Tuisonderrig laat jou kind se natuurlike talente blom

Argieffoto

John Taylor Gatto, een van die groot name in die literatuur oor moderne onderwys, glo dat tuisonderrig ’n oplossing bied vir talle probleme wat tans in die tradisionele skoolmodel ervaar word. Nancy Carter, voormalige direkteur van kommunikasie van The Old Schoolhouse Magazine, ’n tydskrif vir tuisonderrigleerders, het Gatto se denke soos volg opgesom: “Hy glo eenvoudig dat tuisonderrig die beter opsie is om onafhanklike denkers te skep en natuurlike talente en belangstellings te ontwikkel.”

Tuissonderrig as alternatief

Plaaslike navorsingsresultate ondersteun Gatto se denke. Dierdré Bester, ’n Suid-Afrikaanse onderwyseres, het in haar MA-verhandeling Die effek van tuisskoling op die sosiale ontwikkeling en akademiese prestasie van die pre-adolessent, bevind dat daar verskeie voordele aan tuisonderrig is.

1. Handhaaf akademiese standaarde

Bester het bevind dat die basiese geletterdheid en syfervaardighede van tuisonderrigleerders baie beter as dié van leerders in openbare skole is. Haar navorsing toon dat die gemiddelde vlak van geletterdheid van graad 4 tuisonderrigleerders 90.5% is, in vergelyking met die 48.1% wat die vlak van leerders in openbare skole is.

Tuisonderrigleerders se gemiddelde vlak van syfervaardighede is 82.4% teenoor hul eweknieë in openbare skole wie se gemiddelde vlak 30.02% is. Wat tuisleerders se vaardighede in lewensoriëntering betref, is hul gemiddeld 81.7% in vergelyking met die 47.11% van leerders in skole.

2. Eie pas, eie tyd

Die leuse van tuisonderrig is eie pas, eie tyd. Tuisonderrig is gepas vir leerders met leerprobleme of wat begaafd is, omdat daar in diepte op spesifieke vakgedeeltes gefokus kan word. Leerders dikteer gevolglik hulle eie pas van leer en so word talle frustrasies uitgeskakel.

Leerders met uitsonderlike talente kan ook baat vind by tuisonderrig deurdat hulle onderrigtyd rondom hul talente, oefentye, optredes en kompetisies geskeduleer kan word. As jou kind sy/haar land verteenwoordig, kan hy/sy harder en vinniger voor die tyd werk of later inhaal volgens sy/haar eie pas en tyd. Tuisonderrig stel jou kind in staat om op sy/haar talente te fokus terwyl akademiese onderrig steeds plaasvind.

3. Goeie gesinsverhoudinge

Tuisonderrig het ook die potensiaal om gesinne nader aan mekaar te bring, aangesien gesinslede mekaar baie goed leer ken. Tuisonderrigleerders het ook meer vrymoedigheid om hul probleme met hulle ouers te bespreek omdat tuisonderrig ʼn positiewe ouer-kind-verhouding vestig. Omdat die ouer so intiem bekend raak met sy/haar kind se sterk- en swakpunte, word dit makliker om op probleemareas te fokus – iets wat in vandag se oorvol klasse en skoolprogramme nie noodwendig moontlik is nie.

4. Beperk groepsdruk

Tuisonderrigleerders het minder stres as ander kinders omdat minder druk van buite op hulle geplaas word. Groepsdruk en hoë mededingingsvlakke speel ’n kleiner, indien enige, rol by tuisonderrigleerders. Leerders kry die geleentheid om hulself te wees sonder om te verander om aanvaarbaar vir die groep te wees.

Leerders met ʼn siekte of fisiese gebrek kan tuis onderrig word sonder dat hulle geboelie, verneder of geterg word, terwyl baie gedragsprobleme soos hiperaktiwiteit en impulsiwiteit makliker by die huis as in die tradisionele klaskamer hanteer kan word.

5. Kweek selfvertroue

Bester se navorsing toon dat tuisonderrigleerders gemiddeld tot goed gevaar het in sosiale vaardighede soos selfvertroue, selfbeheersing, deelname in groepsverband, formele verhoudinge met volwassenes en om vriendskapsbande te smee. Kinders word dus nie sosiaal deur tuisonderrig benadeel nie. Tuisonderrigleerders se selfvertroue is dikwels beter, want hulle leer om onafhanklik te funksioneer.

6. Onafhanklike denkers

Tuisleerders is grootliks verantwoordelik vir hul eie leer en ontwikkeling. Hulle leer om innoverend te dink en self die werk onder die knie te kry, in plaas daarvan om bloot te sit en luister hoe ’n onderwyser alles verduidelik. Daar vind meestal baie meer toepassing in die alledaagse lewe plaas: nie net teorie wat meestal in skole geleer word nie.

Binne die kleiner tuisonderrigomgewing kry kreatiwiteit kans om te ontwikkel, aangesien daar ʼn meer ontspanne en ongestruktureerde leeromgewing geskep word.

7. Tuisonderrig in Suid-Afrika

Tuisonderrig is reeds sedert 1996 in Suid-Afrika gewettig (Artikel 51 van Wet 84 van 1996) en alhoewel daar nie akkurate statistieke beskikbaar oor die hoeveelheid tuisonderrigleerders in Suid-Afrika is nie, meen kenners dat daar tans tussen 50 000 en 400 000 tuisonderrigleerders kan wees.

Impaq is ʼn kurrikulum-verskaffer wat in 2002 begin het met 400 tuisleerders, en het vanjaar ʼn mylpaal bereik met meer as 16 000 geregistreerde leerders. Impaq se kurrikulum is in lyn met die nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en verskaf aan ouers die leermateriaal en assesserings wat hulle nodig het om hul kinders tuis te onderrig.

Bronne
Huisgenoot
Sarie
Homeschooling Curriculum Guide
Business Live
Unisa – Dierdré Bester

Artikel verskaf deur Impaq

Meer oor Impaq
Of jy goeie beginsels wil inskerp, meer tyd saam met jou kind wil spandeer of ver van skole af bly, Impaq (voormalig geken as Impak Onderwysdiens) glo net die beste is goed genoeg vir jou kind. KABV-belynde kurrikulum en akademiese ondersteuning van graad R – 12. Besoek ons webwerf by www.impaq.co.za of kontak ons per e-pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.