Sukkel jy met onderhoud?

onderhoud-vir-kinders

Ouers sukkel dikwels om agterstallige onderhoud vir hulle kinders in te samel. Foto: Compliancehub.co.za

Jackie* is nege jaar gelede van haar man geskei. Simone,* hul dogtertjie, was drie jaar oud ten tye van die egskeiding. Sedertdien sukkel Jackie om onderhoud en agterstallige onderhoud te vorder en om wysigings van die onderhoudsbevel te verkry wanneer die omstandighede van tyd tot tyd verander. Sy het reeds ure in die onderhoudshof deurgebring en beskryf die onderhoudshof in haar omgewing as “’n hartelose plek. Daar is min plek vir emosie en niemand is haastig nie. As ek nie vasbeslote, ingelig en selfversekerd was nie, sou ek binne die eerste paar weke moed opgegee het.”

Sy het uiteindelik sewe maande gelede ’n besoldigingsbeslagbevel verkry. Dit beteken dat die respondent (die persoon wat vir onderhoud gedagvaar word) se werkgewer die onderhoudsbedrag elke maand aan haar betaal.

Die reg van die kind

Jackie het deurgedruk, maar ander applikante (die persoon wat aansoek doen vir onderhoud) gee moed op. Indien die respondent onderhoud weerhou om die versorgende ouer te “straf”, kry die kinders die swaarste. ’n Gesoute onderhoudslanddros van Mpumalanga, landdros Jacob,* vertel van ’n geval waar die versorgende ma die hof genader het om terugtrekking van die onderhoudsbevel. Sy was moedeloos baklei teen ’n pa wat nie sy kinders wíl onderhou nie. Die hof het die aansoek geweier aangesien die reg op onderhoud dié van die kind en nie die van die versorgende ouer is nie. Hierdie versoek vertel ’n wanhopige storie waarmee menige versorger kan identifiseer.

Regter Yvonne Mokgoro, voorheen van die konstitusionele hof, het in die Bannatynesaak (2003) bevind: “Die onderhoudshowe en -reëls is belangrike meganismes om aan kinderregte uitvoering te gee. As daar nie toegesien word dat die onderhoudstelsel doeltreffend werk nie, beteken dit dat kinders nie behoorlik beskerm word nie.”

Ons grondwet én die Kinderwet is beslis: Die beste belang van die kind is die deurslaggewende faktor in alle aangeleenthede wat die kind raak. Ook in die onderhoudsproses.

Nuwe wetgewing

Pres. Jacob Zuma het onlangs die nuwe Wysigingswet op Onderhoud onderteken. Die doel van die wysigings is om die onderhoudsproses te verbeter. So, byvoorbeeld, sal wanbetalers se name nou by kredietburo’s op die swartlys geplaas kan word. Om maar een van die wysigings te noem.

Teoreties is die wysigings ’n stap in die regte rigting. Maar net die tyd sal leer of dit prakties uitvoerbaar is in die huidige onderhoudstelsel.

Die onderhoudstelsel

Volgens landdros Jacob bied die huidige onderhoudstelsel verskeie uitdagings. Die grootste is gebrekkige opleiding van en ’n tekort aan onderhoudsbeamptes en -ondersoekers. Daar is by menige besige onderhoudshof net ’n enkele onderhoudsbeampte wat alle onderhoudsake moet ondersoek. Die meeste kleiner howe het ook nie ondersoekers nie.

Jackie vertel: “Die plaaslike onderhoudshof is deel van ’n groot, besige landdroskantoor. Alle amptenare is onder geweldige druk en oorwerk en moet klaarkom sonder die nodige mannekrag en hulpbronne. Daar is, byvoorbeeld, net een rekenaar per kantoor wat deur twee beamptes gedeel word. Ek het al dikwels ure lank in rye gestaan. Dit is tydrowend en frustrerend.” Sy vertel verder dat die plaaslike balju ook oorwerk en maande agter is met betekenings. Sy moes dus self die hofstukke na die polisiestasie neem om betekening te bespoedig.

Wees ingelig

Volgens ’n bekende Pretoriase advokaat* is dit belangrik dat die applikant ingelig moet wees. Dit sal help dat hy of sy die proses beter verstaan en weet watter remedies om voor te vra in verskillende situasies.

Besoek die departement van justisie se webwerf vir meer inligting oor onderhoud in die algemeen. Dit is ook belangrik om te weet wat in die Onderhoudswet en –regulasies staan. Die bepalings maak dalk nie altyd sin nie, maar indien ’n sekere woord onthou word, kan ’n regsverteenwoordiger of onderhoudsbeampte dit verder verduidelik.

