Tuisonderrig bied gelyke toegang tot hoëgehalteonderrig

tuisonderrig-03

Foto: Homeschooling.urbankid.ro

Deur Anelle Burger, ‘n verteenwoordiger van Cape Home Educators

Verteenwoordigers van die tuisskoolgemeenskap was nie genooi om die lekgotla van die basiese onderwyssektor in Januarie 2019 by te woon nie. Dit laat vrae ontstaan oor die regering se toewyding om toegang tot gehalteonderwys vir almal te verseker.

Tuisonderrig is ‘n lewensvatbare alternatief tot skoolonderrig. Vir sommige ouers is tuisonderwys ʼn oorbrugging, terwyl hulle wag dat hul kind in ‘n skool geplaas word, maar vir baie ander is tuisonderwys ‘n gepasmaakte lewenstyl.

“Die meeste tuisopvoeders kombineer filosofiese benaderings en metodes in hul onderwys en volg ‘n eklektiese benadering. Hulle kies-en-meng uit wêreldklasprodukte, spesifiek ontwerp vir gepasmaakte onderwys. Dit is ontwikkel om ondersteuning te bied aan die belangstellings, leerstyl, familiewaardes en leertempo van die individuele leerder – alles binne ‘n verskeidenheid van sakpaspryse,” sê Shirley Erwee, tuisonderrigveteraan en medeskrywer van Footprints on our Land-kurrikulum. Tuisonderrig is nie ‘n een-grootte-pas-almal-benadering tot onderwys nie.

Die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en die Onafhanklike Eksamenraad (OER) se sertifikaat is ook nie die enigste opsies om ‘n matrieksertifikaat te bekom nie. Erwee sê: “Baie tuisgeskoolde leerders verkies om alternatiewe kurrikulums te gebruik en skryf verskeie internasionaal erkende skoolverlatertoetse en -eksamens.”

Baie verkies om die Cambridge Internasionale Assesseringseksamen te skryf. ‘n Ander gewilde keuse is die General Education Development (GED®), ‘n Amerikaanse hoërskooleweknie. Beide, en ander, word deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAKO) as buitelandse alternatiewe graad 12-kwalifikasies erken. Studente kan hiermee in Suid-Afrika, in die buiteland en by aanlynuniversiteite verder studeer, solank hulle aan die toelatingsvereistes van die tersiêre instelling voldoen.

Anders as skool, bied tuisonderrig in die breedste sin van die woord, gelyke toegang tot hoëgehalteonderwys. Navorsing onderskryf herhaaldelik dat ouerbetrokkenheid een van die sleutelfaktore is wat korreleer met kinders se akademiese en ander prestasies. Arm of ryk, hoogs geleerd of nie, ouers maak ‘n groot verskil in die (akademiese) prestasie van leerders.

Regulering deur die regering mag dalk tot gelyke onderwys lei, maar tuisonderrig in sy volle verskeidenheid en met ouerbetrokkenheid lei tot gehalteonderwys.”

“As globale ekonomie funksioneer ons tans in die vierde industriële rewolusie/inligting-era. Die huidige skoolstelsel is ontwerp om aan die eise van die industriële rewolusie te voldoen. Dit is verouderd en voorsien nie aan die behoeftes van die immerveranderende ekonomie en ons huidige realiteit nie. Onderwys moet vrygemaak word van die fabriekvloer en tot die tegnologie-era toetree,” sê Victor Sabbe, voorsitter van Cape Home Educators.

Tuisonderrig is toeganklik vir ryk en arm. Biblioteke is ryk aan hulpbronne. Ouers organiseer om saam te werk en bou sodoende ‘n gees van samehorigheid te skep – hulle deel hulpbronne en talente en verryk die leerervaring. Daar is heelwat opvoedkundige toepassings wat toeganklik is deur ‘n slimfoon. Talle kurrikulums is aanlyn beskikbaar, sommige hiervan gratis. Geselsprogramme op die radio en programme gerig op vroeëkinderontwikkeling is uitstekende opvoedkundige bronne. Jy hoef nie baie geld te spandeer nie.

Die regering moet plaaslik en nasionaal aangemoedig word om die implementering van internettoegang vir alle gemeenskappe te bespoedig. Biblioteke moet met bekwame personeel en met toereikende goeie boeke en opvoedkundige bronne toegerus word.

Christopher Cordeiro van LearnFree – ‘n vereniging wat opvoedkundige vryheid voorstaan – gee die advies: “Diegene wat tuisonderrig oorweeg, hoef glad nie oorweldig te voel nie. Daar is ‘n baie aktiewe tuisonderrig-gemeenskap wat hulle sal ondersteun en hul vrae sal beantwoord. Daar is verenigings in elke provinsie, Facebook-groepe en die regsfonds vir tuisonderwys, genaamd die Pestalozzi Trust.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Juffrou ·

Ek is oortuig daarvan dat daar heelwat tuisonderrig suksesverhale is. Ongelukig beleef ek in hoofstroom skool slegs die teenoorgestelde: kinders wat nie by die vinnige tempo in die klaskamerkan byhou nie; agterstamde t.o.v. Wiskunde (veral Gr 7) en ‘n onvermoë om van’n skryfbord af te skryf of om Juf se kursiewe bordskrif te kan lees. In baie gevalle word daar nie musiek Gr 6 tuis onderrig nie. Kom die kinders terug hoofstroom skool toe, is daar vele uitdagings – tot die nadeel vd kinders. Hierdie is feite en ons as skool werk hard daaraan om sodange agterđù

Malan ·

Die vinnige tempo waarmee skole kinders elke dag tot laataand besig hou is nie iets om mee by te bly nie, dit is iets om van weg te breek.

