Suksesvolle kinders het dié agt karaktereienskappe

Toekomsberaad-Danie-Brink

Dr. Danie Brink uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Reint Dykema.

… en skoolwiskunde help om minstens vier daarvan te bekom …

In sy boek How Children Succeed: Confidence, Curiosity and the hidden power of Character, gee Paul Tough agt eienskappe wat kinders suksesvol maak. Elke ouer en onderwyser (opvoedkundige is ’n baie beter benaming) behoort baie in Tough se lys belang te stel. Ons is immers in die bedryf om kinders suksesvol te help maak, dan nie?

Dus, hier is die lys: vasbyt, selfbeheer, lewenslus, sosiale intelligensie, dankbaarheid, optimisme, nuuskierigheid, uitgestelde bevrediging.

Hoe kan wiskunde help om van hierdie karaktereienskappe te bekom?

Vasbyt: Wiskunde is bekend as een van die moeilikste skoolvakke. Byna daagliks word leerders gekonfronteer met moeilike situasies wat hulle nie kan oplos nie en “vasbyt” raak deel van hulle voortbestaan. Gelukkig lei wiskunde gewoonlik tot ’n baie goeie “opbrengs” wanneer kinders vasbyt en die beloning lei dan tot verdere volharding.

Selfbeheer: Om te beweeg van wiskunde wat jy ken, deur ’n tydperk van “wiskundige ongemak” waar jy te doen kry met die gebreke in jou kennis, tot by die ontdekking van nuwe kennis verg selfbeheersing. ’n Goeie wiskunde-onderwyser behoort leerders verkieslik daagliks deur hierdie wiskundige ongemak te neem (party van ons het lewenslange wiskundige ongemak). Leerders met selfbeheersing vaar goed en selfbeheersing word beloon deurdat hulle nuwe wiskunde aanleer wat die kennisgaping vul.

Nuuskierigheid: Die wiskunde-sillabus is vol skatte wat ontdek kan word. Daagliks kom leerders te staan voor probleme. Nuuskierige kinders is dié kinders wat gou-gou moue oprol en die bul by die horings pak. Nuuskierigheid word beloon in die wiskunde-klaskamer en minder nuuskierige klasmaats sien gou die opbrengs op die “nuuskierigheidsbelegging” van hul maats.

Uitgestelde bevrediging: “Sal ek eers my wiskunde-huiswerk doen, of eers saam met my maats gaan rugbybal skop?” Hierdie probleem is ’n daaglikse verskynsel vir wiskunde-studente wêreldwyd. Dié wat bevrediging uitstel, word beloon met sukses in die vak.

Die ander vier karaktereienskappe word hoofsaaklik tuis aangeleer en hoe skrikwekkend dit ook al mag klink, hulle word hoofsaaklik deur gedragsnabootsing (modellering) van die ouers aangeleer, of nie. (“Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie!”)

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Brink

Meer oor die skrywer: Danie Brink

Dr. Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Johann Marx ·

Regtig? Nou wat het geword van “natuurlike aanleg”? Jy kry tog kinders wat ‘n besondere aanleg het vir tale, musiek, kuns en sport………en geknak word deur die alewige gefokus op “wiskunde”………en jy kry kids wat “wiskundige wonderwerke” is en op GEEN ander gebied enigsens presteer nie…..?? en dit het net mooi NIKS met hulle karakter te doen nie, en ek’s nie eens ‘n “doktor” nie….ek let net op in die klas.

Ronel ·

Oppas net want die alewige gehammer oor die belangrikheid van wiskunde en hoe jy kan presteer met harde werk in wiskunde kan maklik die kind wat geen aanleg in wiskunde het nie, minderwaardig laat voel! Ek self was as kind uitstaande in musiek maar kon geen wiskunde doen nie.

John ·

Geen praktiese toepassing van wiskunde is deel van die leerplan nie. In wiskunde leer mens gou a+b=c, maar in die werklike lewe word jy gekonfronteer met: As ek dit doen en dat doen = dit die gevolg. Dit is hier waar ons somme eintlik tot hul reg kom. In wereldsake kom ons voor ingewikkelder probleme te staan. Wanneer ‘somme’ hier op verkeerde antwoorde en uitkomste uitloop, is daar moeilikheid. Kinders wat sukkel met wiskunde kan gehelp word deur die vak te vermenslik. Wiskunde is darem ook nie die begin en einde van lewensgeluk nie hoewel wiskunde onnies dit so laat klink. Die outeur gly oor die ander aspekte. ‘n Ongelukkige kind sonder ondersteuning en etiese standaarde in sy ouerhuis, kan jy maar met ‘n vrot vis slaan, sy begrip van wiskunde sal in verwarde visoene opeindig… met talle x’e in sy toetse.