Hier onder volg ’n lys van nuttige inligting. Dit is onmoontlik om alle reëls en remedies te noem – elke geval moet steeds op meriete beoordeel word.

Albei ouers is onderhoudpligtig

Die onderhoudsplig ten opsigte van ’n kind lê by albei ouers. Elke ouer dra ooreenkomstig sy of haar finansiële vermoëns daartoe by. Indien die ouers nie kan bydra nie, kan grootouers en ander familielede gedagvaar word vir onderhoud.

Onderhoud en stiefouers

Indien die respondent weer trou, is die stiefouer nie onderhoudspligtig teenoor die respondent se kinders uit vorige verhoudings nie. Die enigste manier hoe die stiefouer “bydra” tot die kind se onderhoud, is die mate waarin sy of haar salaris en huishoudelike uitgawes in aanmerking geneem word by die bepaling van die onderhoudsbedrag.

Tussentydse bevele

Tot dusver was die proses in die onderhoudshowe dikwels langdradig. Die nuwe wet bring welkome veranderinge wat dit betref en bepaal dat alle onderhoudsondersoeke so vinnig moontlik moet geskied en dat uitstel beperk moet word. Die onderhoudshowe sal verder tussentydse bevele kan toestaan indien daar prima facie bewyse bestaan dat die respondent onderhoudspligtig is en dat die kind sal swaarkry indien die aansoek uitgestel word.

Die respondent ontduik betekening

Dit is belangrik dat die applikant by die toestaan van die eerste onderhoudshofbevel die onderhoudsbeampte versoek om toe te sien dat ’n foto van die respondent deel van die rekord gemaak word. Dit kan moontlik die persoon wat toekomstige pleitstukke beteken, bystaan.

Let ook op die bepalings van regulasie 26.

In die toekoms sal dit in sekere gevalle makliker wees. Die Wysigingswet maak dit moontlik vir onderhoudshowe om selfoonverskaffers te verplig om details van die respondent te verskaf indien hy of sy nie opgespoor kan word nie.

Toegangsregte en onderhoud

Dit gebeur dat die versorgende ouer die ander ouer toegang tot die kind weier of dit bemoeilik. Dit kan selfs gebeur dat ’n kind weier om die respondent te besoek. Respondente voel dan ingedoen en traag om onderhoud te betaal.

Onderhoud en toegangsregte is egter twee verskillende regsaspekte wat dikwels deur verskillende howe bepaal en afgedwing word. Dit is nuttig om te onthou dat die reg op onderhoud die reg van die kind is terwyl die reg op toegang ’n wederkerige reg is. Dit beteken dat dit die reg van die ouer én die kind is.

Die respondent moet dus steeds onderhoud betaal al sien hy of sy nie die kind nie.

Die werklose respondent

Dit is moontlik dat die respondent werklik nie werk het nie. In so ’n geval sal die landdros die saak uitstel om die respondent kans te gee om vir werk aansoek te doen. Hy of sy sal in so ’n geval die hof moet voorsien van bewyse van pogings om werk te vind. Indien die respondent nie werk kry nie, kan die versorgende ouer by die staat aansoek doen om ’n kindersorgtoelaag.

Dit gebeur ook dat ’n respondent uit sy of haar werk bedank om die betaling van onderhoud te ontduik. Indien die staat kan bewys dat die versuim om onderhoud te betaal te wyte is aan die beskuldigde se onwilligheid om te werk, of aan sy of haar wangedrag, is hy of sy skuldig aan ’n misdryf. Die respondent sal dan gevonnis kan word vir die versuim om onderhoud te betaal.

Tronkstraf by wanbetaling

Applikante is dikwels bang dat tronkstraf by die ontduiking van onderhoud die sogenaamde kraan finaal sal laat opdroog. Dit is egter insiggewend om te onthou dat periodieke gevangenisstraf (byvoorbeeld oor ’n naweek) of gemeenskapsdiens ook strafopsies is.

Enkelbedraguitbetalings deur pensioenfondse of versekeringsmaatskappye

Die hof kan vir die betaling van agterstallige onderhoud en, in sekere gevalle, toekomstige onderhoud, beslag lê op enkelbedraguitbetalings. Kliek hier vir meer inligting.

Landdros Jacob beklemtoon dat dit belangrik is om vroegtydig die hof te nader om die uitbetaling te vries. Indien so ’n bevel te laat verkry word, is dit verder moontlik om die bankrekening waarin die bedrag betaal is, te vries.

