Sorteer só die huiswerkgoggas uit

Kind_huiswerk.jpg

Foto: kidspot.com.au

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Jou kind se voete sleep. Jy sukkel soggens om hom betyds uit die bed te kry en julle baklei heelaand oor die spul huiswerk wat gedoen moet word. Sy frustrasie is amper tasbaar, jou geduld is op, en om hom sover te kry om op sy skoolwerk te fokus, blyk amper onmoontlik te wees.

Gelukkig beteken die lente vir baie kinders ’n nuwe lus vir die lewe en onblusbare energie. Ander kort ’n bietjie meer ondersteuning om gemotiveerd te voel – veral wat hul skoolwerk betref. Hoe gemaak as jou kind een van laasgenoemde is?

Laat hom speel!

As jou kind ná skool niks wil weet van huiswerk doen nie, laat hom toe om buite te speel, fiets te ry of bietjie te gaan stap (as hy oud genoeg is). Die oefening en vars lug kan nie skade doen nie.

Wissel sy werksomgewing af

As jou kind gewoonlik sy huiswerk by ’n lessenaar in sy kamer doen, laat hom by die eetkamertafel of selfs buite sit. Jy sal verbaas wees wat dit vir sy gemoed – en sy motiveringsvlakke – kan doen.

Gee vir hom die regte gereedskap

Maak seker dat jou kind die nodige materiaal en hulpbronne het om sy huiswerk te voltooi  en maak die werk so prettig moontlik – fokus meer op genot as op prestasie. Dit kan sy belangstelling in skoolwerk ’n hupstoot gee.

Lê klem op sy sterkpunte

Herinner jou kind gereeld aan die dinge wat hy goed kan doen en aan dit wat hy geniet. (Hy het heel moontlik belangstelling verloor in daardie aktiwiteite omdat hy ongemotiveerd voel.) Wanneer hy sy skoolwerk aanpak, moedig hom aan om sy bes te lewer en loof die poging wat hy aanwend, eerder as die uitslag daarvan.

Wat jy nié moet doen nie

  • Moenie hom toelaat om sommer van die skool af weg te bly nie – ’n gebrek aan belangstelling is nie ’n geldige rede om afwesig te wees nie.
  • Moet nooit jou kind met geld of duur items “omkoop” om sy skoolwerk te voltooi nie. Dis gewoonlik korttermynmotiveerders en kan daartoe lei dat jou kind dinge om die verkeerde redes doen en nie verantwoordelikheid aanvaar nie.
  • Moenie aanhoudend neul nie – bied jou tyd en ondersteuning, die nodige hulpbronne en ’n positiewe leeromgewing, en los hom dan om sy werk te doen.
  • Moet nooit jou kind met ander vergelyk nie.

Al gaan dit moeilik, wees ondersteunend en bemoedigend, nie krities en beherend nie. Onthou ook, die meeste van ons smag na een ding – erkenning. Al aansporing wat jou kind nodig het om die laaste paar maande van die skooljaar met geesdrif aan te pak, is dalk ’n goue sterretjie of drie (vir jonger outjies), of ’n paar opregte woorde van waardering.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.