Speel en praat jou kind slim

ma-en-kind-speel

Foto: Dreamstime.com

Hallo, Susan

 My seuntjie is nou amper twee jaar oud, maar ek bekommer my reeds oor sy toekoms. Watter ouderdom is die beste tyd om hom na ’n kleuterskool te stuur? Hoe kies ek my kind se kleuterskool en uiteindelik sy skool? Ook, wat is die verskil tussen die kurrikulum wat tydens die grondslagfase in ’n privaat skool en ’n staatskool aangebied word?

Claudia

Goeiedag, Claudia

Vrae soos hierdie word gewoonlik gevra deur besorgde ouers wat graag die beste opvoedkundige keuses vir hul kinders wil maak. Dit is moeilike vrae waarop daar geen definitiewe antwoorde is nie, want daar is meer om te oorweeg as ouderdom, skool en kurrikulum. Daar is ook die onderwyser se vermoë – ’n fantastiese grondslagfase-kurrikulum, in die hande van ’n swak onderwyser, sal swak resultate lewer, terwyl ’n goeie onderwyser wondere sal verrig met baie min.

Wat belangriker is as skool en kurrikulum, is die rol wat ouers speel in hulle kind se ontwikkeling. Wat veral belangrik is, is dat ouers seker maak dat hulle kind of kinders skoolgereed is. Skoolgereedheid is die maatstaf waarvolgens ons bepaal in watter mate ’n kind verstandelik, motories, sosiaal en emosioneel daarop voorbereid is om ’n sukses van sy skoolloopbaan te maak. ’n Kind kan as skoolgereed beskou word wanneer hy voldoen aan die eise wat die skool stel, of, om meer spesifiek te wees, wanneer hy fisiek, perseptueel, sosiaal, emosioneel en akademies sonder stres met die eise van die skool kan byhou.

Die belangrikheid van die ouers se rol in hulle kinders se skoolprestasies is al deur menige studies bevestig. ’n Studie in die Review of Economics and Statistics wys daarop dat die insette van ouers, deur byvoorbeeld stories hardop te lees en oueraande by te woon, ’n groter invloed op hulle kinders se opvoedkundige prestasies het as die insette van onderwysers of dié van die leerders self.

Navorsing bewys ook dat jy nie duur opvoedkundige speelgoed of digitale toestelle vir jou kind hoef te koop om hom op te skerp nie. Jy het ook nie nodig om jou kinders gedurig rond te ry na selfverrykingsklasse nie. Jy kan baie eenvoudiger dinge met jou kind doen om hom skoolgereed te maak.

Praat met jou kind

Taalvaardigheid is ’n belangrike bepaler van leesvaardigheid. Dis dus van die uiterste belang dat jy alles uithaal om seker te maak jou kind kry soveel geleenthede moontlik om taalvaardig te word, veral omdat kinders voor hul sewende verjaardag ’n fenomenale vermoë het om taal te leer. Van agt jaar oud af is jou kind se vermoë om taal te leer gelyk aan dié van ’n volwassene. Benut dus hierdie kort tydperk ten volle.

Praat met jou baba, peuter en later kleuter net waar en wanneer jy kan. Dit bou sy woordeskat wanneer jy hom vertel wat jy doen, terwyl jy dit doen. Praat byvoorbeeld oor huis skoonmaak, kos kook en die roete waarlangs julle ry. Hier is voorbeelde van sinsnedes wat jy in die supermark kan gebruik:

  • “Kyk, hierdie appels is rooi, maar daardie appels is groen.”
  • “Hierdie bessies word bloubessies genoem. Wil jy vandag daarvan hê?”
  • “Vertel my van die nartjies. Wat sien jy, ruik jy, hoe voel dit?”
  • “Hoeveel woorde het ons om ’n piesang te beskryf? Kom ons tel.”
  • “Ek hou baie van die reuk van lemoene; dis so vars.”

Dit is ook belangrik om elke dag tyd in te ruim vir stories lees en vertel. Dis van kardinale belang om ’n maand lank een storie oor en oor te lees voor julle met ’n nuwe storie – ’n bietjie meer gevorderd – begin. Lees dan die nuwe storie ook vir ’n maand of selfs twee.

Taal word aangeleer deur genoegsame herhaling van woorde, frases en sinskonstruksies. Moenie vergeet om vir jou kind kleuterversies te leer nie. Navorsing het bewys dat kennis van rympies by driejariges ’n beduidende voorspeller vir latere leesvaardighede is, selfs as ons hul IK en die ma se opvoedkundige vlak buite rekening laat.