Die versorger benodig dringend in ’n noodsituasie ’n groot bedrag geld ten opsigte van die kind

Tans neem die proses in die onderhoudshof te lank. In die toekoms kan die toestaan van tussentydse bevele dit dalk vergemaklik. ’n Aansoek om dringende finansiële hulp kan tans ingevolge die Wet op Gesinsgeweld gebring word. Indien die respondent onredelik finansiële bystand weier, kom dit neer op ekonomiese geweld. Die hof verleen dan ’n tussentydse bevel of interdik wat die respondent verplig om finansiële bystand te verleen.

Het ek ’n prokureur nodig?

Dit bly die party se keuse. Jackie sê: “Die onderhoudsbeamptes is oorwerk. My regsverteenwoordiger het my met kennis bemagtig, al was hy nie altyd saam hof toe nie.” Sy vertel egter dat sy sonder moeite die besoldigingsbeslagbevel sonder enige regsverteenwoordiging verkry het.

Die onderhoudshof se dienste is en bly gratis en die departement van justisie onderneem om alle partye gelyk en met menswaardigheid te behandel. Dit is dus moontlik om ’n bevel te verkry of ’n aansoek teen te staan sonder regsverteenwoordiging.

Die respondent sterf

Die ouer se onderhoudsplig word nié deur sy of haar dood beëindig nie. Die kind sal ’n onderhoudseis teen die boedel van die oorledene hê. Die onderhoudseis geniet voorkeur bo die eise van erfgename en legatarisse, maar nie bo dié van skuldeisers nie. As die kind ook ’n erfgenaam is en die erfporsie is voldoende om in sy of haar onderhousbehoeftes te voorsien, kan hy of sy nie onderhoud ook nog eis nie.

En laastens…

“Al neem ’n aansoek om onderhoud maande om af te handel, is en bly die Onderhoudswet aan die kind se kant,” sê Jackie. “Die wet sál toegepas word. Die applikant moet net vasbyt en geduldig wees.”

*             Skuilname is gebruik om die identiteit van die partye te beskerm en vir professionele doeleinde.

Voetnotas:

  1. Groot waardering aan prof. Hanneretha Kruger, dosent aan die Departement Privaatreg, Unisa en medeskrywer van South African Family Law (vierde uitgawe) wat later vanjaar verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SS ·

Ek sukkel ook al meer as 9 jaar met wisselvallige betalings van onderhoud. ‘n Advokaat het my aanbeveel om ‘n klag direk by die polisiestasie te maak teen my gewese man, aangesien daar ‘n hofbevel in plek is en dis ‘n kriminele oortreding om ‘n hofbevel te verontagsaam.

Peet Schabort ·

J Z kan gerus ook ‘n wet onderteken vir die onderhoud van ons infrastruktuur. Strate is al so vol dongas dat die staatname nou verander kan word na “Donga 1; Donga 2; Donga 3 . . . .”

anneske ·

SS die wag is die moeite werk my saak is na 3jaar se gesoek na hom eindelik aan die beweeg en ek gaan die laaste lag glo my! laat sluit hom toe hy VERDIEN dit !

Elane vd Westhuizen ·

Dit is ‘n never ending gerondslomp en die enigste mense wat daarby baatvind is die party wat hulself doodeenvoudig aan enige hofbevel afsmeer en die reg wat jou moet help om jou saak te stel, teen vergoeding natuurlik – wat beslis verstaanbaar is in lg.

Se maar net ·

Dan is daar ook die geldgierige ex vrou wat alles sal doen om haar ex man tot in die grond in te ry. So wou my man se ex vrou wat werk by ‘n prokureurs firma en sommer van hulle advokate gebruik maak hom dagvaar vir R10 000 onderhoud vir sy 2 seuns met ‘n salaris wat hy kry van R19 000!!! Belaglik verby, maar madam sal hom dagvaar en ons lewe nag maak net solank ons haar wonderlike leefwyse kan help betaal. Moet julle nie net blindstaar net teen die man nie, jy kry vieslike vieslike ex vrouens wat alles sal doen om hulle ex mans se lewens nag te maak, want hulle kan nie aanvaar dat hy aanbeweeg het en weer gelukkig is nie. In so ‘n geval gaan dit nie oor geld nie, maar om hom nogsteeds te kan manipuleer!

