Steun ’n graadeen, skenk ’n tassie

Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek word oorval met aansoeke en die publiek se hulp word benodig om te verseker dat 4 000 skooltassies met skryfbehoeftes ingesamel word om behoeftige Afrikaanssprekende gr.1’s reg oor die land met hul skoolloopbaan te help.

Margolé Riekert, projekorganiseerder van die Skooltassie-projek, verduidelik die Tassie-projek is nie net daar om gr1.’s aan die begin van die jaar te help nie. Daar moet regdeur die jaar fondse ingesamel word om die behoefte vir skryfbehoeftes aan te spreek, asook om geld vir tassies vir volgende jaar se behoeftige gr.1’s in te samel.

Helpende Hand het dus besluit om die Tiekies vir ’n Tassie-veldtog van stapel te stuur. Vanjaar se veldtog duur tot die einde van Oktober.

“Tiekies vir ’n Tassie werk op die beginsel van ‘Back a Buddy’. Ons doen ’n beroep op die publiek om ons te help om vanjaar 4 000 tassies, teen R250 per tassie, en aanvullende skryfbehoeftes te versprei. Tot dusver het Helpende Hand reeds 2 700 tassies uitgedeel. Ondersteun dus ’n gr.1 en skenk ’n tassie,” sê Riekert.

Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer die volgende in: ʼn boekie met Bybelstories, uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en penne.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, sê die Tassie-projek kos Helpende Hand sowat R1,7 miljoen ’n jaar en die druk is soms groot om die projek te stop en die geld vir iets anders aan te wend.

“Alhoewel die druk bestaan om die projek te staak, gaan dit nie gebeur nie. Ons sal net harder werk om die geld in te samel, want ons weet skoolonderrig is nodig om armoede te verbreek en dit bied die volgende generasie die geleentheid om vorentoe te gaan – toegerus met ʼn skooltas en gewapen met die woord van God,” sê Noëth.

Besoek www.tassie.co.za en dui aan hoeveel tassies jy wil skenk. Soos Helpende Hand skenkings ontvang sal die barometer op dié webtuiste aangepas word.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.