‘Twakie’ en ‘Obison’ – die taal van outisme

Jandré Toerien se kunswerke. (Foto: Verskaf.)

Jandré, ons jongste, het kleintyd iets vir ons, sy ouers, kom vra. Al wat ons kon uitmaak, is dat hy ’n “Twakie” wil hê. Naderhand gee hy moed op, en stap vies weg. Dat hy nou met sulke dom ouers opgesaal moet sit. Hy gryp ’n klompie afvalpapiervelle van Joan se fotostaatonderneming en ’n kramdrukker. Hy klik-klik met die kramdrukker en kort voor lank het kleinman sy Twakie saamgeslaan – ’n drakie. ’n Ruk later word Twakie se pote en stert afgesny en Jandré las nog papiere aan. En siedaar kom ’n ordentlike groot Twakie te voorskyn!

Later praat hy van “Obison” en omdat Ma alles vir hom herhaal, kom hy gou agter as sy die spoor byster raak. Naderhand word ouboet, Nic, se hulp ingeroep vir ingeval dit ’n TV-karakter is wat Jandré vreemd uitspreek. Geen TV-karakter. Ná ’n paar uur gryp hy uit moedeloosheid weer ’n stuk papier en teken ’n polisieman. Toe word dit duidelik dat hy “officer” bedoel en as “obison” uitspreek.

Op hierdie manier het ons uitgevind dat hy tekentalent het.

Toe hy ouer word, het ons begin om ’n woordeboek vir hom te maak. Al die woorde wat hy sukkel om reg uit te spreek, word daarin geskryf en hy weet presies waar die woord in die boek staan. Só het ons baie frustrasies (meer vir Jandré as vir ons) voorkom.

Hy kan ook nie ’n handeling los sonder om dit af te handel nie. Dis nag wanneer hy ’n Asterix-boek begin lees en ons moet byvoorbeeld skool toe ry. Wanneer iets weg is, sal hy soek totdat hy dit kry. Dit is vir hom baie ontstellend om nie iets te kry nie. Hy het dus in ’n baie goeie speurder ontwikkel.

Jandré se vernuf om driedimensionele dinge te maak – onder meer, modelhuisies uit leë kartonbokse – is verstommend. Selfs wasbakke en meubels is tot in die fynste besonderhede nageboots, sodat hy keramiekklasse begin neem het, en die mees verstommende goed geproduseer het.

En die Engels dan? Teen die tyd dat ons besef het dat daar ’n spraak- en kommunikasieprobleem aanwesig is, het Jandré homself ’n goeie skoot Engels aangeleer. Ons weet van ander gevalle, soos die seun wat heel tuis voel in die gesin van Namibië … die pa is Duits en die ma Afrikaans, maar dit blyk toe dat harde tale soos Afrikaans met die uitspreek van veral r-klanke, asook g-klanke, hard op die knaap se ore is.

Jandré is gek oor Spiderman, en elke jaar maak hy ’n nuwe Spidermanpak presies soos die pak in die nuwe fliek lyk. En soos hy self gegroei het, het die Spidermanpakke al groter geword. Hy doen dit uit sy kop.

Internasionale outisme-bewusmakingsdag word op 2 April gevier, en wat sê ’n mens ná amper drie dekades nog oor hierdie spesiale kind van ons? Die kind wat van kleins af soveel anders was, wat ook soveel vreugde verskaf het?

Eerstens, wil ’n mens die Here dank vir Jandré se ouboet, Nic, wat sy kleinboet so mooi behandel. Nic is intussen getroud, en vroulief Leandri is net so erg oor die mens wat so anders, maar so besonder liefdevol is.

Maar is hy dan outisties?

’n Spesialis wat ’n wye reeks toetse op hom gedoen het, het kleintyd geskryf: “Jandré is beslis nie outisties nie.” Hoewel meer mense, ook terapeute, die mening uitgespreek het dat Jandré outisties is, wou niemand dit met stelligheid sê nie. Wat anders? Daaroor is nog harder geswyg. Eers op die ouderdom van 15 is ’n besliste mening ontvang dat dit outisme is.

Ons het egter deurentyd ’n uitlating van ’n terapeut tydens ’n ekskursie doer ver onthou: “Onthou, die beste terapie is maksimale ouerliefde.”

Nadat hy uit die spesiale skool (wat nie vir outistiese kinders voorsiening gemaak het nie) gekom het, het Joan met tuisonderrig met hom begin. Hy het ons toe reeds verras met sy syferkennis. Hy het homself met opvoedkundige speelgoed geleer om syfers lees. Dit het geblyk dat hy besonder knap met datums was, en het ons telkemale verras oor gebeurtenisse wat hy, sonder om te aarsel, kon sê wat het in watter jaar gebeur. Splintervermoë het die kenners dit genoem.

Pa, ’n oudlandloper, het gou ontdek die mannetjie het ’n lang asem. Maar hy het ook ’n ongelooflike sin vir rigting, en al draf Pa saam, het hy gou uitgewerk langs watter weg hy moet hardloop om met ’n kortpad by die uitpunt te kom. Dan is die gort gaar, want hoekom nou ver draf as jy veel minder energie kan inspan? Hy sou dan nie meer samewerking gee nie, en Pa moes hom dikwels lang ente sleep of oor die skouer dra. Maar sy gemoed is egter oombliklik omgetower wanneer hy sy deelnemersmedalje ontvang. Die medaljes het al hoe meer geword – ook dié van Pa en ouboet wat ook ingespan is. Later het dit geblyk Jandré is eintlik ’n fietsryman, en nóg later dat veldfietse eintlik sy ding is.

Die versameling medaljes het gegroei, tot Pa in sy spore gestuit word toe twee soorte kanker gelyk by hom gediagnoseer is. Die gesin ontdek judo, en skielik is daar weer nuwe medaljes.

Hy skilder ook, en hy kan die Oostenrykse kunstenaar, Rosina Wachtmeister, se werke besonder mooi herskilder. Die kat-temas is tipies van Rosina.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.