Studiebeurse: Wat is dit en hoe werk dit?

Deur Paul Maritz

spaarvarkie-munte-geld

Foto: Skitterphoto/Pexels.com.

Om ʼn kwalifikasie aan ʼn universiteit te kry kan jou lewe vir eens en vir altyd verander. ʼn Goeie graad aan ʼn goeie universiteit sal jou sonder twyfel in die vinnige baan na ʼn goeie werk en ʼn voorspoedige loopbaan plaas. Om te studeer is egter nie so eenvoudig nie, daar is baie kostes aan verbonde, en lenings is nie vir almal ʼn opsie nie. Indien finansiering die uitdaging is wat tussen jou en jou droomloopbaan staan, is die antwoord dalk om aansoek te doen vir ʼn beurs. Hier is ʼn paar dinge om te onthou wanneer jy aansoek doen:

  1. Wat is ʼn studiebeurs?

ʼn Studiebeurs is ʼn bedrag geld wat deur ʼn eksterne persoon of maatskappy aan ʼn student toegeken word vir die eksklusiewe doel van studies, en kostes verbonde aan studies, soos verblyf, boeke en kos. Soms het so ʼn beurs geen voorwaardes nie, maar in meeste gevalle moet die ontvanger ʼn sekere akademiese standaard handhaaf om die beurs in die daaropvolgende jaar weer te ontvang, of ʼn sekere aantal jare vir die maatskappy gaan werk wat die beurs betaal het.  ʼn Beurs verskil van ʼn lening of selfs ʼn rentevrye-lening in die sin dat die geld nie later terugbetaal hoef te word nie.

  1. Wie kwalifiseer vir studiebeurse?

ʼn Wye verskeidenheid studente kwalifiseer vir studiebeurse.  Beurse is dikwels vakkundig van aard, soos Sasol wat beurse vir ingenieurswesestudente beskikbaar stel, of Absa wat beurse vir aktuariële studente beskikbaar stel. Soms word beurse toegeken op grond van akademiese prestasie, soos provinsiale of munisipale beurse, wat vir skoliere uit ʼn sekere distrik beurse gee op grond van hulle matriekpunte. Ander beurse is spesifiek op nagraadse studie gefokus, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Ph.D- beurse. Feitlik alle studente kan vir ʼn paar beurse aansoek doen, maar meeste studente doen net nie die moeite om vir hierdie beurse te gaan soek nie!

  1. Waar begin ʼn mens?

ʼn Goeie wegspringplek is altyd die internet. Webblaaie soos Bursaries South Africa of Bursaries SA en selfs Career Wise kan vir enige voornemende beurshouer van groot hulp wees. Daar is honderde webwerwe met inligting oor beurse op die internet – al wat die student moet doen is om te soek!

Dit sal ook slim wees om binne in die spesifieke studieveld te soek waarna jy kyk. As jy oorweeg om ingenieurswese te studeer, praat dalk met studente wat reeds studeer. Hulle weet dalk van klasmaats wat beurse het waarvoor jy aansoek kan doen. Speel ook rond op groot firmas se webblaaie – wie soek sal vind!

  1. Wat is nodig om aansoek te doen?

Vir skoliere sal ʼn gesertifiseerde graad 11-rapport meestal voldoende wees, dalk met ʼn getuigskrif van jou skoolhoof of graadhoof. Vra hulle gerus om so dokument vir jou op te stel. Hulle sal graag help om jou drome te verwesenlik! Vir studente is jou mees onlangse puntestaat en ʼn paar getuigskrifte van professore of jou koshuisvader, of selfs jou predikant dikwels genoeg. Jy mag dalk ʼn elektroniese weergawe van jou ID-dokument, en jou mees onlangse bewys van registrasie benodig, so hou dit sommer naby!

Om bo uit te kom verg harde werk, en dikwels ʼn bietjie ondersteuning.  ʼn Studiebeurs kan vir jou daardie bietjie ondersteuning gee wat jy nodig het om jou drome te verwesenlik. Doen aansoek vir soveel moontlik beurse, jy weet nooit watter maatskappye die potensiaal in jou sien wat jy weet jy binne in jou het nie!

Afrikaanse studente kan ook by verskillende organisasies aansoekdoen vir beurse en rentevrye studielenings:
Helpende Hand
AfriForum
Akademia
Rapport Onderwysfonds
Atterbury Trust
Virseker Trust
Nog inligting oor rentevrye studielenings en beurse is by Afrikaans.com beskikbaar

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.