Hulp vir kognitiewe ontwikkeling

Kognitiewe vaardighede betrokke by lees, spel, skryf, wiskunde en leer kan opgedeel word in vier hoofboustene: konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke. Die eerste drie moet reeds voorskools tot ’n hoë vlak ontwikkel word.

Navorsing het bewys dat kognitiewe vaardighede ’n bepalende faktor van iemand se leervermoë is; dis dié vaardighede wat goeie leerders en middelmatige leerders van mekaar skei. Wanneer kognitiewe vaardighede sterk is, word leer vinnig en maklik. Wanneer dit swak is, word leer ’n worstelstryd.

KONSENTRASIE

Aandag, of konsentrasie, speel ’n kritiek belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Verwag van babadae af dat jou kind vir kort rukkies op iets moet konsentreer en rek die tye geleidelik. Jou baba het ’n aandagspan van net twee sekondes, maar teen ses jaar moet jou kind minstens 20 minute lank kan konsentreer.

  • Laat jou kind ouderdomstoepaslike legkaarte bou. Dit moenie te moeilik wees nie. As sy aandag begin dwaal, moedig hom aan om ’n bietjie langer aan te hou.
  • Lees stories en maak dit geleidelik langer.
  • Laat jou kind gereeld buite speel. Studies wys dat kinders wat baie buitespeeltyd het, beter kan konsentreer as huisgebonde kinders.

PERSEPSIE

Jou kind word gebore met die vermoë om te sien en te hoor, maar nie met die vermoë om dit wat hy sien of hoor te interpreteer nie. Ons moet deur ervaring leer hoe om te interpreteer, soos byvoorbeeld die verskil tussen voorgrond en agtergrond, kleure, vorms, groottes en posisie in die ruimte.

Posisie in die ruimte is die mens se vermoë om ’n voorwerp se posisie relatief tot die self en die rigting waarin dit gedraai is, te interpreteer: op, af, voor, agter, links en regs.

’n Kind met posisie-in-die-ruimte-probleme vind dit moeilik om voorwerpe in verhouding tot homself te bepaal, soos byvoorbeeld “aan my regterkant”, “aan my linkerkant”, “agter my” en “voor my”. So ’n kind sukkel dan met opdragte soos “skryf jou naam regs boaan die bladsy” en “trek ’n streep onder die opskrif”. Hy mag ook letters soos b en d met mekaar verwar, nommers 17 en 71 omruil, of sal dalk regs na links skryf sodat die letters lyk soos gewone skrif wanneer dit in ’n spieël gesien word.

Die geheim is om die rigtings links en regs, op en af, en bo en onder in te oefen totdat dit geoutomatiseer is, en vaslegging moet liefs voor skool gebeur.

  • Leer jou kind van kleins af om sy liggaamsdele te benoem: linkerhand en regterhand, linkervoet en regtervoet.
  • Oefen links en regs. Dit duur verskriklik lank om te internaliseer. Jy kan dit nie net een of twee keer sê nie – dit moet elke dag oor en oor herhaal word.
  • Speel speletjies met begrippe soos op, bo, links, regs, binne-in: “Sit die bal in die boks, gaan staan langs die boks.”

Claudia, ons gesels volgende week verder oor die ontwikkeling van geheue, logiese denke, wiskundige vaardighede, emosionele en sosiale vaardighede, sowel as die versterking van jou kind se groot en klein spiere.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gerekende skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suider-Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

neelsie ·

Susan,
Wat n sinvolle bydrae.
Dankie vir die rubrieke.
Kry ons kinders gereed vir die lewe en hulle saL uitstyg bo die gemiddeld.
Ouers en grootouers se verantwoordelikheid.

Janita ·

Ek stem 120% saam. Gebruik bietjie inisiatief in en rondom jou huis. Jy sal verbaas wees hoe opgewonde jy dan kan saamspeel. Dit neem nie n halwe dag nie maar betrek hom/haar met dinge gaan haal,hoeveel,waar,waarin, proe,voel ens. Hy/sy sal baie trots wees op homself om deel daarvan te wees. Dit geld ook vir die pa’s bv.name van gereedskap,waar dit gebere word,op watter plek selfs name in n suiwer taal. Hulle breine is soos spons en kan geweldig baie inneem. Vra raad by die regte opvoedkundiges en beproef dit! Lekker speel!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.