Stimuleer jou baba só by die huis

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Brina Blum/Unsplash)

Babas in hulle eerste lewensjaar is ywerige verkenners van hul leefwêreld, en daarom is dit belangrik dat ouers groei aanmoedig en stimuleer met maklike ontwikkelingsaktiwiteite wat nie veel meer verg as ʼn bietjie tyd en ʼn tikkie liefde nie.

Veral vandag, met algehele afsonderingstydperkte in lande wêreldwyd ingestel om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp, is dit nuttig om te weet hoe om jou baba te stimuleer sonder fieterjasies wat ʼn mens in die winkels moet koop.

“Deur te speel en in voeling te bly met ons babas bevorder hul breinontwikkeling,” sê dr. Roni Cohen Leiderman, dekaan van die Mailman Segal-sentrum vir menslike ontwikkeling aan die Nova Southeastern-universiteit in Florida in die VSA.

Sy is ook die medeskrywer van die boek Let’s Play and Learn Together. “Ons liefde, aandag en aanraking met ons baba is die belangrikste dele van ontwikkelingsaktiwiteite,” sê Leiderman.

Babas tussen die ouderdom van ses tot 12 maande begin rondbeweeg en is daagliks meer bewus van hul omgewing. KidsHealth.org sê die ouers moet babas die kans gun om op ʼn veilige manier hul omgewing te leer ken.

Gee vir jou baba items wat in die huis rondlê, soos eierhouers, om mee te speel. Tydens badtyd kan jou baba ook met plastiekhouers en -bakkies in die water baljaar.

Ander maklike maniere om jou baba te stimuleer is deur objekte in die huis te noem en haar aan te moedig om jou na te maak. Versterk die woorde deur hulle te herhaal en moedig jou kind se taalvaardighede aan deur te wag vir ʼn reaksie as jy met haar gesels.

Laat jou baba ook toe om haarself te voer. Vingervoeding moedig fyn-motoriese vaardighede, hand-oog-koördinasie en onafhanklikheid aan.

Probeer ook om vir jou baba liedjies aan te leer waarin aksies uitgebeeld moet word, soos “Itsy-Bitsy-Spider” of “Pop Goes the Weasel”. Daar is verskeie video’s op YouTube waar die aksies vir dié, en ander kinderliedjies, uitgebeeld word.

Hier is nog ʼn paar maklike ontwikkelingsaktiwiteite vir babas tussen 6 en 12 maande.

  • Versteek babavriendelike, huishoudelike items onder ʼn kombers. Vra jou baba: “Waar is dit?” en moedig haar aan om daarvoor te soek.
  • Leer jou baba hande klap. Hande klap is ʼn goeie manier om motoriese en kognitiewe vaardighede te bevorder.
  • Sing liedjies met woorde wat rym. Of dit bestaande liedjies is of ʼn liedjie wat jy sommer opmaak. Jy sal miskien ʼn bietjie laf voel aan die begin, maar rym is ʼn goeie manier om jou baba se taalvaardighede aan te moedig.
  • Skud-skud. Maak ʼn leë 500 ml-plastiekbottel half vol met droë rys of pasta en gom die proppie weer vas sodat jou baba op ʼn veilige manier kan kyk en luister wat gebeur as hy die bottel skud.

Bronne: KidsHealth.org, Parenting.com

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Ons twee kleinseuns, 14 maande en 8 jaar kuier by ons gedurende die afsonderings tydperk. Gelukkig gee Ouma self skool en sy weet hoe om die soldate besig te hou. Uit my ervaring het ek geleer om ‘n kind nuuskierig te maak met ‘n speletjie of item en dan die res oorlaat aan sy eie verbeelding, dit verskaf ure se genot. In die Laeveld is dit nog warm, so die kinders kan nog swem en die trampolien werk die energie vlakke af. Ouma het ook al gebak en gebrou met die manne ons is die proefkonyne. Baie drukkies en liefde hou die gemoedstoestande hoog en maak die kinders verdraagsaam.
Lief vir die kleinkinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.