreeklikheid vir pakkies wat nie afgelewer word nie.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekend gemaak word.
  • Lees ons privaatheidsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.