vrikie ·

Daar word altyd labels op kinders se opvoeding geplaas, in ‘n utopiese omgewing is dit dalk moontlik .Die kenners noem niks van die omstandighede waarin kinders deesdae groot word nie. Die feit dat iemand soos Tony Factor en die eienaars van Twin trailers wat disleksies was en nie hulle skoolloopbane kon voltooi hoogs suksesvolle besigheids manne geword het ,is ‘n goeie bewys van deursetting vermoe sonder wiskunde

LB ·

Ek het geluister na die karakter beskrywing van Dr Danie Brink se kinders tydens hulle begrafnisdiens en het soveel respek vir wie hulle as gesin is. Die karakter wat daardie kinders openbaar het op so ‘n jong ouderdom spreek boekdele. Daardeur kan gesien word dat hierdie ouers hulle kinders reg opvoed met vaste waardes en beginsels en selfrespek omdat hulle ander ook met soveel respek behandel. Ek het selfs gewens hulle kan ‘n boek skryf met riglyne vir ander mense om daardie “magic” ook in die res van die volk te kan oordra. Ek kan egter nie die hoeveelheid erkenning wat wiskunde kry in hierdie opvoedingstaak verstaan of daarmee saamtem nie?? Dalk is dit omdat ek emosionele intelligensie as die norm beskou en die res volg daarna en dan die uitdra van respek en selfrespek, respek is iets wat al hoe minder gesien word in die mensdom se optrede teenoor mekaar.

Joe ·

Mnr Brink, ek stem 100% saam met u. Maar wat gemaak met standaarde in skole. Wat is die slaagsyfer deesdae vir wiskunde, as ek dit nie mis het nie en in layman’s terms gestel, is dit dat n leerling 2 uit 10 vrae reg moet he om te slaag???? Ek het nie kinders op skool nie so ek is nie seker nie.

Breytie ·

Dit word vir my, as opvoedkundige, al meer skrikwekkend om te vind dat die oortuiging dat mense net diere is met ‘n besondere breinvermoë, eenvoudig die onderliggende filosofie is waarop uitsprake oor onderwys en opvoeding gemaak word. So hopeloos is dit, dat dit nie eers sal help om op ‘n forum soos hierdie te probeer om ‘n sinvolle bydrae te maak nie. Daarom kan ek net pleit vir die begrip dat elke kind ‘n unieke mens is en nie ‘n soort worsmasjien wat ‘n bepaalde produk lewer as jy die “regte” stimulasie gee nie. Daar is soveel voorbeelde in die samelewing – as mense net bereid is om onbevange te kyk na die waarheid. Ek kan dit oorweeg om ‘n boek te skryf – maar dit sal maar net nog ‘n roepende in die woestyn wees wat oordonder word deur ‘n materialistiese benadering tot menswees. Ek gee op.

Eish ·

Née wat, ek dink jy is onnodig pessimisties. Skryf die boek, doen wat jy in glo, bring die bewyse tafel toe. Ek het n idee jy gaan meer aanklank vind as wat jy verwag. Opines is maar net wat dit is, opines en nie bewysbare wetenskap nie. Jy wat in die stryd staan gaan verseker meer prakties georiënteerd wees en sal dus baie beter uit die wegspringblokke kom as die teoretici. Alternatiewelik, open jou eie instelling wat die kroos wat afwyk van die formule akkomodeer en nuwe rigting gee,1en slaan munt uit die waarheid.

Breytie ·

Dankie, Eish, jy maak my dag. Maar ek moet net vir jou sê: om slegs ‘n klein duikie te maak in die onderwystoestand in hierdie land, gaan ‘n man op ‘n perd vat … met baie, baie makkers wat saam baklei.

Eish ·

Onthou die storietjie van die seesterre wat uitgespoel het op die strand en die perd wat hul een vir een teruggegooi het. Nadat hy gekonfronteer is oor die futiliteit van sy poging, was die bedeesde antwoord, ” Ja, ek maak nie aan almal se lewe n verskil nie, maar aan die een sin wel.” En daarmee gooi hy nog n seester terug in die oseaan.

johnny_walker ·

“I’m convinced that about half of what separates the successful entrepreneurs from the non-successful ones is pure perseverance…. Steve Jobs

johnny_walker ·

Upon questioning Einstein on how to make her child a genius , his answer was simple , tell him stories

en as jy mooi daaroor dink sal jy sien dit was sy mees geniale antwoord ooit

johnny_walker ·

terloops , wat is n suksesvolle kind ? ek wil eerder weet wat maak n suksesvolle volwassene
en wat is sukses ? vir my is dit iets vir jou iets anders , wie is reg en wie is verkeerd

Eish ·

Keep on walking! Nou kom ons iewers!
“That, detective, is the right question! ” I, Robot met Will Smith in die hoofrol.

