Tienjarige maak skattige huiswerkvideo’s vir maats in inperking

Klein Carli Moss verduidelik die wêreldkaart aan haar maats.

Toe die algehele inperkingstyd vir klein Carli Moss van Vanderbijlpark nét te lank begin raak, het sy haar tot YouTube gewend op ʼn heel ander wyse as die meeste tienjariges.

Haar skattige video’s, waarin sy skoolwerk aan maats verduidelik om dit vir hulle makliker te maak en haar onderwysers te ondersteun deur hul harde werk op video vas te lê, word wyd en syd versprei.

Carli se ma, Elani Moss, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dié gr. 4-leerder aan Laerskool Emfulenipark het haar heeltemal verbaas met haar nuwe stokperdjie voor die selfoonkamera. Sy het reeds nege video’s gemaak waarin sy onderwerpe soos onder meer “Die Aarde”, “Nelson Mandela”, “Diereskuilings” en “Watersiklus” in kreatiewe kostuums en met kleurvolle agtergronde behandel.

Volgens Moss het die videoreeks ontstaan een middag toe Carli skielik die idee gekry het om die huiswerk wat sy reeds ʼn week vooruit gedoen het vir haar maats op video op te neem.

Carli Moss. (Foto: Verskaf)

Moss sê sy was aanvanklik onseker of sy video’s op sosiale media wil deel, maar het besluit om dit op haar eie YouTube-kanaal te laai en op Facebook te deel.

“Hulle kry tweeweekliks huiswerk by die skool en sy doen gewoonlik in die eerste week al haar werk klaar. Sy het toe die idee gekry om ʼn video oor ʼn onderwerp met my selfoon te maak en vir haar maatjies te stuur, dan kan hulle net na die video kyk en hoef hulle nie te leer nie. Sy het ook gesê dit sal vir juffrou én die mammas wat nie weet hoe om te verduidelik nie, help,” lag sy.

Sy sê die skoolhoof en Carli se onderwysers is uit die veld geslaan deur haar kinderlike inspirasie om haar maats te help. “Hulle is net so verbaas soos ek oor hoe hierdie stil dogtertjie in die klas skielik ontpop het.”

Moss vertel Carli kies elke onderwerp self en sit sy dan handjie by met die kostuums en redigering van die video’s.

“Sy wil haar nie laat voorskryf oor watter onderwerp sy wil behandel nie, maar ons geniet dit baie om die afronding saam te doen. Ek bestee eerder tyd saam met haar deur iets lekker te doen as om nóg ʼn bed op te maak!” skerts sy.

Kyk al Carli se video’s hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.