Staat dra al minder tot onderwys by, maar wil al meer voorskryf

Melanie-Buys-onderwysberaad

Melanie Buys, een van die sprekers tydens die Solidariteit Beweging se toekomsberaad in 2016 oor Afrikaanse onderwys: Foto: Reint Dykema/Solidariteit Facebook.

Deur Melanie Buys

Om onderwys van wêreldgehalte te bied moet ons by die wêreld se bestes gaan leer

Die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Skolewet is heel gepas op Vrydag die dertiende gepubliseer. Wysigings aan die Skolewet sal neerkom op nasionalisering van skole. Dit sal openbare skole in Suid-Afrika omskep in staatskole waarin amptenare finale sê het oor alle sake van belang.

ʼn Mens kry die indruk dat top-presterende Afrikaanse skole die regering meer grief as wat onderpresterende skole hulle pla. Afrikaanse skole se goeie onderwys, gesonde dissipline en netjiese fasiliteite was nog altyd ʼn doring in die ANC-regering se vlees, ten spyte van die feit dat hierdie skole minimale ondersteuning van die staat ontvang. Skole se munisipale rekeninge is dikwels meer as die totale staatsubsidie wat hulle ontvang! Volgens ’n studie wat Fedsas in 2014 gedoen het, bestee die gemiddelde skoolgeld betalende hoërskool 5% van hul inkomste op munisipale dienste, terwyl die staatsubsidie van hierdie skole slegs 3,6% van hul totale begroting is.

Die demokratiese Skolewet van 1996 gee aan skoolgemeenskappe die mag om te besluit oor hul skole se wel en wee, maar veroorsaak groot frustrasie vir outokratiese amptenare soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, wat ten alle koste hul doelwitte van radikale sosio-ekonomiese transformasie in skole wil deurvoer. Daarom wil die staat openbare skole kaap en ouers hul demokratiese reg tot inspraak ontneem.

Die Skolewet plaas egter steeds ewe gerieflik die plig op beheerliggame om “alle redelike maatreëls binne hul vermoë te tref om die hulpbronne deur die Staat voorsien aan te vul ten einde gehalte van onderwys te verhoog”. In Suid-Afrika dra die staat dus al minder tot onderwys by, maar wil al meer voorskryf en beheer.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Foto: ANA/Jonisayi Maromo

Waar lê die probleem?

Voorgestelde veranderings aan wetgewing gee aan amptenare in die onderwysdepartement se hoofkantoor mag om alleen oor aanstellings en bevorderings te besluit, sonder om skoolbeheerliggame in die saak te ken. Uitsluiting van beheerliggame uit die aanstellingsproses van skoolhoofde was presies die oorsaak waarom ouers van Roodepoort Primary, Hoërskool Kakamas en Klipspruit West High in opstand gekom het en onderrig by hierdie skole vir weke ontwrig is. Aanstellings deur staatsamptenare wat niks van die skool en skoolgemeenskap weet nie, sal tot gevolg hê dat alle skole verswak, gemeenskappe se goedgesindheid verloor word, en dat skole nog moeiliker van onderpresterende onderwysers ontslae kan raak.

Wetswysigings maak die deur oop vir die onderwysdepartement om funksionele skole te dwing om enige hoeveelheid leerders, en leerders van enige taalvoorkeur in te neem, tot op ʼn punt dat suksesvolle skole ook nie meer gehalte onderrig kan bied nie – ongeag die ywer van die onderwysers en bydraes van ouers om meer klasse te bou en nog personeel aan te stel!

Wysigings verplig skole om kwartaalliks, sowel as jaarliks, in die grootste detail verslag te doen oor hul huishoudelike finansies. Die LUR se toestemming moet verkry word vir uitgawes, huurooreenkomste, en vervreemding van bates, ongeag of dit met die staat se karige subsidie of met ouers of skenkers se geld gedoen word. Daar word boonop verwag dat onderwysers op versoek hul eie – en hul lewensmaat – se persoonlike finansies aan die departement moet verklaar.

Hierdie sentralisering van mag en toenemende voorskriftelikheid van die staat raak ook private skole en selfs tuisonderrig. Private skole sal aansienlik meer voorskrifte moet gehoorsaam voordat hulle kwalifiseer vir (baie beperkte, onvoorspelbare) staatsubsidie, terwyl die uitgerekte, onlogiese, duur proses vir registrasie van private skole glad nie aandag kry nie. Selfs tuisskool-ouers sal volgens die voorgestelde wetswysigings aan moeiliker registrasievereistes moet voldoen om wettig hulle eie kinders se eie onderwys te behartig. Om sake te vererger word die straf om ’n skoolpligtige kind “onwettig” van skoolbywoning te weerhou, verhoog van ses maande na ses jaar!

