Troetelhonde laat kinders ontspan

worshond-honde-snuffel-boek

Foto: 2Photo Pots/Unsplash.com

Deur Nicoline de Wet

Nie net kan Woef klaarblyklik help om Boetie of Sussie se selfbeeld te verbeter nie, hy dra ook by om angstigheid te verminder en sosiale inskakeling te vergemaklik. Kinders met probleemgedrag en ontwikkelingsversteurings blyk veral baie baat te vind by ʼn verhouding met ʼn troetelhond. Ander pluspunte sluit in dat Woef kinders leer om meer selfstandig te wees en empatie met ander mense en diere te ontwikkel.

Baie mense glo dit is goed vir kinders om ʼn troetelhond te hê. Tog was dit tot onlangs nog nie wetenskaplik getoets nie en ook nie duidelik waarom en hoe troetelhonde kinders se emosionele ontwikkeling ondersteun nie.

Diane Kertes en haar kollegas aan die Universiteit van Florida het die potensiële stresverminderingsuitwerking van mens-dier-interaksie op kinders in ʼn gekontroleerde laboratoriumopset getoets. Die studie is uitgevoer met behulp van ongeveer 100 kinders tussen sewe en 12 jaar oud, tesame met hul primêre versorgers en troetelhonde. Die kinders is lukraak toegeken aan ʼn groep waar ʼn troetelhond aanwesig was, of een van twee kontrolegroepe waar ʼn versorger of geen ondersteuningsfigure teenwoordig was nie. Al die kinders is onderwerp aan die Trier Sosiale Strestoets vir Kinders (TSST-C). Hul response, herstelindekse waar stres waargeneem is en kortisolvlakke is gemonitor.

Stres is by die kinders ontlok deur hulle voor ʼn groep te laat praat en aan ʼn hoofrekenkundetoets te onderwerp (hulle kon nie die bewerkings op papier doen nie). Albei take is bekend daarvoor dat dit stresvol is en vrystelling van kortisol, die streshormoon, veroorsaak.

In die groep waar geen ondersteuningsfigure aanwesig was nie, het die kinders, soos te wagte, ʼn verhoging in waargenome stresvlakke getoon. Die navorsers het bevind dat die kinders in die groep waar die troetelhonde was baie minder stres ervaar het. Die troetelhonde het dus hul stres betekenisvol verskans in vergelyking met die kinders wat alleen of saam met ʼn primêre versorger (ouer) was.

Die navorsers skryf dit daaraan toe dat die honde onvoorwaardelike kameraadskap bied sonder dat enige evaluering plaasvind of eise gestel word. Sosiale evaluering is een van die belangrikste snellermeganismes van sosiale stres of angs. Gedurende die middel-kinderfase is kinders meer geneig om hulself met ander te vergelyk, word hulle toenemend bewus van sosiale beoordeling en integreer hulle die terugvoer wat hulle ontvang in hul eie selfbeeld. Dit maak hulle meer sensitief vir sosiale stres as wat kinders op ʼn jonger leeftyd is.

Kortisolvlakke het nie betekenisvolle verskille getoon nie, maar by die troeteldiergroep is laer kortisolvlakke wel gemeet wanneer die kinders meer met die honde in interaksie was, byvoorbeeld deur hulle meer te vryf. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat troetelhonde sosio-emosionele voordele vir die kinders ingehou het danksy stresverskansing.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.