Spesiale leerbehoeftes? Dalk is tuisonderrig die antwoord

ouerskap-en-rolmodelle

Foto: Playbuzz.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Volgens Human Rights Watch woon meer as ʼn halfmiljoen kinders met gestremdhede in Suid-Afrika nie skool by nie. Een van die hoofredes daarvoor is dat daar minder as 500 staatskole is wat toegerus is om na dié kinders se behoeftes om te sien. Dit is dus geen verrassing dat ouers toenemend die rol van “onderwyser” begin speel nie.

Hoewel daar ʼn kritiese tekort aan geskikte skole is, kies ouers ook die tuisonderrigpad om verskeie ander redes omdat hul kind dalk terapie nodig het wat nie altyd rondom skoolure gereël kan word nie, hy deur ander leerders (en selfs onderwysers) afgeknou word, of omdat hulle bloot ʼn meer stimulerende leeromgewing wil skep.

Wat ook al die motivering, elke ouer wat dit oorweeg om ʼn kind tuis te onderrig, worstel met die vraag of hulle dit doeltreffend sal kan doen. Maar wanneer dit kom by kinders met leergestremdhede of spesiale behoeftes, is daar niemand wat daardie kind se unieke behoeftes, sterk punte en swakhede beter verstaan as ʼn ouer nie. Wie dan beter om daardie kind te onderrig?

Die voordele van tuisonderrig vir kinders met spesiale leerbehoeftes sluit in:

  • Gewaarborgde individuele onderrig.
  • Doeltreffende beheer oor die leeromgewing om afleidings te beperk.
  • Die kurrikulum kan volgens die kind se unieke leerbehoeftes aangepas word.
  • Buigbaarheid van daaglikse roetine.
  • Meer relevante leerervarings.
  • Sterker fokus op vaardighede waarmee die kind sukkel.
  • Geleentheid om na die kind se ander behoeftes, soos terapie, om te sien.

Indien jy jou kind tuis wil onderrig, moet jy die volgende oorweeg:

Jou kind se toestand: Leer alles wat jy kan omtrent jou kind se unieke toestand en doen navorsing oor tuisonderrigpraktyke wat vir kinders met soortgelyke toestande werk.

Kies ʼn gepaste kurrikulum: Kies ʼn kurrikulum wat vir jou én jou kind gaan werk. ʼn Goeie kurrikulum sal die nodige leiding en ondersteuning bied wat jy as ouer nodig het om jou kind tuis te onderrig.

Reik uit na ander: Onthou, jy is nie die eerste mens wat tuisonderrig aanpak nie! Daar is reeds ʼn rykdom inligting daarbuite. Soek aanlyn, vra jou kurrikulumverskaffer, gesels met ander tuisonderrigouers en praat met die kenners wat met jou kind werk.

Tuisonderrig is nie noodwendig reg vir elke gesin nie, maar vir ouers van kinders met spesiale leerbehoeftes is dit dikwels die beste uitweg omdat hoofstroomskole nie aan hul behoeftes voldoen nie. Boonop bied dit aan ouers die geleentheid om ʼn ongelooflike leeravontuur saam met hul kind aan te pak.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.