Onderwys__2

Argieffoto.

Die gemeenskap se rol in goeie onderwys

In beginsel trek die wysigingswet ’n streep deur gemeenskappe se betrokkenheid en beperk ouers se inspraak in die onderrig van hulle kinders. Die wysigingswet druk ’n outokratiese en voorskriftelike model van staatskole op ons af, waar staatsamptenare skole voorskryf en beheer.

Soveel as 20% van skole in Suid-Afrika is uitnemend, natuurlik danksy roepingsgedrewe onderwysers en goeie bestuur, maar ook as gevolg van betrokke ouers. Afrikaanse skole word deur ouerbetrokkenheid gekenmerk: gemeenskapsleiers is lede van skoolbeheerliggame, ouers help geld insamel, plant gras, bou sportvelde, dra ekstra by. Sonder skoolgemeenskappe wat omgee en help waar hulle kan, is dit onmoontlik vir skole om te presteer.

Selfs in die “deep rural” platteland, waar heelwat skole disfunksioneel is, is skole suksesvol waar gemeenskappe hul skole koester en beskerm. Sprekende voorbeelde is hiervan is die Thengwe en Mbilwi Secondary School in Limpopo, wat jaar vir jaar die lys van 20 top-skole haal met hul uitstekende matriekuitslae in wiskunde en fisiese wetenskap.

Skoolgemeenskappe aanvaar eienaarskap vir skole omdat ouers inspraak het in die onderrig van hulle kinders deur verteenwoordiging op skoolbeheerliggame. Ouers aanvaar ook die verantwoordelikheid om hul skool se bronne aan te vul, want die Skolewet beskerm skole se reg om hul eie bates te bestuur tot voordeel van hul kinders. Sentraliseringsmagte sal wel bydra om skole “radikaal te transformeer”, sodat alle openbare skole Engels word en alle personeel en leerders verteenwoordigend van die land se rasse-samestelling is. Dit gaan egter terselfdertyd ’n einde maak aan moedertaalonderrig en vrywillige hulp en bydraes van ouers wat tot dusver gehalte onderwys in alle goeie openbare skole verseker het.

Minister Angie Motshekga tydens die bekendmaking van die 2013 matriekslaagsyfer. Foto: GCIs/SAPA

Onderwys van wêreldgehalte

Groter selfstandigheid op skoolvlak vorm wêreldwyd deel van suksesvolle onderwysstelsels. Skole se prestasie verhoog betekenisvol wanneer hulle vryheid het om self te besluit oor aanstellings, kontrakte, die akademiese program en toewysing van bronne.

In disfunksionele onderwysstelsels bestaan die vrees soms dat privatisering staatsbeheer sal beperk en dat leerders na gehalte skole sal stroom, sodat swak staatskole onderbenut agterbly. Dit lei tot politieke inmenging in skole en pogings tot sentralisering van ʼn oneffektiewe openbare onderwysstelsel, soos met die voorgestelde wysigingswet die geval is.

As die Suid-Afrikaanse regering eerlik poog om ons onderwysstelsel te verbeter, is dit nodig dat hulle kers opsteek by die wêreld se bestes. Suksesvolle onderwysstelsels wêreldwyd wentel toenemend meer magte en verantwoordelikhede af na skole. In lande waar onderwys floreer word openbare skole sover moontlik deur die staat befonds, maar grootliks selfstandig bedryf, binne ʼn vasgestelde raamwerk vir aanspreeklikheid. Selfs in arm lande waar staatshulp beperk is, speel gemeenskappe ʼn groot rol in voorsiening van onderwys. Vennootskappe tussen skole en sakeondernemings, “social franchises”, geloofsorganisasies en plaaslike gemeenskappe dra by tot gehalte onderwys in verskeie Afrika lande.

Foto: Shlomaster/Pixabay.com

Wat kan ons doen?

Die krisis van die groot aantal disfunksionele skole in Suid-Afrika spruit uit dekades se swak bestuur deur onderwysowerhede. Dit kan nie deur sentralisering van mag reggestel word nie. Die krag en ondersteuning van skool gemeenskappe is juis een van die sterkpunte in ons onderwysstelsel, waarop gebou moet word. Daar moet egter op ʼn nuwe manier voortgebou word op die tradisie van ouers se betrokkenheid, ywer en vrygewigheid.

