Sowat 5 000 spelertjies by Bulletjiedag verwag

Tygerberg Laerskool se bulletjies van 2015 is nou al BULLE! Hier is hulle saam met hulle afrigter, Phillip Earle. (Foto: Leonie Bezuidenhout)

Dis Saterdag weer tyd vir trotse ma’s, en ook vir vele pa’s wat reeds glo hulle bulletjies sal eendag die Bloutrui en ook die groen-en-goud dra, wanneer die 24ste Bulletjiedag op Loftus plaasvind.

By die 5 000 kannetjies tussen vyf en agt jaar oud sal in die sowat 170 onder 6- en 220 onder 8-spanne deelneem op die kleiner veldjies wat vir hulle uitgemerk word en waar têkkel en ander kontak taboe is. Elke speler dra ʼn lint aan elke kant van sy broek in die gordel,  moet binne drie sekondes of drie meter uitgee as sy lint gegryp word en dit vervang voordat hy weer aan die spel kan deelneem.

Vanjaar se Bulletjiedag, glo die organiseerders, sal groter wees as verlede jaar se rekord van 173 onder 6-spanne en 218 onder 8-spanne.

Daar sal ook ʼn gebied vir kinders wees waar spelertjies, boeties en sussies en sommer net maatjies op springkastele kan baljaar en ook hokkies waar hulle hul hare en gesigte met allerhande kleure kan laat verf.

Soos altyd sal die Blou Bulle en Bulls se gelukbringer, Bulletjie, weer daar wees en vanaf 12:00 sal die bekende Bulls Babes ook hulle passies ten toon stel. Rea le Roux, choreograaf van die lyndans, sal saam met Bulletjie die lyndans aanbied.

Daar is verskeie plekke rondom Loftus waar motors geparkeer kan word:
Pretoria Girls High – R50/voertuig
Pretoria-Oos-kerk – R50/voertuig
Universiteit van Pretoria – R100/voertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.