Swanger tydens Covid-19: Wat jy moet weet

Om swanger te wees is stresvol genoeg, selfs sonder ʼn nasionale pandemie of afsondering. Hier is die belangrikste inligting waarvan jy moet weet.

Omdat Covid-19 nog ʼn nuwe virussiekte is, word navorsing gedoen en leer die medici daagliks iets nuut daaroor. Aangesien die meerderheid van swanger vroue jonk en relatief gesond is, is die kanse kleiner dat hulle drasties geraak sal word, skryf The Conversation.

Maar in hierdie geval kan ons nie net aan die ma dink nie; ons moet ook aan die baba, wat nog nie ʼn sterk immuunstelsel het nie, dink.

Navorsing

Tot op hede kom die meeste van die beskikbare inligting oor die virus van China se ervaring daarmee. Een van die eerste studies is ook daar met ʼn klein groepie swanger vroue met die koronavirus gedoen.

Al nege vroue wat deel van die studie was, het geboorte geskenk deur middel van ʼn keisersnee, nie een van hulle was ernstig siek nie en al die ma’s en babas het herstel. Die rede hoekom hulle almal deur middel van keisersnee geboorte geskenk het, is onbekend.

Die studie het bevind dat daar geen tekens van Covid-19 by die babas, die borsmelk of ander vloeistowwe opgespoor is nie.

In ʼn onlangse geval in die Verenigde Koninkryk is ʼn ma wat positief getoets is vir Covid-19, se baba kort na sy geboorte getoets vir die virus en die uitslae het positief teruggekom. Dit is waarskynlik dat die baba die virus opgedoen het na geboorte, eerder as in die baarmoeder.

Die meeste babas wat al positief getoets is vir die virus het ligte simptome gewys en weer vinnig herstel.

Daar is geen bewyse van verhoogte komplikasies as gevolg van die ma wat positief getoets is nie, hoewel swanger vroue wat ernstig siek is se babas moontlik vroeg gebore sal word.

Daar is nie genoeg navorsing om te bewys dat Covid-19 miskrame veroorsaak nie, en dit is te vroeg om te weet wat die langtermynuitwerking op die babas is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasies (WGO) het op hulle beurt laat hoor dat daar geen bewyse is dat swanger vroue meer vatbaar is vir die virus as die algemene bevolking nie.

“Maar as gevolg van veranderinge in hul liggame en immuunstelsel, weet ons dat respiratoriese infeksies swanger vroue baie siek kan maak. Dit is daarom belangrik dat hulle voorsorg tref om hulself teen Covid-19 te beskerm, en simptome aan te meld as dit voorkom,” sê die WGO.

Die WGO sê daar is geen bewyse dat die virus oorgedra kan word van ma na kind in die derde trimester nie. Hulle moedig ook ma’s aan om slegs ʼn keisersnee te kry wanneer dit medies geregverdig word.

Hoe kan swanger vroue hulself teen die koronavirus beskerm?

Swanger vrou word deur die WGO aangemoedig om dieselfde voorsorg te tref as die res van die bevolking, insluitend die volgende:

  • Hoes en nies in jou elmboog in
  • Vermy mense wat siek is
  • Vra mense wat siek is om nie by jou te kom kuier nie
  • Was jou hande gereeld met seep en water of ʼn alkohol-gebaseerde reiniger
  • Vermy geleenthede waar baie mense bymekaar is
  • Moenie reis nie
  • Moenie aan jou oë, mond, of neus raak nie
  • Kry die griepinspuiting

Vroue wat dink hulle het die koronavirus moet hul dokter via video-oproep spreek, eerder as in persoon. Tydens en na die baba se geboorte sal vriende en familie heel waarskynlik nie in die hospitaal toegelaat word nie om die risiko van infeksie te beperk, so bespreek dit vroegtydig met jou dokter vir bevestiging.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.