Suid-Afrikaanse uitvinders staan uit

Kreepy-Krauly

Die Kreepy Krauly is sekerlik een van Suid-Afrika se bekendste uitvindsels. Foto: Americanbestpoolsupply.com

ʼn Paar jaar gelede bel my sus benoud uit Pretoria. Gil in die foon: “Wat het Suid-Afrikaners ontwerp, uitgedink en ontdek?!” Ek hoor ʼn geween in die agtergrond en wonder wat aangaan. Hou die foon ʼn ent van my oor af. ʼn Mens kan moontlik doof raak… “Hoekom?” vra ek versigtig. Klaarblyklik het Pietman, toe 6, in die wetenskapklas geleer van uitvindings. Sy hart het gebreek toe sy juffrou nie Suid-Afrikaners onder die top-uitvinders lys nie. Bid jou dit aan.

Maar Suid-Afrikaanse uitvinders staan nie terug vir dié van ander lande nie. Op die webwerf afkinder.com staan daar geskryf: “South Africa has some of the sharpest minds in the world so it’s no surprise that some inventions used across the globe were invented by South Africans, forever changing the face of medicine, technology, and…pool cleaning.”

Hier is ʼn paar interessante uitvindings deur Suid-Afrikaners:

1. Een van die gesigte van Afrika is vroue wat swaar waterkanne vir kilometers op hul koppe dra. Die Hippo Water Roller is deur Pettie Petzer en Johan Jonker ontwerp. Die 90-liter drom met ʼn handvatsel kan gestoot of getrek word, selfs oor rowwe terrein.
2. Percy Tucker van Benoni het die wêreld se eerste elektroniese besprekingstelsel, Computicket, ontwikkel. Wat sou ons sonder Computicket gedoen het?
3. Shark Shield, die wêreld se enigste suksesvolle haai-afweertoestel, is in die negentigs deur wetenskaplikes van die KwaZulu Natalse Haairaad ontwerp. Dit word nou wêreldwyd gebruik. Boonop word ons Haairaad beskou as leier op die gebied van haainavorsing in die wêreld.
4. Die Kreepy Krauly is in 1974 deur die Suid-Afrikaner Ferdinand Chauvier ontwerp.
5. CT en CAT-skanderings is vandag onmisbaar in mediese diagnose en behandeling. Godfrey Hounsfield en Allan McLeod Cormack het dit in die laat-1970’s ontwerp.
6. Sasol het die eerste tegnologie ontwikkel om laegraadse steenkool in sintetiese brandstof en chemikalieë om te skakel.
7. George Pratley het die welbekende Pratley’s Putty uitgevind terwyl hy ʼn gom probeer skep het om komponente in ʼn elektriese boks bymekaar te hou. Pratley’s Putty is in 1969 gebruik in die bou van die Apollo XI landingsvaartuig.
8. Ludwick Marishane is die jongste houer van ’n patentreg in Suid-Afrika. Op sewentienjarige ouderdom het hy Drybath ontwikkel. Dié produk maak skoon sonder water en kom handig te pas in dele waar mense beperkte toegang tot water het.
9. Suid-Afrikaanse ontwerpers het die Lumkani-stelsel verlede jaar bekend gestel. Hierdie toestel is daarop gemik om inwoners betyds te waarsku teen wegholbrande in informele nedersettings.
10. Die Smartlock inspuitingspuit is in 1992 deur ontwerpers van die Vaal Universiteit van Tegnologie ontwerp. Hierdie ontwerp bied beter beskerming teen naaldprikbeserings en besmetting met gevaarlike siektes soos Ebola, Hepatitis en MIV.
11. Dolosse is die massiewe, vreemd-gevormde sementblokke wat ons dikwels langs die kus, veral by hawens, sien. Dit word gebruik om die branders te keer en hawemure en kus-installasies te beskerm. Eric Merrifield het die dolosse ontwerp.
12. Die meeste huishoudings het iewers ʼn blik Q20 wat van tyd tot tyd uitgehaal word. Q20 is nie sommer enige olie nie en word so suksesvol gebruik omdat dit swaarder as water is. ʼn Mnr. Robertson van Pinetown het dit in 1950 ontwikkel.
13. Henri Johnson het in 1992 die Speed Gun ontwikkel. Die Speed Gun meet onder meer die afstand, spoed en hoek van krieket- en tennisballe.
14. Prof. Vivian Alberts het ʼn mikro-dun metaalfilm by die Universiteit van Johannesburg ontwikkel. Hierdie tegnologie het tot gevolg gehad dat sonkrag nou ʼn goedkoper en meer omgewingsvriendelike opsie as steenkool is.
15. Louis Liebenberg en Lindsay Steventon het die Cybertracker in 1996 ontwikkel. Die Cybertracker gebruik satelliete en navorsers gebruik dit om diere op te spoor en te volg.
16. Hierdie is ʼn lekker ene! Ingenieur en kitaarspeler, Graeme Wells, het die oliekan-kitaar ontwerp. Selfs UB40 het intussen oliekan-kitare aangekoop en gebruik! Dit word ook die Afri-can-guitar genoem.

