Toe uiteet nog ʼn ontspanne ervaring was

Argieffoto (Foto: Scott Webb/Pixabay)

Ek onthou toe uiteet nog ʼn rustige, ontspanne ervaring was. Iemand anders het vir jou gekook, jou bedien en skoongemaak, Jy kon agteroor sit en ontspan.

Nie meer nie… Vandat ek ʼn ma geword het, is daar ʼn paar beelde wat in my geestesoog opkom as ek myself sou sien deur ander mense, in die restaurant wat ons besoek, se oë. Selfs ander uitstappies raak ʼn geskarrel van Eksodus-proporsies.

Die eerste beeld wat ek sien is heel moontlik meer wat ek hoop ander sien, as wat ek dink hulle sien. ʼn Seekat. Met agt arms. Wat letterlik hier gryp, daar vat, hier keer en daar stop. Dit is soos ʼn tafeltennisspel teen die kampioen van Japan… Ek is glad nie voorbereid op die spoed en al die rigtings waarin die bal (in my geval borde, kos en dikwels ook soutpotte of selfs ʼn kind) gaan nie. Dat ek nog net ʼn rekord van een gebreekte koffiekoppie en een gechipte piering het, voel soos ʼn oorwinning of ten minste ʼn brons medalje.

Die tweede beeld is daardie video van die groot hond en die klein hondjie wat wag dat hulle eienaar klaar ʼn verjaarsdagliedjie sing. Dit is ʼn video wat in ʼn stadium die ronde gedoen het van ʼn eienaar wat vir hulle twee honde sê hulle moet wag om hulle elkeen se stukkie koek te eet, totdat die eienaar klaar vir die klein hondjie sy verjaarsdagliedjie gesing het. Toe sy egter sê hulle kan maar eet, het die klein hondjie nog nie eens sy oë geknip nie, toe het die groot hond sy eie stuk so wel as sy hondemaatjie se stuk letterlik ingeasem.

Ek vermoed dis hoe ek lyk as ek my kos moet eet in ʼn restaurant. As ek dit nie inasem die oomblik as die kelner dit voor my neersit nie, is daar óf nie tyd om dit te eet tussen al die “tafeltennishoue” deur nie, óf my kinders kom ewe skielik agter dat dit wat ek bestel het lyk baie lekkerder as waarvoor hulle drie minute gelede gehuil het. Een van drie dinge gebeur: Óf hulle druk hulle vingers in my kos, óf hulle help hulleself en besef dan die kos was tog nie lekkerder as hulle eie nie en word dit weer teruggesit… nadat dit al in hulle monde was… óf hulle dink dis ʼn goeie tyd om hulle wetenskapeksperimente te beoefen en die hele peperpot word oor my kos gegooi.

Die derde beeld is gewoonlik in groot oop areas. Die beeld van ʼn skaapwagter, of eerder ʼn skaaphond, wat hardkoppige skape in ʼn kamp probeer inkry. Net verlede week moes ek my man by die lughawe gaan aflaai. Ek het gedink die verandering van omgewing mag die twee seuntjies goed doen. Dit was egter soos die Derby-perdewedren toe die motordeure oopgaan. Elke kind kies ʼn rigting en hardloop asof daar ʼn miljoen rand op die spel is. (As daar was, het ek hulle laat hardloop so ver hulle wou…) Toe pappa nog by was, was dit makliker. Elkeen kies ʼn kind en daardie een bly jou verantwoordelikheid of jy nou oor jou keuse later spyt kry, is jou eie saak. Dit was egter toe pappa klaar heerlik op “vakansie” in die lugdienswag-area sit, dat die realiteit van die harde werk wat ʼn skaaphond verrig, my getref het en my amper my testament ten gunste van die “skaaphond-vereniging” laat verander het.

Nou is ek alleen… Die volgende uitvindsels het my op daardie oomblik laat wens dat ek nog in 1820 geleef het… ʼn Hysbak, gholfkarretjie, roltrappe en ʼn motorkar. Al probleem met die jaartal sou wees dat ek dalk nie al hierdie uitdagings sou hê nie, maar wel 13 kinders… Ek moet my stryd kies…

Soos wat ek probeer om die twee kinders in een stuk by die motor terug te kry, kom my seekat-beeld weer op soos ek hier ʼn arm gryp, en daar ʼn been. Dit was egter by die area waar mens eers vir jou parkeerkaartjie moet betaal wat die wiele rêrig afgekom het… Een kind is geïnteresseerd in betaalmasjiene en die ander in hysbakke… (daar was nie tyd om te wonder wat dit van hulle toekomstige beroepe op daardie oomblik sê nie…) Soos die jongste homself in die hysbak tuismaak, is die ander een besig om my kredietkaart (dankie vir die hoë parkeerkostes ACSA…) uit die masjien te trek voor ek klaar my kode kan intik. Prys die Here vir mede-ouers wat saamspan op sulke uitdagende tye. Die gesin in die hysbak hou maar die deur vir my oop totdat ek klaar betaal het, terwyl die gesin buite die hysbak my oudste “arresteer” wat op pad was om die land te verlaat met my kredietkaart, terwyl ek my keuse maak tussen my sak, selfoon, beursie en die parkeerkaartjie.

Uiteindelik is ons almal in die hysbak en staan ek soos ʼn uitsmyter voor die deur om te verhoed dat hulle op enige ander vloer uitklim as wat ons motor geparkeer is.

Weereens storm hulle elkeen ʼn rigting in op ons spesifieke vloer en moet daar agterop elke bakkie geklim word (vir die rekord, daar was vyf) in die 150 m wat ons moes aflê tot by ons motor. Dis opnuut ʼn gestoei en gestry en gebyt en gedebatteer om almal in hulle karstoeltjies te kry maar toe ek die deure uiteindelik toe het, neem ek ʼn oomblik van stilte ter herinnering van hoe Noag moes gevoel het toe hy uiteindelik elke moontlike dier-spesie in die ark gekry het. Selfs Moses moet gesalueer word om daardie hoeveelheid mense deur ʼn see of woestyn te kry.

En ek besef dit is net deur die Here se genade wat so ʼn wonder kan gebeur, en elke ouer deur die dag kom. En ek stuur vinnige ʼn dankgebedjie die lug in dat my sirkus met my apies ook dit veilig maak deur elke dag… of ʼn restaurant… of ʼn lughawe… of die lewe…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Net-die-adres-verskil ·

Oulik geskryf! Soos ons een vriend wat ook twee kleuters het altyd sê; dis net die adres wat verskil (dit gaan by ons almal se huise so)

Susan ·

Man ek het nou lekker gegiggel. Dit lyk omtrent so waar ‘n mamma probeer om al haar skapies by mekaar te hou! Maar as mens darem agterna daaroor kan lag…! Sterkte vir al die mammas of in party gevalle pappas wat die klein mensies groot kry, sonder dat daar ‘n paar parte of velle of iets permanent verlore gaan! Julle is ysters! NS myne is nou die een wat een skapie probeer heel hou en groot kry!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.