Etienne ·

Ek stem saam met wat “Ek sê maar net” geskryf het. As die vader moes ek deur dieselfde hel gaan en ek kon nie eers my kinders sien nie. Ek het nie eers ‘n groot salaris verdien nie en is uitgemergel. Ek sukkel vandag nog. So mense, julle moet asseblief nie eensydig na onderhoud kyk nie.

sarita ·

Eks jammer maar ek het jaar in en jaar uit in die hof gesit.Niks het gebeur my kind is nou 12 en nog geen onderhoud nie.Ek het net op gegee want nerens kon ek hulp kry nie.

MJ ·

Ek het een maal ‘n baie goeie sê-ding gehoor: “Moenie toelaat dat jou haat vir jou ex groter is as jou liefde vir jou kind nie”. Ek is self geskei, en ek dink nie daar is iets soos ‘n ‘mooi’ egskeiding nie, maar dit beteken nie mens hoef nooit vrede te maak nie, al is dit net vir die kinders se onthalwe. Ek skaam my dood as ek hof toe gesleep moet word om my verpligting teenoor my kind na te kom. Jou woord is mos jou eer, of hoe? Ek en my ex het nie eens ‘n getekende skikkingsooreenkoms in plek nie, want ons weet wat ons verpligtinge is en wat mekaar se geldelike situasies is. Ons reël sommer die verhoging van onderhoud oor ‘n Sondag middag braai saam met ons nuwe eggenote – ons is dan immers almal deel van ons dogter se lewe. Ek kon nog nooit verstaan hoe mense soveel haat saam hulle wil dra nie. As jou huwelik ‘n mislukking was dan beteken dit nie jou egskeiding kan nie ‘n sukses wees nie.

JS ·

Die ouer, wat nie toesig oor die kinders het nie, moet finansieël help om die kinders groot te maak. Of dit die Pa, of Ma is, hul moet betaal. Dit is egter nie net Pa’s wat onderhoud ontduik nie. Ek wou egter toesig oor my kinder hê, en sal nie gedurig twis oor geld nie, dit maak dinge net nog moeiliker vir my kinders. Stem saam met ander komentaar dat daar egter baie partye is wat die onderhoud so onredelik as moontlik probeer maak. Werk eerder saam vir die kinders se onthalwe.

EB ·

Ek wil ook maar net se dat daar baie sogenaamde mammas is wat nie n flenter voel vir hulle kinders nie. Die mense se oe moet begin oopgaan rondom dit en die wet moet ten gunste van pappas wat toesig het oor hul kinders verander word. My man het nou al vir amper 3 jaar toesig oor sy kinders na n lang uitgestrekte hofsaak en duisende rande se regskostes, en die sogenaamde mamma wat so lief is vir haar kinders het tot op hede nie eers n 10c bygedra tot enige skoolbenodighede nie. So mense, kyk bietjie verby die pappas en sien die skuldige mammas ook raak!

MJ ·

Ek stem heeltemal saam met jou, EB. My dogter bly nou die afgelope jaar by haar Pa, en ek betaal onderhoud elke maand. Snaaks genoeg, baie mense vra vir my “Nou hoekom moet jy onderhoud betaal?”, so asof dit net Pa’s is wat moet betaal. Dis nie dat ek ‘moet’ nie, ek wil! Dit is mos vir my kind, nie vir haar Pa nie. Hoekom sal mens nie vir jou kind wil betaal nie? Selfs al is my ex man finansieel baie sterker as ek, beteken dit nie ek hoef nie my deel by te dra nie. Ek verstaan nie hoekom kan ander Ma’s dit nie ook so sien nie.

Liezel Lüneburg ·

Onthou dat die reg nie praat van ‘n “ma of “pa” nie. Daar word in algemene terme gepraat van, byvoorbeeld, “any person who is legally liable to maintain any other person”. Daar word ook van die applikant (die persoon wat aansoek doen vir die betaling van onderhoud) en die respondent (die persoon wat gedagvaar word) gepraat. Landdroste, ondersoekers en beamptes is veronderstel om objektief te wees. Die reg (wette en regulasies) is verseker – die taal is geslagloos. Ek weet van gevalle waar die landdros reguit vir die applikant gesê het sy kan nie die respondent kaal uittrek nie en ‘n dienooreenkomstige bevel verleen het. Verder weet ek ook van pa’s met beheer en toesig oor kinders wat om onderhoud aansoek doen. Albei se omstandighede en die kinders se redelike behoeftes is veronderstel om oorweeg te word.

Die probleem met afdwinging van ‘n bevel is die feit dat die saak teen ‘n wanbetaler in die kriminele hof deur ‘n staatsaanklaer aangevoer moet word. Staatsaanklaers is nie altyd goed opgelei nie en sloer die sake. Dit is ‘n GROOT krisis wat aangespreek moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.