Taalontwikkeling: wanneer en wat?

baby-390555_1280-1Liewe Susan,

My suster is ’n gr. R-onderwyseres en is van mening dat ons nie genoeg met ons twee maande oue baba “praat” nie. Dit voel vir my effens dom om so met ons baba te praat omdat hy in elk geval nie verstaan nie. Wat is jou mening?

Adri

 

Beste Adri

Dit ly min twyfel dat taalontwikkeling een van die sleutel-mylpale in vroeë kinderontwikkeling is. Baie van ʼn kind se toekomstige sosiale en intellektuele ontwikkeling hang van hierdie mylpaal af. ʼn Taalagterstand kan lei tot isolasie en dat die kind hom onttrek. Nog gevolge kan leerprobleme en swak akademiese prestasie wees.

Jou kind se taalontwikkeling help bepaal met hoeveel gemak hy deur die lewe se leerprosesse sal beweeg, van voorskools tot naskools en later. Om die waarheid te sê sal die hoeveelheid taal waaraan jy jou kind blootstel, help bepaal hoe slim hy sal wees.

Daar is ʼn noue verband tussen gesproke taal en spesifieke leerprobleme soos disleksie. Sowat 60 persent van disleksie-lyers het laat begin praat, skryf prof. Beve Hornsby in haar boek Overcoming Dyslexia.

Anders as wat baie ouers meen, is taalontwikkeling nie ʼn natuurlike of outomatiese proses nie. Daar is niks wat enige mens weet of kan doen wat hy nie (aan)geleer het nie. Dit is veral waar van taal.

Begin vroeg

Jou baba se brein wag nie tot geboorte voordat hy begin leer nie, sê die Amerikaanse spraak-en-gehoorwetenskaplike dr. Patricia Kuhl. Babas begin in die laaste tien weke van jou swangerskap al taal aanleer terwyl hulle nog knus in die baarmoeder wag om gebore te word.

Pasgeborenes kan binne ure ná geboorte al tussen hul moedertaal en vreemde tale onderskei.

Die boodskap wat dié navorsing aan nuwe ma’s stuur, is dat hul baba in die laaste fase van swangerskap reeds luister, leer en onthou, volgens Kuhl.

Dié uitspraak word deur verskeie studies ondersteun. In die sesde maand van swangerskap begin ʼn baba al ’n sensitiwiteit vir sy ma se stem en die ritme van sy moedertaal ontwikkel.

’n Duitse studie het die huilgeluide van 60 babas tussen die ouderdomme van drie en vyf dae opgeneem en ontleed. Die helfte van babas was uit Franssprekende gesinne en die ander helfte uit Duitssprekende gesinne. Daar was ’n duidelik waarneembare verskil in die vorm en klank van die babas se “huilgesange”.

Jy kan dus reeds voor geboorte al met jou baba begin praat. Hou ná geboorte daarmee vol – op dié manier bou jy voort aan die argitektuur van sy brein. Dis ʼn argitektuur wat hy later gaan nodig kry om goed te kan lees – en dus ook te kan leer – en flink te kan dink.

Ouers, ouer boeties en sussies, grootouers en oppassers kan reg van die begin af help om vir die nuwe aankomeling ’n behoorlike fondament vir taal-aanleer te vestig deur met hom te praat.

Wanneer en wat?

Julle het elke dag meer as genoeg geleentheid om te praat, soos met badtyd, tydens voeding, wanneer doeke omgeruil word of in die motor op pad dagmoeder toe. Gesels oor die omgewing, wat julle doen, die strate waardeur julle ry. Gebruik dieselfde sinsnedes, sinskonstruksie, woorde en rympies oor en oor. Hoe gouer jy daarmee begin, hoe vinniger sal jou baba taal aanleer.

Dit lyk asof ons brein bedraad is om sekere herhalings en patrone te herken en dus te kan weergee. Dit verduidelik hoekom babas se eerste woorde gewoonlik mamma, pappa of doedoe is.

