Trauma is ’n alledaagse verskynsel

(Foto: Luis Galvez/Unsplash)

Trauma is iets wat elke dag ervaar word. ’n Motorongeluk, ’n geliefde se dood, of iemand wat ’n beroerte kry – hierdie is dinge wat elke dag plaasvind.

Maatskaplike werkers is in die voorste linie hulpverleners wanneer families trauma beleef, soos fisieke aanranding, verkragting, en middelafhanklikheidsprobleme. Eenmalige gebeurtenisse is nie die enigste trauma wat ’n mens kan ervaar nie. Langtermynlyding veroorsaak komplekse trauma, en lei tot komplekse posttraumatiese stresversteuring (PTSV).

“As ’n kinderbeskermingsorganisasie het ons statutêre magte om kinders uit omstandighede wat hulle benadeel, te verwyder. Maar net om in ’n veilige plek te wees, beteken nie dat alles vorentoe in alle opsigte glad gaan verloop nie. Die blywende resultate van trauma, veral komplekse trauma – kan nie deur die hof hanteer word nie,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

Komplekse trauma is die resultaat van ’n reeks traumatiese ervarings, soos verwaarlosing, wreedheid of geweld van ouers, of gewoon om in vrees groot te word, verduidelik Mariaan de Vos, ’n opvoedkundige sielkundige.

“Dit kan oor maande of jare plaasvind. Kenners meen reeds dat die langtermyngevolge van die grendelstaat nog dekades met ons kinders gaan wees.

“Vroeë ongunstige omstandighede kan langtermyneffekte hê, veral as dit onopgelos bly. Trauma verander breinfunksie en ook hoe ons dinge onthou. Dit oorweldig die sentrale senuweestelsel.”

Sielkundiges het vier tipes trauma-persoonlikhede geïdentifiseer by mense wat onopgeloste trauma ervaar, naamlik, die boelie (veg) die werkoholis (vlug), ’n Jannie Jammergat of onderdaan (kruip) en die onpassiewe persoon wat hom van die realiteit diskonnekteer en dissosieer (vries/verstar). Mense om ons pas in hierdie groepe. Baie van hulle besef nie eens hoekom hul optree of reageer soos wat hul doen nie.

“Die wat in die ‘aangeskakelde of opgewende’ posisie vashaak, is tipies angstig, hiperaktief, kan nie ontspan nie en het hoë vlakke van woede of vyandigheid. Aan die ander kant is daar dié wat in die afgeskakelde posisie vassit, wat gewoonlik depressief, uitgeput, lusteloos en gediskonnekteerde persone is,” verduidelik De Vos. Dit is natuurlik beter om so gou moontlik aandag aan hierdie probleme te gee. Baie volwassenes sukkel met onopgeloste trauma wat in hul lewens weerspieël word. Hulle kan nie kinders grootmaak sonder dat hul eie trauma hul kinders se lewens kleur nie.

CMR Gauteng-Oos wat meer as 26 000 kinders elke jaar bereik, kan getuig van die algemene sosiale effekte van langtermyntrauma wat hulle elke dag sien: geweld, onbeheersde gedrag, belemmerde emosionele ontwikkeling in kinders, middelafhanklikheid, interpersoonlike probleme, en baie verskillende gesondheidsprobleme.

“Probleme wat ons sien by kinders wat ons na plekke van veiligheid neem, sluit konsentrasieprobleme, prikkelbaarheid, woede, impulsiwiteit en dergelike gedrag in. Ons sien ook kinders wat hulself sny, selfdoodneigings het of emosionele eters word.

“Stel jou voor wat dit aan ’n kind doen om in vrees groot te word – dit belemmer normale kognitiewe ontwikkeling, lei tot emosionele stres en disoriëntasie – om maar net ’n paar van die probleme waarmee maatskaplike werkers, pleegouers en versorgers te kampe het, te noem. Dit sou ideaal wees vir almal om toegang tot professionele dienste te hê. Maar daar is ook eenvoudige dinge wat almal kan doen om die gevolge van trauma te verminder.

“Een voorbeeld is om te stop en tot tien te tel. Dit klink so eenvoudig, maar gee dit die persoon tyd om sy reaksie in die gegewe situasie te kies. Stadige asemhaling, soos om vier te tel terwyl jy uitasem, asem op te hou vir vier tellings, en dan op vier tellings weer in te asem, sal al die fisiologiese prosesse wat ’n persoon wat ontsteld is, kalmeer.

De Vos voeg by: “Neem tyd om jouself te wees. Stap in die tuin, skakel ’n vriend, bou ’n legkaart – doen iets wat jy nie gewoonlik doen nie – en gee jou emosies ’n blaaskans. Gee jouself die kans om nie verstrik te raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Post-Traumatiese Stress Sindroom is ‘n werklikheid en moet nie mee gespeel word nie. Na die Bosoorlog het al ons soldate berading gekry. Tog het dit steeds gevolge op ons ongeveer 50 jaar later. Ek word steeds wakker met nagmerries van wat ek ervaar het destyds tydens die oorlog. Dieselfde geld vir oorlewendes van die twee wêreldoorloë.

Eend Bessinger ·

Dis nie net die slagoffers van PTSS wat daaronder ly nie. Hul families en veral hul lewensmaats moet dikwels instaan vir mediese personeel. Dit vat ‘n spesiale mens om ‘n slagoffer te ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.