Taboe-onderwerp laat ons meisies ly

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ons as Afrikaanssprekendes praat nie daaroor nie. Dit gebeur mos nie onder óns mense nie. Die realiteit is egter dat meisies in Afrikaanse skole tot 55 dae per jaar skool mis omdat hulle nie sanitêre produkte het nie. Ongelukkig is die meeste meisies te skaam om oor dié probleem te praat.

Onlangse navorsing deur Solidariteit Helpende Hand wys dat meer as 10% van die meisies in minder welvarende skole nie oor genoeg sanitêre produkte vir ’n maand beskik nie. ’n Verdere 7% het aangedui dat hulle skool mis omdat hulle nie genoegsame produkte het nie.

Die probleem word vererger deurdat die helfte van die meisies nie gemaklik daarmee is om hulle menstruasie te bespreek nie, selfs nie eens in hul portuurgroep nie. Hierdie meisies is ook nie gewillig om vir hulp te vra nie.

Na aanleiding van hierdie navorsing het Helpende Hand besluit om die #HelpHanna-projek te loods. Die organisasie poog om skole en behoeftige meisies deur dié projek op ’n maandelikse basis met die nodige sanitêre ware te ondersteun en sodoende te help verseker dat hierdie behoefte nie meisies uit die skool hou nie.

Hanna is ’n tipiese skoolmeisie wat in moeilike omstandighede leef en daarom nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Hanna is egter nie skaam om oor haar siklus te praat nie en sy moedig meisies aan om vir hulp te vra.

Die #HelpHanna-projek pas perfek in by Vrouemaand. Die projek en verslag is amptelik op 20 Augustus 2015 by Hoërskool Bastion in Roodepoort bekendgestel. Amalia Uys het die rol van Hanna vertolk en die meisies by Hoërskool Bastion aangemoedig om oor die probleem te praat en hulp te kry.

Die projek skenk spesiale Hanna-pakkies met die nodige sanitêre produkte, Wet Wipes en ’n antiperspirant aan skole.

Hou ons meisies in die skool! SMS die woord ‘helphanna’ na 38969 en skenk R10 om meisies in die skool te hou. Skole wat belangstel om pakkies te ontvang, kan die projekorganiseerder, Michelle Burger, kontak by 012 644 4390, of stuur ʼn epos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Husse met Lang Ore ·

Aai die verpeste tannie in haar rooi karretjie!

Christie Joubert ·

Het pas ge-sms. Kalenderpes is nie vir sissies nie!

Ian Viljoen ·

Hoekom kan n goedkoper produk wat baie aktief is ook gratis deur die staat voorsien word soos hul kondome gratis gee. Plaas dit gratis in houers in skole se meisies toilets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.