Tien maniere om jou kind met wiskunde te help

wiskunde-seun-tel-sy-vingers

Foto: Dreamstime.com

Deur Hendrik de Kock, Wolkskool-dosent

“Maar Ma, waar gaan ek nou ooit hierdie wiskunde in die regte lewe gebruik?” As jy ʼn ouer van ʼn laerskoolkind is, het jy tien teen een hierdie woorde al menige male gehoor.

Jy besef dat jy jou kind moet help om met goeie begrip en vaardigheid, basiese wiskunde-konsepte te bemeester, sodat hy/sy voorbereid vir die toekoms sal wees. Vaardigheid met basiese konsepte soos optel, aftrek, vermenigvuldig en deel, lê die grondslag vir hoër orde-wiskunde (soos bv. algebra), maar veral die vermoë om probleme op te los.

“Education is not the learning of facts, but the training of the mind to think,” aldus Albert Einstein

Die vraag bly steeds: Hoe verduidelik jy dit aan ʼn laerskoolkind?

Hier volg tien wenke vir jou as ouer om ʼn liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek, sodat dit nie nodig sal wees om te vra hoekom hy/sy wiskunde moet baasraak nie.

  1. Taal en wiskunde: Wiskunde is ʼn taal op sigself, maar sonder om die onderrigtaal, sê Afrikaans, goed te verstaan, sal hulle ook sukkel met definisies van wiskundige begrippe, soos bv. “groter as” en “kleiner as”.
  2. Vestig getalbegrip eerder as truuks, memorisering of slim maniere/metodes:
  • Om ʼn truuk in Wiskunde aan te leer sonder begrip, is baie skadelik. Om vir ʼn kind te leer dat die komma by ʼn desimale getal na links skuif met vermenigvuldiging sonder die begrip dat die getal groter word, is sinneloos.
  • Moet ook nie strategieë afdwing nie – laat hulle liewer toe om dit self te ontdek.
  1. Fundamentele- en basiese wiskunde: ʼn Kind moet sy basiese berekeningsreëls ken, soos die volgorde van berekenings asook vermenigvuldigingstafels.
  2. Gebruik hulpmiddele: Telrame, albasters, blokkies, breukstelle, ensovoorts, moet altyd beskikbaar wees. Selfs klippies en stokkies is baie beter as pen en papier.
  3. Wys op die relevansie: Ons leef in ʼn wiskundige wêreld – help jou kind om dit raak te sien (Die venster is ʼn reghoek, die gebou is ʼn kubus, die motorband is ʼn silinder, ensovoorts.).
  • Metrieke eenhede: Betrek hulle by kosmaak (resepte), wanneer hoeveelhede afgemeet moet word, ensovoorts.
  • Tyd: Hoe laat is dit? Hoe lank nog?
  • Afstand: Hoe ver nog? Wat is die afstand?
  • Kombinasies van afstand en tyd: Hoe ver kan ek ry as ek 3 uur ry teen 60 km/h, ensovoorts.
  • Geld: Hoeveel kleingeld? Ongeveer hoeveel gaan die kruideniersware altesaam kos?
  1. Speel wiskundespeletjies: Wiskunde moet pret wees!
  • Getalle: Nommerplaatspeletjies in die motor, Ludo, slangetjies-en-leertjies, ensovoorts.
  • Vorms: Boublokkies en ander dinge van verskillende vorms.
  • Om wiskunde in die vorm van speletjies te doen, bring baie pret in die vak en dit voel nie soos werk nie.
  • Doen wiskundespeletjies gedurende gesinstyd.
  • Kompetisies by die huis, maar ook olimpiades.
  1. Gebruik tegnologie tot hulle voordeel: Rekenaarspeletjies: laat hulle wiskunde speletjies en -oefeninge op die rekenaar doen.
  2. Fokus op logika, nie op reg en verkeerd nie.
  • Leer uit die foute wat in die berekeningstappe gemaak is, sodat die antwoorde uiteindelik reg kan wees.
  • Moenie op perfeksie fokus nie, plaas eerder jou fokus op logika en die stappe wat op mekaar volg eerder as op die antwoord self.
  • Kweek denkvaardighede en probleemoplossingstrategieë – dit sal op baie gebiede baie handig wees.
    A person who never made a mistake never tried anything new,” het Albert Einstein gesê
  1. Watter woorde gebruik jy as jy aan wiskunde dink?
  • Sê gedurig vir jouself wiskunde is maklik, fassinerend, pret, bruikbaar en handig. Vergeet van frases soos, Ek kan nie wiskunde doen nie; Ek is nie aangelê om wiskunde te doen nie; My familie kan nie wiskunde doen nie; My ma is nie ʼn wiskundemens nie.
  • Pasop vir etikettering: Wiskunde is net vir bleeksiele (nerds) en slim mense; Almal sukkel met wiskunde.
  • Weerhou jou daarvan om negatief van die onderwyser te praat. Te veel prys is ook ʼn probleem. As ʼn kind gedurig hoor hy ʼn wiskunde-genie, kan hy ʼn vrees ontwikkel vir mislukking. Help jou kind om aan sy/haar wiskundeselfbeeld te bou.
  • Motiveer positief: Gesonde aanmoediging, en die prys van harde werk en uithouvermoë. As jou kind moedeloos word en sê hy is moeg en kan nie meer nie, verduidelik hoe goed dit vir jou brein is om te oefen, te groei en sterk te word.
    Einstein het gesê: “Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree it will live its whole life believing that it is stupid.”
  1. Kweek ʼn groei-ingesteldheid.
  • Of jy nou met ʼn aanleg vir wiskunde gebore is, al dan nie, kos dit harde werk om uiteindelik te kan presteer.
  • Word wiskundig fiks! Vergelyk dit met ʼn atleet, ʼn pianis, en so meer, wat voortdurend, daagliks moet oefen. Aanhouer wen!
    Einstein se woorde: “It’s not that I’m so smart; it’s just that I stay with problems longer,” is hier baie gepas.
Meisie-haat-wiskunde

Foto: Dreamstime.com

Soos dit goed is om elke dag vir jou kind te lees, so is dit ook noodsaaklik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen. Hulle leer dat as hulle bereid is om hard te werk aan iets waarvoor hulle lief is, hulle dit sal koester en nog harder daaraan wíl werk – nie omdat hulle moet nie, maar omdat dit vir hul lekker is.

Hulle sal ook nie ʼn vrees vir wiskunde ontwikkel nie. Dis nie nodig vir jou kind om uit te blink in wiskunde om daarvoor lief te wees nie. Dit maak nie saak of hulle goed is in wiskunde nie, maar dit maak saak hoe hulle daaroor voel.

Met ʼn bietjie aanmoediging, tyd en entoesiasme kan hierdie wenke jou kind help om wiskunde selfs nog meer te geniet en lief te hê.

Die Wolkskool is ʼn aanlyn leerplatform met lesse in videoformaat, assesserings en werkkaarte wat leerders in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas aanvullend tot skoolonderrig kan deurwerk. Dit sluit dus aan by nuwe, moderne wêreldklas-onderwysinisiatiewe wat leerders toerus vir die 21ste eeu. Besoek www.wolkskool.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

My kind het discalcula. Sy Kan nie eers horlosie lees nie. Ken haar tafel uit haar kop. Wiskunde is Baie teer Punt by ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.