TV-kinderreeks kry karakter met outisme

(Foto: Zach Hyman/Sesame Workshop)

(Foto: Zach Hyman/Sesame Workshop)

Sesame Street, die bekende televisiekinderreeks, stel op 10 April ʼn karakter met outisme bekend.

Julia is ʼn pop met rooi hare en groen oë en is ontwerp om kinders wat outisme het te verteenwoordig.

Versteurings in die outistiese spektrum word gekenmerk deur uitdagings in sosiale vaardighede, spraak en nieverbale kommunikasie. Die doel van die karakter is om mense ʼn beter begrip te gee van wat die versteuring behels.

“In die VSA is een uit elke 68 kinders gediagnoseer met ʼn versteuring uit die outistiese spektrum. Ons wil ʼn beter begrip van hierdie versteuring ontwikkel en die stigma rondom outistiese kinders verminder. Ons stel ʼn manier voor hoe ouers en hulle kinders na outisme kan kyk, deur te fokus op eienskappe wat alle kinders in gemeen het,” sê Jeanette Betancourt, wat betrokke is by die sosiale impak van Sesame Workshop.

Julia verteenwoordig ʼn groot verskeidenheid kinders in die outistiese spektrum, maar die karakter is nie daar om  outistiese kinders te stereotipeer nie. “Net soos wat ons na alle kinders kyk wat unieke wesens is, so moet ons ook maak met kinders wat outisme het,” sê Betancourt.

Die span wat die kinderreeks ontwikkel, het jare lank navorsing gedoen deur met kenners en organisasies, asook gesinne met outistiese kinders, te gesels om die karakter te skep. Julia bestaan al vir langer as ʼn jaar in digitale prentjies en is die onderwerp in verskeie storieboeke wat reeds uitgegee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.