Tien redes waarom jou kind avontuur moet beleef

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Verbeel jou: Dis laatoggend op die rotse van Hermanus se ou hawe. Die suidewind druk die reuk van seebamboes en seesproei tot by Piet se Klip. Reusedeinings storm in die hoek agter die ou viswerke vas. Ons wag vir die regte oomblik … En dan spring ons die vyf meter ondertoe, en spoel saam met ʼn skuimende massa water bo-oor die plat klipbank onder ons. Met bonsende harte en adrenalien wat deur ons are bruis swem ons weg voor die volgende watermassa die rotse tref.

As jy aan avontuur dink, dink jy dalk aan ʼn bootreis na ʼn eiland, ʼn seevakansie waartydens jy in wilde branders baljaar, of ʼn skivakansie in die Alpe. Maar tydens iALA (Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur) se brugjaar word jongmense geleer dat avontuur nie net lekker is nie, maar dat dit ʼn medium is waardeur jy meer oor jouself kan leer sodat jy jou volle potensiaal kan bereik, verduidelik Jan Heenop, direkteur van iALA.

Navorsing oor avontuur oor dekades heen het aan die lig gebring dat enige vorm van avontuur vir jou fisiologiese, intellektuele en emosionele ontwikkeling verskeie voordele inhou, vertel Jan:

  • ʼn Hupstoot vir die grysstof. Avontuur dien as ʼn stimulant wat jou brein waarsku dat hy moet “wakker word”, omdat daar gevaar is. Enige avontuursituasie is gepak met uitdagings en ʼn verskeidenheid stimuli wat waargeneem en reg verwerk moet word.
  • Emosionele insig. Avontuur help jou om jou emosies beter te verstaan, wat weer jou gedrag beïnvloed. Elke “veg of vlug”-reaksie wat jou liggaam in ʼn avontuursituasie het, wek sekere emosies by jou op. In ʼn avontuursituasie moet jy verantwoordelikheid neem om te besluit wat jy met hierdie emosie maak. Só leer jy om jou emosies reg te bestuur, ook in ander situasies.
  • Met elke tree wat jy in die natuur gee, leer jy om probleme op te los. Jy moet deurlopend inligting inneem sodat jy die omstandighede reg kan interpreteer en die situasie reg kan hanteer.
  • Kritiese denke. Tydens avontuur word die vaardighede waaroor jy beskik, die hele tyd opgeweeg teen die moontlike impak van die aktiwiteit waaraan jy gaan deelneem: “Gaan ek oorleef?” Hierdie manier van dink is krities in die regte wêreld.
  • “Wanneer ons in groepe in die see speel, op ʼn rivier roei of in die woud fietsry, moet ons nie net vir ons self verantwoordelikheid neem nie, maar ook vir die veiligheid en welsyn van ander in die groep,” verduidelik Jan. “Leierskap is nie ʼn posisie nie, maar ʼn manier van doen waardeur jy ander dien. Volhoubare leierskap beteken dat jy iets verstaan van die omgewing waarin jy jouself bevind, die impak van dit wat jy doen op hulpbronne (insluitend finansies), en die groter konteks waarbinne jy funksioneer.”
  • Elke aspek van jou gedrag, jou emosionele intelligensie en jou persoonlike ontwikkeling is afhanklik daarvan dat jy reflekteer op jou omstandighede, jou gedrag en die besluite wat jy neem, sodat jy daaruit kan leer vir toekomstige besluitneming.
  • Avontuur en die natuur maak jou gedagtes skoon. Die resultate van ʼn studie, wat in “The proceedings of the National Academy of Sciences” gepubliseer is, het bevind daar is ʼn duidelike verskil in die impak wat 90 minute se stap in die stad, en 90 minute se stap in die natuur op jou het. Mense wat in die natuur stap, is aansienlik meer positief as hul stedelike eweknieë.
  • Kreatiwiteit. In 2012 het navorsing deur Ruth Ann Archley aangetoon dat die kreatiwiteit en probleemoplossing van stappers wat vier dae in die natuur gestap het sonder die hulp van tegnologie, 50% beter was as dié van mense wat nie in die natuur gestap het nie.
  • Ligter gemoed; minder spanning. Om buite en in die natuur te wees, verbeter jou selfbeeld, en verlig gevoelens van negatiwiteit, aggressie en depressie.
  • Beter gesondheid. Ons almal weet ʼn mooi sonsondergang roer jou hartsnare, maar aktiwiteite in vars lug help ook jou hart om beter te klop. Die Japannese het met navorsing bewys dat jou bloeddruk verlaag indien jy aktiwiteite in die natuur aanpak. Die doodgewone inname van water en ʼn bietjie inspanning wat jou laat sweet, is natuurlike maniere om van gifstowwe ontslae te raak. Deurlopende blootstelling aan die buitelug en avontuur-aktiwiteite verhoog ook jou immuniteit.

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Avontuur sál jou lewe verander – of jy nou kies om saam met jou kinders om die blok te gaan fietsry, en of jy ʼn Saterdagoggend-staproete in ʼn natuurreservaat naby jul huis aanpak, en of jy ʼn sesdag-staproete in die Drakensberge aandurf. As die gogga eers gebyt het, laat los hy nie sommer nie. Meer nog – jou liggaam en siel het dit bitter nodig.

  • iALA bied al die afgelope tien jaar ʼn opvoedkundige brugjaar aan vir studente wat hul lewensvaardighede wil verbeter deur avontuur en selfontdekking. Matrikulante kan nou inskryf vir 2020 se iALA-brugjaar. Besoek iALA se webwerf hier om meer uit te vind.

Wen ʼn iALA-brugjaar!

  • Maroela Media en iALA gee een Maroela-leser wat vanjaar in matriek is, die geleentheid om ʼn brugjaar ter waarde van R115 000 te wen. Die enigste vereiste is dat jy die brugjaar regtig nodig moet hê, om watter rede ook al. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.