Ben ·

Stem saam met Johnny_walker. Defineer eers sukses. ‘n Groot Salaris, baie geld, elke Sondag in die kerk. mmmmm? Wat van bv ‘n Goeie vrou of man, gelukige kinders en tyd om saam met die wat jy liefhet te spandeer??

E ·

Suksesvolle kinders het niks met sukses te doen nie. Hul word aan ons geleen deur God, d.w.s. God se kinders. Ons opdrag is om hul in die vrese van die Here groot te maak, punt.

Riaan ·

Meeste kommentators hier mis uit op: selfbeheer, lewenslus, dankbaarheid, optimisme. Dalk nooit wiskunde op skool gehad nie.

Lomie ·

Ek het 2 kinders waarvan hulle uitgeblink het op laerskool met wiskunde. In die hoër skool het hulle egter begin sukkel. Ons moes noodgedwonge ekstra klasse reël buite skool ure. Albei my kinders het gesê dat die onderwysers nie die tyd maak om weer te verduidelik vir die wat nie dadelik verstaan nie, want daar is te veel kinders in ‘n klas en die tyd is te min. DUS lê die probleem by die departement en nie by die kinders nie. Klasse is heeltemal te groot en onderwysers is eenvoudig nie opgewasse om so baie kinders te onderrig in ‘n klas nie. Die skool het ‘n naskoolse klas begin op ouers se aanvraag, maar kan net ‘n aantal hoeveelheid kinders akkomodeer per graad. Ons regering lê slap en daarom sukkel die kinders op skool.

Janneman ·

Wiskunde het my niks en nerens gebring nie. In my beroep wat ek het, het dit absoluut niks gehelp nie.Ek het dit gehaat en wou dit nie leer nie weens die feit dat ek geweet het dit gaan my niks baat in my veld wat ek belangstel nie. Ja basiese wiskunde tot Graad 8 maar sin, cos en tan glad nie

Hulle moet begin kyk om wiskunde op ‘n ander manier in ‘n skool sillabis in te bring soos biometrie. Nou dis ‘n wiskunde wat baie meer van toepassing is vir skoliere wat in natuurwetenskappe ingaan en ek het dit geniet, want dit maak meer sin. Hulle moet spesifiseer met watter tipe wiskunde gaan pas vir die leerder. So in my opinie moet daar meer as een soort wiskunde sillabus wees.

Trigometrie en Meetkunde is as voorbeeld vir Argitekte en dit was nie in my lyn nie. ‘n Kind hoef ook nie wiskunde te vat om te leer dink nie, hy/sy kan dit deur goeie ouersorg en motivering behaal en sy eie karaktereienskappe en die tipe mens hy/sy is, sal hul uitkoms bepaal, nie wiskunde nie. Ons is almal uniek en ‘n skoolvak moet nie altyd bo ‘n ander vak uitgepraat asof dit die superior vak is nie , want glo my wiskunde is dit glad nie

Disselboom ·

Die artikel kom geforseerd oor; en Breytie sê in die kommentaar hierbo dinge wat aandag verdien. Disselboom dink wiskunde is waardevol, maar hierdie artikel wil dinge bymekaarsit op ‘n manier wat wiskunde geforseerd wil toepas op die lewe.

Anton ·

In baie skole vandag is daar n groter fokus op sport want dit bring geld in vir die skool. Gaan maar na n prysuitdeling en sien hoeveel trofee daar is vir sport teenoor akademie. Janneman is reg, skoolvakke moet meer gerig wees op die lewe na skool
Skool moet kinders meer voorberei vir n loopbaan en kom ons wees eerlik, nie almal kan n loopbaan maak as n sportman/vrou nie. Daar word nie genoeg voorbereiding en opeiding gedoen en kinders behoorlik ingelig oor die werkslewe na skool nie. Sport en kultuur op skool is bloot wat dit vir meeste mense na skool gaan word, n sosiale aangeleentheid wat geld kos en nie kos op die tafel nie. Skool is eerste en moet altyd eerste wees vir akademie. Enigiets anders is vir altyd brons op die podium!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.