’n Interessante stukkie navorsing wat dít bevestig is deur die Universiteit van Brits-Colombië gedoen. Die navorsers het die breinaktiwiteite van 22 pasgeborenes gemonitor terwyl hulle blootgestel was aan opnames van kamma-woorde. Verhoogde breinaktiwiteit is in die temporale en linkerfrontale breinareas van die babas bespeur wanneer woorde met herhalende lettergrepe vir hulle gespeel is. Sulke woorde is byvoorbeeld “mubaba” en “penana”. Woorde wat nie sulke opeenvolgende herhalings gehad het nie, byvoorbeeld “bamuba“ of “napena”, het geen noemenswaardige breinreaksie ontlok nie. Dit was een van die eerste studies waarin pasgeborenes se vermoë om strukturele taalpatrone te ontsyfer, getoets is.

Wat vertel dit vir ons?

Mense word gebore met die vermoë om hul moedertaal stelselmatig en doeltreffend te leer en te verstaan. Dit is dus nooit te vroeg om met jou baba te begin praat nie. Inteendeel, ons vertraag die aanleer van taal as ons nie van vroeg af met hulle te praat nie.

Mense het ’n passiewe taalkennis aan die een kant en ’n aktiewe taalkennis aan die ander kant. Wanneer ons luister of lees, maak ons gebruik van ons passiewe woordeskat; wanneer ons praat, gebruik ons ons aktiewe woordeskat.

Dit is baie belangrik om te weet dat jou kind se passiewe woordeskat ontwikkel deurdat hy woorde en frases herhaaldelik hoor.

Wanneer ’n woord of frase genoeg herhaal word, word dit dan deel van sy aktiewe woordeskat. Die aktiewe woordeskat kan slegs ontwikkel en verbeter deur die passiewe. Navorsing wys dat ʼn kind wat net begin praat ’n woord omtrent 500 keer moes gehoor het voordat dit deel van sy aktiewe woordeskat word.

So ja, dis nie malligheid om met jou baba te praat nie – hy praat aanvanklik nie terug nie, maar hy leer uit elke woord wat jy vir hom sê.

Die eerste 18 maande

Die eerste lewensjaar word as die pre-spraak- of pre-linguïstiese fase beskou. Spraakontwikkeling geskied deur oogkontak en klank-uitruiling tussen versorger en baba. Ons praat hier van babbelgeluide soos byvoorbeeld dadadada, mamamama en waaaa.

Daarna kom die eenwoord-sinnetjie. Tussen 10 en 13 maande sal jou baba begin om eenwoord-sinne te sê; dit sal gewoonlik binne konteks geskied en aangevul word deur nie-verbale gebeure. ’n Voorbeeld is wanneer jou baba in sy bedjie oorleun, “bottie” sê en na sy bottel reik. Die volwassene sal dit interpreteer as “Gee my bottel aan sodat ek dit weer oor die rand van my bedjie kan gooi”. Of die baba sê “pappa” wanneer sy pa deur die voordeur stap, of wanneer hy wil sê, “Pappa, kom na my toe.”

Die kind bereik teen 18 maande die vlak van tweewoord-sinne. In hierdie stadium bevat die sinnetjie ’n selfstandige naamwoord of ’n werkwoord, en ’n bywoord. Dit stel die kind daartoe in staat om ’n sinnetjie te formuleer wat beskrywend, negatief, opdraggewend of vraagstellend kan wees. Voorbeelde sluit in:

“Hondjie klein” (beskrywend)
“Waar bal?” (vraagstellend)
“Nie eier” (negatief)
“Nog suiker” (opdrag/bevel)

Ons moet ook in gedagte hou dat as so ’n tweewoord-sinnetjie ondersteun word deur die situasie sowel as deur nie-verbale kommunikasie, dit nogal ’n heel ingewikkelde boodskap is wat die kleinding oordra.

Tussen 24 en 30 maande begin kinders meer gekompliseerde veel-woordsinne te gebruik.

Lees vir jou kind

Kinderboeke word gewoonlik vir ’n bepaalde ouderdomsgroep aanbeveel, maar dis nie nodig dat ʼn mens wag tot jou kind drie of vier is voordat jy vir hom begin lees nie. Jy kan reeds op twee of drie maande begin voorlees, maar die groot geheim is om dieselfde storie oor en oor te lees. Kinders is mal daaroor, veral as hulle die storie begin ken en jou kan reghelp wanneer jy “verkeerd” lees! Kinders vir wie daar van kleins af gelees word, ontwikkel vroeg reeds ’n meer uitgebreide woordeskat en ’n goeie kennis van sinskonstruksie.

