Staptog help ouers wat babas aan die dood afgestaan het

Argieffoto: Pixabay.com

Wanneer ʼn baba gebore word, wil almal die baba sien, vashou en vertroetel. Daar word gekloek om die ma, kos en geskenke word aangedra en oor die algemeen feesgevier. Dit laat die ouers van die nuwe baba spesiaal en geliefd voel.

Maar wanneer ouers die verlies van ʼn baba ly, hetsy vanweë ʼn miskraam of weens stilgeboorte, of dalk in ʼn latere stadium in die baba se jong lewe, voel hierdie ouers dikwels alleen en kry hulle nie die nodige ondersteuning wat hulle eintlik broodnodig het nie. Dit voel soms vir hierdie ouers dat ʼn hulle bloot met hul lewens moet aangaan, so asof die swangerskap of baba nooit bestaan het nie.

Om die rede het vier organisasies, Mama Nurture, Big Hearts for Tiny Feet, Sonja Smith Begrafnisondernemings en Now I Lay Me Down To Sleep, saamgespan om ʼn stappie van herinnering te reël.

Vanjaar word die tweede Walk of Remembrance by die Avianto-landgoed in Muldersdrift gehou wat ouers nooi om hulle kinders so te onthou en te eer. Die 2,5-km staptog word op 20 Oktober gehou, juis omdat Oktober die maand is waarin Internasionale Swangerskap- en Babaverlies Bewusmakingsmaand gehou word.

Amanda Dean, stigter van Big Hearts for Tiny Feet en organiseerder van die stappie, sê dat dit daarop gemik is om soveel as moontlik mense bymekaar te kry wat ondersteuning en hulp nodig het. “Daar was ʼn behoefte aan iets soos dié, om mense die geleentheid te gee om ook ander mense te ontmoet wat deur dieselfde ding gaan en ʼn ondersteuningsnetwerk te bou,” verduidelik sy.

ʼn Mamma wat die jaar saam gaan stap en in 2016 ʼn stilgebore baba gehad het, sê dat geleenthede soos hierdie vir die ouers ʼn kans gee om tyd uit te kerf en aan die baba te dink. “Dit dwing jou soort van om net weer tyd te gee aan daardie mensie se bestaan, al is hulle nie meer hier nie.

“Jou dag gaan so vinnig en partykeer kom jy agter dat dit weke of maande laas was wat jy nie eens aan daardie mensie gedink het nie. Dan tref dit jou. Of jy sien jou ander kind iets doen en jy wonder hoe sou hulle dit gedoen het. Dit tref jou wanneer jy dit die minste verwag,” sê sy.

Nicci Coertze, ʼn spesialis troosdoula en aanbieder van ʼn troosopleidingskurrikulum, sê enige aksie of samekoms van ouers wat babas verloor het, sal nooit negatief wees nie, want dit eer die baba se bestaan, “maar dit kan nooit die plek van berading of ondersteuningsgroepe inneem nie”.

teddiebeer-01

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Sy verduidelik dat dit belangrik is vir ouers, wat sukkel om te funksioneer na die verlies van hulle baba, om professionele hulp kry. “Dit help ook baie as ouers hulle baba eer en onthou deur ’n boom te plant ter herinnering, ’n stukkie juweliersware te laat maak wat simbolies van hulle baba is, ’n foto of sonarafdruk van hulle baba te raam, ’n spesiale herinneringsbeertjie (memory bear) of enige ander tasbare manier om hulle baba te onthou. Ouers kan ook ’n herinneringsboks (memory box) maak met items wat hulle met die swangerskap of baba verbind as bekragtiging van die feit dat hulle baba wel bestaan het,” sê Coertze.

Dikwels weet familie en vriende wat nog nie dié soort verlies moes verwerk nie, nie hoe om bedroefde ouers te benader nie. “Die ergste seer is wanneer vriende en familie nie die ouers erkenning gee vir die feit dat hulle ’n baba verloor het nie, deur nie oor die baba te praat nie. Of iemand op ses weke of ses maande of met ’n geboorte hulle baba verloor, was dit hulle baba en hulle rou. Respekteer dit deur daardie lewe saam met hulle te eer en te onthou,” stel sy voor.

Sy sê dat naasbestaandes ook sukkel om die regte trooswoorde te kry om te gebruik, of wat hulle fisiek moet doen om vertroosting te bied. Daar is egter baie taboes, sê sy.

Dit word aanbeveel dat met die verlies van ʼn baba tydens of na geboorte ʼn volgende nie vir ouers gesê word nie:

  • Dit was God se wil.
  • Die mooiste blommetjie is gepluk.
  • Jy kan weer swanger raak.
  • God het jou baba nodiger gehad as jy.
  • Het jy dalk iets verkeerd gedoen?

Na ʼn miskraam moet naasbestaandes liefs nie die volgende aan die ouers sê nie:

  • Dit het darem vroeg in jou swangerskap gebeur.
  • Dit was ten minste nie ’n “regte” baba nie so jy kan gou aanbeweeg.
  • Die natuur het oorgeneem – miskien sou die baba misvorm wees of ’n genetiese siekte hê.
  • Vergeet net daarvan en beweeg aan.
  • Wanneer word jy weer swanger?

“Die heel beste raad wat ek as troosdoula vir familie en vriende het, is om iets te sê soos: ‘Ek het nie woorde oor die verlies van (baba se naam) nie, maar ek is hier vir julle en my hart huil saam met julle. Ek bring vanaand vir julle iets om te eet.’ Met daardie eenvoudige sinnetjie erken jy hulle baba, verseker jy die ouers van jou ondersteuning en dra jy prakties by om die ouers te help. Dis die heel minste en die heel meeste wat jy kan doen.”

  • Die stap vind om 10:00 op 20 Oktober by die Avianto-landgoed plaas. Vir meer inligting oor die stap, kan lesers die Walk of Remembrance Facebook-blad besoek.
  • Vir lesers wat met Nicci Coertze in kontak wil tree, kan hulle haar webwerf, www.ncot.co.za besoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.