Studielenings: Hoekom, hoe, en waar?

Deur Paul Maritz

Argieffoto

Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat tersiêre studies werklik duur is. Nie net beloop klasgelde duisende rande per jaar nie, maar verblyf, kos, en boeke laat die hele spul amper onmoontlik lyk. Baie van ons se ouers kan nie noodwendig hierdie kostes dek nie, of ten minste dit nie ten volle dek nie. In plaas daarvan om op te gee op hul drome, neem baie jongmense dan studielenings uit.

ʼn Studielening is ʼn lening wat jy as student by ʼn bank of finansiële instansie uitneem, en wat jy dan eers begin terugbetaal sodra jy begin werk.

Ons het so bietjie gaan rondsnuffel op van die grootste banke in die land se webwerwe, om te bepaal hoe presies studielenings werk. Hier is ʼn paar belangrike punte:

Wie neem die lening uit?

  • Volgens Absa se tuisblad moet die lening deur ʼn ouer, voog, of deeltydse student wat ʼn inkomste verdien uitgeneem word. Die voltydse student kan dus nie self hierdie skuld maak nie. Standard Bank vereis dat die persoon wat die lening uitneem meer as R5 000 per maand verdien, vir Absa is dit slegs R3 000 per maand, en vir FNB is dit meer as R6 000 per maand.

Waarvoor kan geld alles geleen word?

  • FNB stel dat geld geleen kan word vir klasgelde, boeke en toestelle, toerusting en verblyf. By Absa kan geld ook vir hierdie vier goed: klasgelde, boeke, elektroniese toestelle en nodige toerusting, geleen word.
  • Dit is belangrik om in ag te neem dat geld nie sommer in jou eie rekening betaal gaan word nie, maar reguit aan die universiteit, kollege, of verblyfkompleks oorbetaal sal word.

Hoe en wanneer betaal ek die lening terug?

  • Volgens Standard Bank se webblad sal voltydse studente eers die lening begin terugbetaal sodra hul studies klaar is. Gedurende die studies moet die persoon wat die lening uitneem, dus die ouer of voog, egter reeds die maandelikse rente en diensfooie betaal. Hierdie betalings sal gehef word teen die ouer of voog se rekening. Indien jy nie dadelik werk kry ná jou studies nie, sal daar ʼn grasieperiode wees, en ook as jy eers ʼn diensjaar of internskap moet doen of ʼn kandidaatskap moet voltooi. Deeltydse studente betaal reeds terwyl hulle studeer. Indien jy jou studies nie voltooi nie, moet jy dadelik begin terugbetaal.

Om te studeer kan ʼn mens werklik ʼn voorsprong gee in die lewe, en ʼn belegging in kennis is ʼn belegging in die toekoms. Moenie toelaat dat ʼn tekort aan befondsing in jou pad staan nie!

Bronne:
ABSA
FNB
Standard Bank

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

 

*Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug se webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Baie bolangse artikel, veral as daar net op webwerf info staatgemaak word. Wat van die terugbetalingstydperk en die rentekoers? Bestee asb meer tyd en doen n volledige ontleding. Doen ook sommer n opvolgstorie oor die nagmerrie van gratis studiehulp (geld) aan sekeres wat oud-pres Zuma laasjaar in sy onbesonnendheid aangekondig het toe hy teen die toue was.

Anton ·

Klink baie maklik , maar ons sit met n derde jaar student , en kon tot nog nerens n studielening kry nie …. Ons kan n lening hoogstens vir die helfde van die geld kry , so ons is terug in Transvaal !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.