  • Ouergemeenskappe moet steeds alles in hul vermoë doen om skole se hulpbronne aan te vul om gehalte onderwys te verseker. Nuwe planne moet egter bedink word om gemeenskapsfondse steeds tot voordeel van skole aan te wend, maar onafhanklik van die skool se rekening te bestuur. Deur gebruik van onafhanklike ouerverenigings en trusts kan geld steeds in belang van die skool ingesamel word, maar diskresie oor die aanwending van hierdie fondse bly by die gemeenskap en word nie die besluit van ’n staatsamptenaar nie.
  • Die handhawing en versterking van moedertaalonderwys in openbare skole is baie belangrik. Afrikaanse gemeenskappe moet nie naïef wees om Afrikaanse openbare skole as ’n gegewe te aanvaar nie. Daar moet ook gewerk word aan planne vir die oprigting en finansiering van Afrikaanse private skole, wanneer dit strategies nodig word.
  • Goeie onderwysers moet seker maak hulle is onmisbaar en hul werk word beskerm. Word deel van ʼn vakvereniging wat sorg vir onderwysers se professionele ontwikkeling, byvoorbeeld die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde Onderwysers, Afrikaanse Grondslagfase Vereniging of GeRAT – vir Afrikaanse taal onderwysers. Ondersteun ook Solidariteit en Fedsas se veldtogte teen die wysigingswet.
  • Provinsiale onderwysdepartemente sloer tans om vakante poste by skole te vul. Skoolbeheerliggame, vakbonde en beheerliggaamorganisasies moet druk plaas op provinsiale onderwysdepartemente om te verseker dat vakante poste gevul is teen Desember 2017.
  • Vergewis jouself van die feite. Vind uit wat die voorgestelde wysigings aan die Onderwyswet beteken en laat jou stem hoor as deel van die #VIRskole-veldtog – of jy ’n ouer, onderwyser of bekommerde lid van die gemeenskap is.

Vir die slegte om te oorwin moet genoeg goeie mense net niks doen dit nie. Gebruik die geleentheid om voor 10 November 2017 jou mening te lug.

  • Melanie Buys is ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum. Sy het onlangs haar meestersgraad in onderwysbestuur voltooi met navorsing oor “Private befondsing van openbare skole in Suid-Afrika”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Alles tevergeefs se die prediker… alles tevergeefs. Ons Bybel is altyd reg in alle tye… ook in Psalm 23.

CAROL ·

Ai tog – hulle betaal so baie geld, studeer 4jr en sit so baie ure in om n onderwyser/onderwyseres te word. Dan moet hul al die werk verniet doen???

Penelope ·

Is dit dan wys vir jou kind om onderwys te gaan studeer? Hul harte is so in die beroep, maar wat gaan van hulle word?

Jacques ·

Die regering moet hulle self vra waaroor dit op die einde van die dag gaan , oor hulle platvloers selfbeeld of die beste onderig vir ons kinders wat more se toekoms en leiers is .
Die regering moet by kom , en stop om alles te wil beheer en niks drasties in te sit en n daadwerlike bydrae te maak nie . Almal wil die beste he vir hulle kinders en vir hulle n goeie toekoms verseker , maar nie met die regering van die dag wat so sinneloos optree nie .

Pietman ·

Die begin van die einde. Alles wat werk wil die staat vernietig.

Eish ·

Onwillige akteurs in n onbekende toneel, met n draaiboek wat volksvreemd is.
Sterkte aan die betrokkenes. Sterkte aan my kleinkinders!
Ek bid vir julle.

Otjie Potjie ·

Die blanke Afrikaner het hierdie onhoubare situasie vir homself geskep. Beheerliggame is eintlik maar “werkskeppings agentskappe” vir wit onderwysers wat nie êrens anders regkom nie……..en ja en amen op alles wat die voorsitter sê, solank hulle tog net nie afgedank word nie. Diskriminasie teen kinders van ouers wat met die beheerliggaam se geite verskil, is legio. Die uitbuiting van ouers deur skoolfonds (wat dan op allerhande “ander uitgawes” spandeer word behalwe “kwaliteit onderwysers”) is alledaags en in ELKE skool. Die blanke Afrikaner het homself gevind toe die Engelse probeer het om hulle in Engels te onderrig….net so sal ons nou ook ‘n nuwe tuiste vind vir ons kinders…waar hulle sal presteer. Maak AL die skole staatskole…en laat hulle inplof. My kind sal Matriek skryf by ‘n College…en wat gaan die regering daaraan doen?

Eish ·

Die kollege se leerplanne voorskryf en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.

Bad Prit ·

Hellooooo, kommunisme! Hello? Kan iemand my hoor? Ek se dit al vir 20 jaar maar lyk my mense weet nie wat dit is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.