Stres en uitbranding by ouers in die tuisonderrigsektor

 tuisskool_ma_moeg_homeschooling-about-com.jpg

Foto:
homeschooling.about.com

[promosie-artikel]

Prof. Rita Niemann  

Tuisonderrig kan baie druk op ’n ouer plaas, wat tot hoë stresvlakke en uitbranding kan lei. Navorsing deur Moore, Lemmer en Van Wyk (2004) het hierdie negatiewe gevolge van tuisonderrig ondersoek. Hulle het bevind dat veral assessering en die prestasie van hul kinders grootliks tot ouers se hoë stresvlakke bydra.

Suid-Afrikaanse wetgewing vereis nie dat ouers oor spesifieke kwalifikasies moet beskik voordat hulle tuisonderrig mag verskaf nie. Gevolglik is ouers nie almal akademies opgewasse om hul kinders in veral die hoër grade en sekere ingewikkelde vakke te begelei nie. Hierdie onsekerhede kan ook verder toeneem wanneer ouers bekommerd raak oor die gehalte van hul gesinslewe en die sosialisering van hul kinders.

Skrywers soos Colfax en Colfax (1988 & 2009), Butler (2000), Moore en Moore (1994), Moore (2002), Scheps (1999) en Shaw (2013) lewer waardevolle bydraes om ouers in hul tuisonderrigtaak te ondersteun. Ouers kan gerus die volgende opsies oorweeg om hulle taak te vergemaklik:

  • Moenie tuisonderrig met skoolonderrig verwar deur dieselfde onderrigmetodes te probeer volg nie – dink buite die skoolkonteks. Benut die geleentheid om leerstof pasgemaak volgens jou kind se persoonlikheid en belangstellings te bied.
  • Beperk oormatige geskeduleerde aktiwiteite deur altyd “ja” te sê vir alle geleenthede wat moontlik tot kinders se ontwikkeling bydra. Buitemuurse aktiwiteite is verrykend en verskaf geleentheid vir sosialisering, maar te veel daarvan kan druk op beide kind en ouer plaas en kan tot swak akademiese prestasie lei.
  • Kry ondersteuning by kurrikulumverskaffers om ouers met raad te bedien of stel tutors in sekere vakke aan. Nie net bied dit deskundige hulp in moeiliker vakke nie; dit skep ook geleentheid vir “eietyd” vir die ouer – ’n welkome blaaskans aangesien ouer en kind nie meer heeldag saam hoef te spandeer nie.
  • Stig ’n tuisonderriggroep en kry raad by ander tuisonderrigouers. Hierdie ondersteuning kan ouers help om stresvolle struikelblokke te vermy en uit mekaar se ervaring te leer. Dit skep ook ’n welkome geleentheid vir sosialisering vir beide tuisleerders en ouers.
  • Lees soveel as moontlik oor tuisonderrig om selfvertroue te bou. Hierdie selfvertroue sal na die leerder deurfilter en ’n positiewe, produktiewe tuisonderrigomgewing skep.

Kinders hanteer gewoonlik omstandighede so goed soos hul ouers dit hanteer. Dit beteken dat ouers bewus moet wees van die uitdagings van tuisonderrig en nie deur ’n “skoollens” na hierdie soort onderrig moet kyk nie. Tuisonderrig bied uitdagings, maar daarmee saam bring dit talle ander voordele.

Bronne:

Butler, S. (2000) The ‘H’ Word: Home Schooling. Gifted Child Today. 23(5): 44-50.

Colfax, D., & Colfax, M. (1988 & 2009). Homeschooling for Excellence: How to take charge of your child’s education – and why you absolutely must. New York: Warner Books.

Moore, G.  (2002) Homeschooling in South Africa as an alternative to institutionalized education. M.Ed- thesis. Pretoria: UNISA.

Moore, R.S. & Moore, D.S. (1994) The Successful Homeschool Family Handbook. Nashville (TN): Thomas Nelson Publications.

Moore, G., Lemmer, E., & Van Wyk, N. (2004). Learning at home: an ethnographic study of a South African home school. South African Journal of Education, 24(1): 18-24.

Scheps, S.G. (1999) Homeschoolers in the library. School Library Journal, 45(2): 38- 39.

Shaw, I. (2013) Avoiding Homeschool burn-out. Available URL: http://school.familyeducation.com/home-schooling/stress/. Retrieved: 13 March 2015.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.