Talle keuses vir ouers wat aanlyn skole, tuisonderrig oorweeg

Argieffoto.

Met slegs gr. 7 en gr. 12-leerders wat Maandag na die skool terugkeer en talle aanduidings dat sommige skole nog nie gereed sal wees om dié grade se leerders te ontvang nie, lyk aanlyn skole en tuisonderrig al hoe meer na ʼn aanloklike uitweg vir sommige ouers.

Talle ouers sal ook nie hulle kinders vanjaar kan terugstuur skool toe nie omdat hulle ʼn onderliggende siekte het wat die gesin en kind meer blootgestel aan Covid-19 laat.

As die blote gedagte van jou kind wat moet terugkeer na die skool jou nog in ʼn koue sweet laat uitslaan, kan jy hier na ʼn paar plaaslike aanlyn skole en diensverskaffers kyk wat jou kind kan help om die skooljaar te voltooi.

Die skoolgeld vir die aanlyn onderrigverskaffers beloop tussen R3 500 en R28 000 per jaar as hulle die plaaslike kurrikulum volg. Fooie word duurder indien aanlyn onderrig van ʼn buitelandse kurrikulum verskaf word.

Hier is sommige van die plaaslike opsies vir ouers wat tuisonderrig oorweeg:

Curro Online is die jongste aanlyn skool in Suid-Afrika wat pas verlede week bekendgestel is. Die grootste privaatskoolgroep in die land het benadruk dat hulle nie die tradisionele tuisonderrigmodel sal volg nie waar ouers die verantwoordelikheid van onderrig en deurlopende toesig moet aanvaar. In dié Curro-model sal ʼn onderwyser gedurende elke les aanlyn teenwoordig wees en ouers sal slegs hulle kinders se huiswerk moet nagaan. Klasse sal in Engels aangebied word en aanvanklik net van gr. 4 tot gr. 9, terwyl die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamens afgelê sal word.

Brainline bied al langer as 30 jaar afstandsonderrig aan en het drie jaar gelede ʼn volledige virtuele aanlyn skool geword. Volgens Coleen Cronjé, uitvoerende hoof van Brainline, is hulle verheug oor Motshekga se kopknik vir tuisskole. Dié skool bied gr. R tot gr. 12 aan en volg die KABV-kurrikulum (bekend as CAPS in Engels). Brainline maak gebruik van klasse wat regstreeks uitgesaai word, webinare en opgeneemde lesse. Cronjé sê mense kan ook handboeke koop, want fisieke boeke is dikwels gemakliker vir kinders om oor langer tydperke te gebruik. Die IEB assesseer Brainline se eksamens en ouers ontvang rapporte ná elke assesseringsperiode.

Clonard Distance Education bied sedert 1996 hulp vir tuisonderrig aan. Heather Tyrrell, direkteur van Clonard, sê hulle bied vir ongeveer ʼn duisend leerders die KABV-kurrikulum (CAPS) via aanlyn lesse en handboeke aan. Clonard is geregistreer by die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) en word bestuur deur gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse onderwysers en assessore.

Cambrilearn bied die Britse kurrikulum aanlyn vir leerders in Suid-Afrika aan. Klasgeld begin by R10 000 per jaar en kan tot R60 000 styg. Aanlyn onderwysers, daaglikse interaktiewe lesse, private lesse en kletsfasiliteite word aangebied. Die verskaffer dek van voor-primêre tot A-vlakke. Leerders kan aanlyn klasse selfs op ʼn slimfoon volg en dit bied lesse, vorderingstoetse en -opdragte, asook toetseksamens om leerders se vordering te meet.

Impaq bied sedert 2002 aanlyn onderrig aan meer as 18 000 studente. Hulle volg ook die KABV-kurrikulum met lesse wat deur webinars aangebied word. Meer as 1 200 ervare en gekwalifiseerde tutors ondersteun leerders. Impaq is ook by Sacai geregistreer en leerders lê die nasionale seniorsertifikaat se eksamens af. Gr. R tot 12 word by Impaq gehelp en hulle meen leerder kan maklik weer in die tradisionele skoolstelsel integreer indien hulle ouers dit later so sou verkies.

Mytopdog bied aanlyn leerhulp aan leerders via die Vodacom-e-skool wat gratis en sonder datakoste is vir leerders van gr. 4 tot gr. 12. Leerders kan videolesse teen hulle eie tempo volg.

Think Digital College (TDC) is sedert 2016 werksaam, en Janessa Laita, uitvoerende hoof, sê dit is daarop gemik om die skoolomgewing aanlyn te herhaal deur opgeneemde lesse te gebruik en leerders toegang tot ’n tutorportaal te bied. Die skool stuur weekliks aan ouers ’n verslag oor die aktiwiteite, toetse en assessering van hul webwerf. Hulle gebruik private tutors sodat dit vir ouers makliker is, sê Laita. Hulle het tans bykans 5 000 leerders. Die skool bied die KABV-kurrikulum aan vir gr. R tot gr. 12-leerders, asook die R tot A-vlakke van die Britse skoolstelsel wat deur die Cambridge-kurrikulum ondersteun word.

Valenture Institute is ʼn aanlyn private hoërskool wat gefokus is op individuele groei in ʼn sosiale leeromgewing. Die instituut bied persoonlike mentors asook leergeleenthede in groepe aan, en die kwalifikasies strook met die Pearson Edexcel-model op vier verskillende vlakke vanaf gr. 8 tot die internasionale A-vlakke. Valenture bied vakke soos Engels, wiskunde, lewensvaardighede, sosiale studies, omgewingsbestuur (geografie en biologie), besigheidstudies, volhoubare entrepreneurskap, wetenskap (biologie, fisika en chemie) en inleiding tot Frans aan.

Virtual Schools bied gr. 1 tot gr. 12 aan met behulp van gemengde leermetodes. Leerders kry lesse by aanlyn tutors en gebruik handboeke en studiegidse. Die lesse word volgens ’n tydlyn uiteengesit en daar is geen behoefte vir ouers om in te staan nie, want leerders kan ’n tutor skakel indien nodig, sê Alby Masters, registrateur van Virtual Schools. Hulle bied ook opgeneemde en groeplesse aan. “Die doel is om leerders aan te moedig om onafhanklik te leer,” sê Masters. Hy sê Virtual Schools se program is van so ’n aard dat leerders enige tyd kan begin en klaarmaak as hulle gereed is. Dit is maklik om die kurrikulum van een jaar binne ses tot nege maande aanlyn te voltooi, omdat daar geen afleidings is nie, voeg Masters by.

Afrikaanssprekende leerders kan tans gratis by Die Wolkskool aansluit. Die skool is deel van Solidariteit se Skoleondersteuning en bied lesse van gr. 1 tot gr. 12 aanlyn aan. Die webwerf is oorspronklik begin as ’n aanlyn hulpmiddel om leerders en onderwysers te help, maar is met die Covid-19-afsondering tot ʼn volle aanlyn leerplatform ontwikkel. Die skool help tans 7 000 matriekleerders om gr. 12 te voltooi. Die platform is tot 30 Junie gratis.

  • Het jy die perfekte aanlyn skool of tuisonderrigmodel vir jou kind gevind? Laat weet Maroela Media in die kommentaarfunksie van die skool, sentrum of model sodat ouers gehelp kan word om ʼn ingeligte besluit te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae