‘Spreek lewe’ – ’n boodskap van inspirasie vir die jongmense

boelie-desperaat-hartseer-depressie

(Foto: Anemone123/Pixabay)

As daar ooit ʼn tyd was vir my en jou om lewe oor ons kinders uit te spreek, dan is dit nou.

Só sê Robert Pollard, ʼn pastoor van Walking on Water (WOW) Ministries en Lewende Woord Westerlig, wat met die jeug werk in sy bediening. Hy verskaf ook pastorale ondersteuning aan die Meta-sentrum in Mountain View, Pretoria.

Pollard het aan Maroela Media gesê Suid-Afrika se jongmense trek swaarder as wat die meeste mense besef onder die afsonderingsmaatreëls vir die Covid-19-bekamping. Hy reken dit is veral die matrikulante wat in elk geval gewoonlik bekommerd is oor hul toekoms, wat in hierdie tyd selfs nog groter onsekerheid ervaar.

Organisasies soos Unicef en verskeie geestesgesondheidkenners het vroeër ook reeds hul kommer oor die kwesbaarheid van die tieners in inperking uitgespreek. Kinders wat nie kan skoolgaan nie, voel nog meer geïsoleerd, en kan selfs in die uiterste gevalle hongerte en mishandeling in die gesig staar.

Pollard meen isolasie en gebrek aan sosiale interaksie maak kinders wanhopig. Verder het jongmense nie altyd die vermoë om die nuus en sosialemediaplasings wat hulle sien te verwerk of te verstaan nie.

Nog ʼn groep, die 12- tot 13-jariges, Pollard noem hulle die “aliens”, kan ook nou meer sukkel met die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie meebring omdat hulle reeds in ʼn moeilike ontwikkelingstadium tussen kind en tiener staan.

“Ons as volwassenes moet versigtig wees dat ons nie ons vrese oor ons kinders uitspreek nie. Terselfdertyd moet ons ook versigtig wees om nie ons kinders se bekommernis as onbenullig af te maak nie.”

Robert Pollard het met Maroela Media gesels oor kinders se gemoedstoestand tydens die Covid-19-pandemie. Hy het raad oor hoe ouers en onderwysers hulle kan ondersteun. (Foto: Verskaf.)

Om weer saam te bid

Hy meen die belangrikste ding wat volwassenes nou vir kinders kan doen met die pandemie, is om vir hulle te bid.

“Ons moet weer ʼn gebedskultuur in ons huise vestig. Kinders het al telkemale vir my gesê niemand het nog vir hulle gebid nie en as ek vir hulle bid, vertel hulle hoe rustig, goed en vol vrede dit hulle laat voel. Dit is die krag en uitwerking van gebed.

“Wanneer mense nie die lig aan die einde van die tonnel kan sien nie, moet ons by kinders ʼn bewustheid help skep dat daar steeds Iemand is wat ons gebede verhoor, wat ons lief het en wat ons altyd kan help.”

Hy meen dit help ʼn kind om hulle fokus van die probleem na ʼn oplossing te verskuif.

Aan die jongmense wat onseker is oor die dag van die môre het hy ʼn eenvoudige boodskap.

“Ons as grootmense het ongelukkig ook nie al die regte antwoorde vir dit wat tans gebeur nie, dit is nuwe, onbekende terrein vir ons almal, maar die Here het ʼn manier om ons vrede te gee en te lei elke dag – dit het ek ook al in my eie lewe gesien.

“Onthou ʼn verhouding met die Here is een van die kosbaarste dinge wat ʼn mens kan hê. Dit beteken nie dat jy nooit gaan storms beleef nie, maar dit gee jou vrede te midde van storms.”

Pollard sê jongmense wat ʼn benoudheid oor die toekoms voel, kan hulle Bybels by Psalms en Spreuke oopmaak.

“As jy elke dag ʼn Psalm of Spreuke lees, gaan jy sien hoe die Here jou soveel kom bemoedig, vertroos en kalmte gee.”

Hy moedig jongmense verder aan om iemand te kry wat bereid sal wees om na hulle te luister. “Moenie probeer om jou bekommernis oor die toekoms alleen te hanteer nie, moenie jouself isoleer en hopeloos voel nie. Daar is steeds onderwysers en pastore wat bereid is om te luister.

“Onthou die Here het ʼn plan vir jou lewe.”

  • Enige iemand wat raad of hulp nodig het, kan die Meta-sentrum kontak by 012 065 0118 of die ’n e-pos stuur aan [email protected]. Die sentrum kan jong mense help met leerprobleme, arbeidsterapie en berading, asook pastorale dienste. Pollard kan by 083 234 9232 gekontak word.
  • Robert Pollard, ʼn pastoor wat dienste aan die Meta-sentrum bied, het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor hoe hy die gemoedstoestand van jongmense in die Covid-19-pandemie ervaar. Hy het ook raad vir ouers en onderwysers oor hoe om jongmense in hierdie tyd te ondersteun. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.