Hierdie is maar net enkele uitvindings deur Suid-Afrikaners. Weet jy dalk van nog meer?

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Ouerskap, Rubrieke, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

FC ·

Voeg daarby dat ons ook die eerste land is wat “carguards” geskep het.

BoereBikerBaby ·

Dis nogals interessant om al dit te lees! My seun (nou 13jr) het al van kleins af gese hy gaan nog eendag iets ontwerp wat ander mense nooit aan gedink het nie.
Hy is baie handig – hy sal bv winkel toe gaan en wil een of ander speelding he, want binne hom het hy klaar planne wat hy met die parte gaan aanvang.
Hy’t eendag ‘n kaskar gebou (uit sy eie) met liggies (vd kersboom) radio, briek ligte die works. Hy was so trots op sy hande-werk. So watch this space… Een van die dae is hy ook onder die bekendes.

Nics ·

Hoekom is party sinne nie volledig nie, bv no 8 se eerste sin; so ook no 16 se 2e sin? Voor mense nou weer die piep kry – mens se werk is mos jou trots, so hierdie is ‘n stuk werk van iemand en moet mos reg/goed gedoen word.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Nics

Baie dankie dat jy die foute aan ons uitgewys het, ons vra om verskoning daarvoor.
Dit is nou reggestel.

Groetenis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

neelsie ·

Laat ons kinders toe om op te groei in n wereld van selfontwikeling, met n positiewe selfbeeld, goed ontwikkelde brein, wat balans kan handhaaf tussen brein- en liggaamsontwikkeling.
Dan word ons nasie deel van die wereld waarmee ander moet rekening hou.
Ons volk het die potensiaal!

Franli Collins ·

Trots op my pa, Pettie Petzer met die Hippo Water Roller uitvinding! Hoop die regering sien die potensiaal raak en skaf n lot aan!

Liezel Luneburg ·

Ek is sommer saam met jou trots, Franli. Ek was nou die dag by ‘n kleuterskool in ‘n landelike gebied waar hulle elke dag 200m ver water aanry met twee Hippo Rollers!

Jimmy Meyer ·

Item 6 is verkeerd – Sasol het nie die tegnologie ontwikkel nie. Die eer behoort aan mnr’e Fischer en Tropsch van Duitsland. Sasol het wel hul uitvindings en prosesse verder ontwikkel om ekonomies lewensvatbaar te wees. Sasol ontwikkel steeds verskeie afgeleide produkte vanaf die oorspronklike proses.

Liezel Luneburg ·

En dan is daar natuurlik ook die dokters wat verlede jaar die eerste manlike geslagsdeel met sukses oorgeplant het… Daar is te veel om op te noem – veral op mediese en landbougebied.

Pieter ·

Ons het ook ‘n nuwe uitvinding. Waar kan ons fondse kry om dit waar te maak?

Groete
Pieter

Sus ·

Pieter jy kan die Design Institute by die SABS in Pretoria kontak.

Maddox ·

En wat van Krygkor, nou Denel se laser guided missile system wat hulle ontwikkel het?
Dit was ook ‘n eerste vir die wereld

Tom Theron ·

Min mense weet dat swembadskoonmakers steeds van Suid Afrika se voorste uitvindsels is. Zodiac, een van die wereld se voorlopers , het die Baracuda patent oorgekoop en tot vandag word Zodiac se skoonmakers in Suid-frika ontwerp en internasionaal gepatenteer. Die ontwerpers is ‘n piepklein ontwikkelingsmaatskappy in Johhanseburg, maar hul werk is so geniaal dat Zodiac geen steen onaangeroer laat om goed agter hul te kyk nie. Kyk gerus na modelle sos die MX6, die Mars en andere wat heeltemal “buite die boks” van standaard ontwerpe val. En dis so Suid Afrikaans soos koeksisters!

Otter ·

Dis wonderlik! En vergeet nie van Elon Musk nie: SpaceX, PayPal, Tesla Motors, Hyperloop, SolarCity, OpenAI [Wikipedia].

Gerhard ·

Nr. 11 is ook nie heeltemal waar nie. Die dolosse is eintlik deur Aubrey Kruger uitgedink en ontwerp. Sy baas, Eric Merrifield, het toe die idee gevat en dit gepatenteer.

cornelia ·

wat ‘n wonderlike onderwerp vir ‘n boek!
Alles in die afrikaanse taal wat ‘n uitvindsel en ‘n half is om op trots te wees

Eugene ·

…en sover ek kon onthou is die ‘bar code’ ook in suid afrika ontwikkel.

Frans Fourie ·

Die Sheffel selfstuur goedere trein bogie(onderstel) is ook in SA ontwerp en ontwikkel en word wêreldwyd gebruik, veral op lang treine soos die Sihen Saldanha spoorlyn. Dis waar dit ontwrrp en ontwikkel is.

Frans Fourie ·

Die Sheffel selfstuur goedere trein bogie(onderstel) is ook in SA ontwerp en ontwikkel en word wêreldwyd gebruik, veral op lang treine soos die Sishen Saldanha spoorlyn. Dis waar dit ontwerp en ontwikkel is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.