Juffrou ·

… agterstande in te haal. Ek kry sulke kinders ontsettend jammer.

Amelle ·

Dit kan sekerlik die geval wees, maar sou daardie kinders nie dalk in elk geval ‘n agterstand gehad het nie? En is die onvermoë om van ‘n bord af te skryf werklik ‘n agterstand of eintlik ‘n vaardigheid wat aangeleer kan word?
En daar is ook kinders wat van dag 1 af skool gaan wat sukkel met wiskunde, van die bord af skryf of om lopende skrif te lees. Dit is verseker nie enig aan tuisonderrig nie.

Zel ·

Ek het al agterstande by skool kinders beleef, kinders wat in matriek nie kan lees en skryf nie, kinders wat agter geraak het in die hoofstroom skool en dan moet ouers spook om hulle kinders te laat in haal, nee wat, dis maklik om met ‘n kritiese oog na tuisskool te kyk en vingers te wys want die ouers is mos nie “opgelei” nie maar gelukkig het ‘n saak altyd twee kante.

Bouwe van der Eems ·

Daar is ‘n onderliggende aanname in die gesprek dat dit goed is dat kinders teen ‘n sekere tempo dinge moet leer. Die grondwet bepaal dat die kind se beste belange altyd die hoogste gesag dra. Dit lei tot die vraag of dit in die beste belang is van ‘n kind om teen ‘n tempo te leer wat vinniger of stadiger is as wat die kind natuurlik sou leer. Of dat die kind geforseer word om kennis te leer waarin die kind op daardie oomblik nie belangstel nie, of wat vir die kind nie relevant is nie.

Juffrou ·

Dalk het ek myself verkeerd uitgedruk: waarna ek spesifiek verwys is kinders wat tuisonderrig ontvang het (en glo my, daar IS beter en swakker tuisonderrig) wat dan sukkel om in hoofstroom aan te pas. Sekere kinders floreer in tuisonderrig situasie, vir ander sal dit eenvoudig nooit werk nie. Ek stem volkome saam dat die Grondwet, Witskrif 6, SIAS beleid en vele meer voorsiening maak vir akkommodasies. Maar daar is ook n realiteit van n Dept van Onderwys wat voorskrifte en eise stel wat nagekom moet word … En as ons liefste Tienie die Tuisonderrig maatjie sukkel, dan ervaar hy homself later as “agter” en dit is eenvoudig nie goed vir sy menswees nie. Ongelukkig is dit n praktiese realiteit – ongeag of ek die sisteem ondersteun, of nie.

Andriëtte ·

Ek as ‘n ouer het altyd gedink maar jou kind MOET mos na ‘n gewone skool, want ALMAL doen mos. Tot nadeel van my dogter. Sy floreer vandat sy tuis onderrig. Geen senuwees oor onnodige goed soos boelies en skinder en groepsdruk nie. Sy kan haar aandag net op haar huiswerk, take en voorbereiding vestig. Nie al die kinders is dieselfde nie. En ons as ouers moet ophou om ons kinders in ‘n boks te druk waarin hulle nie pas nie.

Mamma ·

Ek het my kind in n normale skool gesit in 2017 sy was Gr 00. Die kinders het letterlik bo oor haar geloop. ” sy is n dwergie” Sy het n blaas probleem ontwikkel asgevolg van stres in n normale skool.. Ek het haar uitgehaal en haar by n dame wat tuis onderig aanbied ingesit en jul sal nie glo nie. Ek kan n groot verandering sien. Sy praat nou met almal waar sy altyd skaam was in n gewone skool. Sy het nie meer n blaasprobleem nie en sy vorder baie goed waar sy nou is.. Ek is baie tevrede met haar uitslae.

My mening ·

Ek dink tuisonderrig werk wonderlik vir party kinders, veral wanner daar omstandighede is soos dat n kind geboelie word of die kind spesiale behoeftes het. Maar ek dink dat kinders eerder, waar moontlik, eerder gewone skole moet bywoon waar hulle belangrike sosiale en lewensvaardighede leer en ontwikkel.

jaco ·

ek ken mense wat hulle seun op tuisonderrig geplaas het omdat daar glo “te veel sonde” in gewone skole is. die resultaat: hy is nou klaar met matriek en erger af as voordat sy tuisonderrig begin het. 19 en hy rook en drink, lewe losbandig, steur hom nie aan godsdiens nie. Al die geld op tuisonderrig was dus n vermorsing.

David ·

Daar is baie wanopvattings oor hoe kinders leer. Die ou Westminster stelsel het redelik gewerk, maar alles word mos.nou gedekoliinseer, wat seker beteken, Wiskunde, Wetenskap en Taal moet plek maak vir Dollosgooi, Beeswagterkunde en Sorghum broukuns.

Ek tuisskool my tienerseun nou al vir die derde jaar en daar was groot aanpassings. Hy vorder volgens sý vermoeëns en is op wiskunde en wetenskap omtrent ‘n jaar vooruit. As hy stadiger gevorder het, was dit ook reg – elke mens is anders en daarvoor kan mens in ‘n groepsverband glad nie voorsien nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.