Volgens dr. Cathy Hamer is in navorsing gevind dat ouers wat met hulle kinders praat, vir hulle lees, mooi na hulle luister en op hulle gebabbel, gebare en woorde reageer, vir hulle ’n voorsprong gee. Hoe meer gesprekke daar van babatyd af tussen ouers en kinders is, hoe beter is die kind se ontwikkeling op taalgebied.

Daar is ʼn sterk verband tussen ʼn kind se taalontwikkeling op ouderdom van twee (hul verstaan en gebruik van woorde en twee- of drie-woordsinne) en die skoolprestasie van ʼn kind wat met skool begin. Die prestasie van die skoolbeginner hou weer verband met dit wat hy later op opvoedkundige vlak bereik. Navorsing wys ook dat dit wat ʼn ouer vir haar kleinding doen, veral wat taalontwikkeling betref, uiteindelik ʼn belangriker rol speel in skoolgereedheid as wie sy is wat beroep, inkomste en status betref.

Dis gratis!

Adri, ons babas en kleuters word deesdae aan baie vorms van stimulasie blootgestel, soos byvoorbeeld wetenskaplik ontwikkelde speelgoed, vorms, kleure, en klanke. Poppe en karretjies is ál hoe meer realisties en ouers en familie staan verstom deur die oorvloed van keuse wanneer daar vir die nuwe kleinding goedjies aangeskaf word. Dis wonderlik. En tog … een van die belangrikste stukkies “speelgoed” vir hulle kognitiewe ontwikkeling is ontdaan van enigiets wat gekoop kan word: gereelde blootstelling, van die begin af, aan die stemme van mamma en pappa, en die woorde van hulle moedertaal.

Groete,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 580 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Kaufman ·

Dankie vir die uitstekende raad. Ouers, oumas, oupas, ooms en tannies, lees dit vir jou kind se onthalwe, en deel dit met alle ouers wie jy ken want dis hoe jy n groot verskil in die wereld kan maak.

Elsabe ·

Ek wil graag opregte waardering uitspreek teenoor MAROELA MEDIA vir die wonderlike opvoedkundige artikels wat jul plaas. Mag ek groot asb vra vir nog artikels oor peuters en klein kindertjies se gedrag en dissipline? Ek is nog baie ouskool en glo soos wat Die Bybel aan ons voorskryf dat ‘n pak op sy tyd is soos brood en konfyt. My kinders het goed deurgeloop en 2 wonderlike volwassenes wat hul plek vierkant volstaan in die samelewing. Ek het nou ‘n kleinseun van 3 jaar – ‘n geweldige sterk bulletjie van ‘n kind….met groot hande – en of dit nou nie genoeg seen was nie het hy op die koop toe ‘n baie sterk wil….en ons loop deur en staan somtyds verstom. Hy kan somtyds bietjie destruktief wees wat my effens bekommer en in al my onkunde wil ek graag hoor wat jul ingeligte opvoeders sal aanbeveel ons moet probeer….want pakgee skrik hom nie af nie! ‘n Mens kry vir bykans alles in die lewe opleiding – maar om ‘n goeie ouer en ouma (in my geval) te wees is daar nie opleiding nie. Ek het al op die internet gaan soek na antwoorde – maar baie van die artikels is deur oorsese skrywers gedoen en hul waardesisteme is nie noodwendig in lyn met wat ons in SA glo of doen nie. Sal ‘n reaksie vanaf jul geweldig baie waardeer. Ek wil as ouma graag my bedrae maak tot hierdie sterkman se opvoeding.

Eend ·

Ek voel dat hierdie artikels nie die nodige aandag kry wat dit moet nie. Ek wens dit kan selfs nog meer wyd versprei word.

MissDemeanor ·

Adri, jou baba sal jou vinniger begin verstaan as jy vinniger en meer met hom/haar sal praat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.