Studie wys op voordele van kaalvoetkinders

ʼn Studie deur Suid-Afrikaanse en Duitse navorsers het bevind dat kinders wat kaalvoet loop, beter balans het en ook verder kan spring as kinders wat skoene dra.

Prof. Ranel Venter van die Departement Sportwetenskap in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het gesê daar is voordele daarin om jou kinders kaalvoet te laat loop.

“Ons navorsing het getoon dat gereelde fisiese aktiwiteite sonder skoene voordelig kan wees vir die ontwikkeling van spring- en balansvaardighede, veral in die ouderdomskategorie 6-10 jaar,” het Venter gesê.

Venter en kollega dr Elbé de Villiers het saam met navorsers van die Universiteit van Jena en die Universiteit van Hamburg in Duitsland gewerk.

Venter sê die doel van die navorsing was om vir die eerste keer die verband tussen kinders wat kaalvoet grootword of skoene dra en die ontwikkeling van motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie te evalueer.

“Waar Suid-Afrikaanse kinders gewoonlik gedurende die dag kaalvoet loop, dra byna alle Duitse kinders skoene gedurende skooltyd en tydens die meeste ontspanningsaktiwiteite,” het Venter gesê.

“Sover ons weet het geen studie nog die moontlike verhouding tussen gereelde aktiwiteite wat kaalvoet uitgevoer word en motoriese vaardighede ondersoek nie.”

Volgens die studie het kaalvoetkinders in Suid-Afrikaanse laerskole beter gevaar in balanstoetse as hul Duitse eweknieë wat nooit kaalvoet loop nie.

“Dit kan verband hou met die feit dat die voete van Suid-Afrikaanse kinders breër en meer vervormbaar is,” het Venter gesê.

“Kaalvoetkinders kon ook verder spring vanuit ʼn staande posisie as Duitse kinders. Dit kan moontlik verband hou met die feit dat die voetbrûe van Suid-Afrikaanse kinders goed ontwikkel is.

Kinders wat gereeld kaalvoet loop, se voetbrûe is hoër as dié van kinders wat nooit kaalvoet loop nie. Hul voete is ook meer buigsaam en nie so plat nie.”

Argieffoto (Foto: dagon_, Pixabay)

Kaalvoetkinders en skoene

Na afloop van dié studie het Venter bevind dat Suid-Afrikaanse kinders wat kaalvoet loop se voete in baie opsigte verskil van Europese skoendraers, en dus is skoene beskikbaar op die Suid-Afrikaanse mark nie vir kaalvoetkinders geskik nie.

“Die probleem is dat die groeiende voete van ons kaalvoetkinders in Europese groottes inforseer word – die skoene is veral te smal. Dit help ook nie ouers besluit om net groter skoene te koop nie – dit verander die natuurlike werking van die voet en die skoen se ontwerpte “knakplek” stem dan nie ooreen met die voet se natuurlik buigplek nie.”

Venter sê dat sy deur haar navorsing die feit wil uitlig dat die huidige skoene wat ons kinders kan dra, veral skoolskoene, nie geskik en gepas is vir die meeste Suid-Afrikaanse kinders se voete nie en om ʼn bewustheid te skep vir die waarde van kaalvoetwees by kinders.

“Die samelewing koester die persepsie dat kaalvoetwees noodwendig gelyk moet wees aan armoede of aan laer status in die samelewing. Ons behoort eerder ons kaalvoetkultuur te omhels en te koester. Die resultate van ons navorsing móét plaaslike skoenverskaffers motiveer om betrokke te raak en werklik om te gee vir die gesondheid en goeie ontwikkeling van kinders se voete.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

sandra ·

My dogter se skool moedig kaalvoete tydens die somerkwartale aan. Kinders van gr R tot en met Gr 3, seuns en dogters, mag kaalvoet skool toe gaan, hulle dra ook nie skool skoene nie, maar te tekkies, indien skoene gedra moet word. Atletiek word ook kaalvoet gedoen.

Sofie ·

Wonderlike nuus! My seuns haat dit om skoene te dra, ek gaan hulle nie gou weer forseer nie!

B ·

Ek het die studie gelees op https://www.frontiersin.org/articles/10.3389/fped.2018.00115/full en ek moet ongelukkig postuleer dat heelwat ander faktore nie in ag geneem is wat ook die uitkoms moontlik kon verklaar. (Bv anatomiese vermoens inherent tot populasie groep, onvergelykbare fisiese ontwikkeling wat moontlik toe te skryf is aan iets soos meer sonlig ure (maw meer buite, ens)

‘n Meer akkurate studie sou ‘n poog om ‘n groter poel van Duitse kinders te kry wie minder gereeld skoene dra en ‘n groter groep SA kinders te kry wie wel ook dan meer skoene dra.

Ter slotsom, dis ‘n ongelukkig ‘n baie bevooroordeelde (‘biased’) studie wat nie alle veranderlikes in ag neem, soos bv omgewings, geneties, ens.

(Persoonlik glo ek kaalvoet is meer gesond, maar nie gebasseer op hierdie studie)

lolla ·

ek loop baie graag kaalvoet….. ek is 66jr…. en kry gereeld komplimente dat my voete baie gesond lyk…. ek moet ‘earth’…. groot en wyd is ook nie van toepassing nie….gemeet 3/4 … maar ek is nie goed in sport nie…

Iza Rust ·

Goed om te weet!
Ek was n kaalvoet kind, maar vandat hul die halwe nrs skoene lophou maak het sukkel ek maar nog om skoene wat goed pas te kry.

Kathy ·

Goeie dag
Ek will gra1g die artikel met my NZ vriende deel maar hul is engels. Is daar n engelse vertaaling of moet ek dit maar self doen

Morné van Rooyen ·

Dagsê Kathy,
Hier by Maroela Media plaas ons berigte net in Afrikaans. Sterkte met die vertaling! Groetnis, Morné nms. Maroela Media

Anet ·

Ek het jare lank sport, en spesifiek atletiek afgerig asook fisiese LO. En dit is waar dat kaalvoetkinders makliker, verder en hoër spring en meer balans het as die geskoeides. . Wat egter ook waar is, is dat ‘n kind se gene, d.w.s. sy natuurlike aanleg ,ook ‘n rol speel. Ek dink egter nie die studie gaan oor die kweek van top-sportmanne of -vroue nie, maar wel om te bewys dat die swak springer en die goeie springer albei beter sal spring as hulle gereeld kaalvoet loop.

IK ·

Daardie skop na die pale met ‘n kaal groottoon was altyd ‘n hoogtepunt. Soms verstuit of die kuns om maar met die binnekant vd voet te skop, Kaalvoet op ‘n wintersoggend op ‘n plattelandse dorpie wanneer die koei aangekeer word om gemelk te word het tot gevolg gehad dat die voete warm gemaak word in die vars beesmis. Goue jare . . .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.