Teenboelieveldtog besoek Limpopo  

boelie-desperaat-hartseer-depressie

Foto: Anemone123/Pixabay.com

Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het onlangs by Laerskool Bosveld Primary en Laerskool Ellisras in Limpopo besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om met leerders, onderwysers en ouers saam te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Lombaard, AfriForum se leierskapsontwikkelingskoördineerder.

“Laerskool Bosveld Primary is ’n waardegedrewe skool wat op vyf belangrike waardes fokus, naamlik omgee, eerlikheid, verantwoordelikheid, volharding en respek. Ons het hierdie jaar besluit om spesifiek op die omgeewaarde te fokus, met die klem op die bekamping van afknouery,” sê Karin Meyers, departements- en dissiplinehoof by Laerskool Bosveld Primary.

Afknouery of boeliery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie, veral in situasies waar die onderwysers self aan die kortste ent trek. As voorbeeld hiervan sien die vorige artikel oor ʼn voorval by die Three Rivers Secondary School in Sedibeng waar ’n leerder ’n skryfboek na ’n onderwyser in ’n klaskamer gooi.

’n Boeliesituasie word gekenmerk deur ses definiërende faktore:

  • Intensie om iemand skade te berokken – Die oortreder vind genot daarin om die slagoffer te domineer en uit te tart en hou daarmee vol selfs al toon die slagoffer tekens van nood.
  • Intensiteit en die duur van die situasie – Die boelie hou aan met sy gedrag oor ’n lang periode en die afknouery veroorsaak dat die slagoffer se selfbeeld ’n knou kry.
  • Mag oor die slagoffer – Die boelie het mag oor die slagoffer as gevolg van ouderdom, fisieke krag, grootte of geslag.
  • Kwesbaarheid van die slagoffer – Die slagoffer is meer sensitief vir ’n getergery, kan homself nie voldoende verdedig nie en het fisieke of sielkundige eienskappe wat hom meer kwesbaar maak vir boelies en viktimisering.
  • Gebrek aan ondersteuning – Die slagoffer voel geïsoleerd en blootgestel. Soms is die slagoffer bang om afknouery te rapporteer uit vrees vir vergelding.
  • Gevolge – Die skade wat die slagoffer se selfbeeld opdoen kan lank voortduur en kan daartoe lei dat die slagoffer homself aan skoolaktiwiteite onttrek, of ook aggressief begin raak.

Boeliegedrag verskil dus van die gedrag in ’n gewone konfliksituasie binne die portuurgroep. In ’n gewone portuurgroepkonfliksituasie tree mense soos volg op:

  • Dring nie daarop aan om hul sin te kry nie;
  • Gee redes waarom hulle van ander verskil;
  • Vra om verskoning en probeer wen-wen-resultate bereik;
  • Is bereid om te onderhandel oor hoe hulle behoeftes bevredig kan word;
  • Kan die onderwerp verander en wegstap.

Stuur ’n e-pos na [email protected] as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Dirk ·

Ek steun AfriForum se Teenboelie veldtog. Ek wil egter net noem dat al die kinderregte word weergegee in die kinderwet. Daar word verkeerdelik net gefokus op die regte van die kind maar die verantwoordelikhede met betrekking tot elke reg wat die kind geniet word heeltemal misgekyk. Die verantwoordelikhede is die afdwingbare gedeelte van elke kind se regte. Daarom voel ek dat indien die boelie identifiseer is, kan sy verantwoordelikheid deur om mede leerlinge met respek te behandel vir die boelie geleer word, al beteken dit dat die boelie op n program geplaas word wat hierdie gedrag aanspreek. Ek kan selfs voorstel dat die ouers van die boelie die kostes moet dra.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.