Toets só jou kind se leerstyl

leerstyle

Foto: Dreamstime.com

Hello Susan

My seun is nou in graad 4. Ek help hom met sy leerwerk, maar ek is bang om my metodes op hom af te dwing. Ek het altyd goed geleer met prentjies, maar dit wat vir my gewerk het, mag dalk nie vir hom werk nie. Hoe gaan ek weet wat vir hom werk en wat nie?

Elsa

Hello Elsa,

Mense leer nie net teen verskillende tempo’s nie, maar ook op verskillende maniere. Daar is studente wat beter leer wanneer onderwysers alles op die bord skryf. Ander leerders verkies om te luister, terwyl ander weer daarvan hou om in groepies te sit en ʼn vraag te bespreek. Dan is daar ook leerders wat op hul beste leer as hulle sit en luister en die leerstof in die vorm van prentjies en krabbels in hul notaboeke vaslê. Hierdie individuele voorkeure word leerstyle genoem.

Leerstyle word oor die algemeen in drie kategorieë opgedeel: visuele leerders, wat moet sien om te kan leer, ouditiewe leerders, wat moet hoor om te kan leer en taktiele of kinestetiese leerders, wat verkies om te leer terwyl hulle doen. Daar word beweer 65% van alle leerders is visueel, 30% ouditief en 5% kinesteties.

Toets só of jou seun oorwegend visueel of ouditief is

Om te toets of jou seun se leerstyl oorwegend visueel of ouditief is, kan ʼn mens die volgende toets met hom doen. Hy mag nie weet wat die doel van die toets is nie, anders gaan dit sy keuses beïnvloed.

Lees die lys van tien woorde hieronder hardop voor. Sê vir hom om op ʼn stuk papier die eerste woord, verkieslik ʼn selfstandige naamwoord of werkwoord, te skryf wat in sy gedagtes opkom as jy vir hom ʼn woord sê. Hier is die tien woorde:

  1. muur
  2. koek
  3. aap
  4. been
  5. brood
  6. rivier
  7. e-pos
  8. paleis
  9. vlag
  10. meeu

Kyk dan na die woorde wat jou seun geskryf het. Oor die algemeen is daar twee moontlikhede: (1) Hy mag woorde soos die onderstaande geskryf het:

  1. skildery, verf, plafon
  2. meel, suiker, versiersuiker
  3. bobbejaan, piesang, boom
  4. arm, voete, hardloop
  5. kaas, tamatie, botter
  6. water, boot, visvang
  7. internet, rekenaar, tablet
  8. koning, koningin, troon
  9. lap, mas, wapper
  10. see, eiland, visse

of (2) woorde soos hierdie:

  1. suur, vuur, man, manier
  2. boek, soek
  3. raap, slaap, maak, kwaak
  4. steen, reën, baan, boom
  5. droog, knoop, brei, bring
  6. dier, versier, revue, ritsel
  7. kos, los, Egipte
  8. vleis, muis, paneel, papier
  9. vlam, vloed, lag, krag
  10. sneeu, leeu, meer, meester

Natuurlik is hierdie slegs voorbeelde en die verskeidenheid van woorde wat ʼn kind in reaksie op die tien woorde kan skryf, is bykans onbeperk. Maar wat ook al sy reaksie is, sy antwoorde sal meerendeels woorde soortgelyk aan Groep 1 bevat, of meerendeels woorde soortgelyk aan Groep 2.

Soos jy waarskynlik al agtergekom het, bevat die voorbeelde in Groep 1 woorde wat iemand met ʼn goeie verbeelding sal sien, terwyl die woorde in Groep 2 voorbeelde bevat van woorde wat dieselfde klink as die woorde wat jy vir hom voorgelees het. As die meerderheid woorde tot Groep 1 behoort, is jou kind oorwegend ʼn visuele leerder. As die meerderheid woorde tot Groep 2 behoort, is hy oorwegend ʼn ouditiewe leerder.

Berei jou kind voor vir die regte lewe

Hoewel dit meriete mag hê om by iemand se leerstylvoorkeur aan te pas, moet ons dit nie uit die oog verloor dat leerders vir die hier en nou, die regte lewe, voorberei moet word nie.

In die regte lewe is die leerstylteorie dikwels ʼn akademiese luuksheid, skryf James Atherton in Learning styles don’t matter. Daarom is dit belangrik om ʼn kind van kleins af te bemagtig met ʼn veelsydige benadering, wat daarop neerkom dat hy in staat sal wees om multi-sensories te leer. Ons verbeter dus nie net sy sterk punte nie, ons ontwikkel ook sy leerleemtes of, anders gestel, sy minder-betrokke sintuie.

Daar bestaan geen twyfel dat iemand se swakker sintuie ontwikkel kan word nie. ʼn Blinde, ontneem van sy sigsintuig, ontwikkel gewoonlik sy ander sintuie tot ʼn baie hoë vlak. Om Braille te kan lees, byvoorbeeld, moet sy taktiele sintuig merkwaardig ontwikkel word.

Sonder die gebruik van ingewikkelde toetse, bewys dít dat elke sintuig ontwikkel en verbeter kan word.

Die leerstyle-teorie ʼn mite, sê sommige

Nie almal stem saam oor die leerstyle-teorie nie. “Daar is geen geloofwaardige bewyse dat leerstyle bestaan nie,” sê Daniel Willingham, ʼn professor in sielkunde aan die Universiteit van Virginia. “Dit is een van daardie dinge wat mense dink ‘hulle’ uitgepluis het en dat die wetenskap dit as waar bevind het, selfs al sê die wetenskap presies die teenoorgestelde.”

Volgens Susan Greenfield, direkteur van die Royal Institution en ʼn professor in farmakologie aan die Universiteit van Oxford, is die leerstyle-benadering vanuit ʼn neuro-wetenskaplike oogpunt “loutere onsin”.

Sommige kenners glo leerstylvoorkeure is nie net ʼn wanopvatting nie, maar dat dit waarskynlik skadelik is. Scott Lilienfeld en kollegas skryf in 50 Great Myths of Popular Psychology dat die leerstyle-benadering “onderwysers aanmoedig om hul studente se intellektuele sterk punt te verbeter, eerder as om hul swakhede aan te spreek… studente se tekortkominge moet reggestel word, dit moet nie vermy word nie.”

Om op te som

Elsa, persoonlik dink ek daar steek wel waarheid in die leerstyle-teorie, maar ek stem saam met Scott Lilienfeld en kollegas dat dit onwys is om net op leerders se intellektuele sterk punte te fokus — ons moet ook hul tekortkominge hanteer. Die antwoord is dus om ons kinders voor te berei om multi-sensories te leer, om hul visuele, ouditiewe en taktiele sintuie te gebruik. Wanneer ʼn leerder leer om al sy sintuie te gebruik, sal sy oor uiteindelik sy oog bystaan en sy hand sal sy oor te hulp snel en so open drie deure tot sy verstand, in plaas van net een.

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 540 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.