Uitstekende onderwysers vir die grondslagfase is onontbeerlik

skool-inkleurpotlode

Foto: Kiki69210/Pixabay.com

Deur Marietjie Bruwer

Suid-Afrika se wetenskap en wiskunde is op skoolvlak van die swakste ter wêreld. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat Suid-Afrikaanse kinders minder intelligent is as kinders uit ander lande nie. Die hoofrede hiervoor is dat baie kinders in die grondslagfase nie in hul moedertaal onderrig word nie. Syfervaardighede (en moeilike wiskundige konsepte) word beter in leerders se moedertaal vasgelê.

Hoewel die prentjie by Afrikaanse skole heelwat anders lyk, kom ʼn groot deel van kinders uit gebroke huishoudings, speel ouers ʼn betreklik kleiner rol in die vorming van hul kinders en die rol van die onderwyser word eintlik al hoe belangriker.

Die grondslagfase-onderwyser is nie net ʼn onderwyser nie, maar vervul in groot mate die rol van ʼn kind se ouer vir die tydperk wat hulle by die skool is. Kinders leer om te lees en te skryf, maar een van die belangrikste aspekte van onderrig is om saam met die kinders te speel. Die jongste navorsing wys ook hoe belangrik speel is vir die ontwikkeling van kinders.

Verder kan die grondslagfase-onderwyser vir kinders wat uit ʼn gebroke huis kom geweldig baie beteken. Kinders praat met hul onderwysers oor hul hele lewe en dit sluit dikwels godsdienstige gesprekke in. Tydens die onlangse hofsaak rakende godsdiens in skole is uit ʼn studie van dr. Tanya Robinson aangetoon dat godsdiens ʼn sleutelrol speel vir kinders, veral vir dié wat uit gebroke huishoudings kom. Word dit weggeneem, verloor kinders een van die laaste vorme van standvastigheid in hulle lewe.

Wanpersepsies oor die grondslagfase

Laastens moet ons twee van die vernaamste wanpersepsies oor grondslagfase-onderwysers uit die weg ruim. Eerstens word voornemende onderwysers wat goed op skool presteer, dikwels op grond van hul prestasie aangemoedig om eerder hoërskoolonderwys te studeer. Prof. Barry Richter (tans verbonde aan Aros) meen dat “skoolhoofde eerder die beste onderwysers in die grondslagfase moet aanstel, die gemiddelde onderwysers in die intermediêre fase en die res in die hoërskool”. Hy sê dit omdat die probleme wat in die vroeë ontwikkelingstadium by kinders ontstaan eerder vroeër as later gekorrigeer moet word.

Tweedens word dit binne die Afrikaanse kultuur vreemd gevind dat mans grondslagfase studeer. Ook hier moet ons nuut begin dink hieroor. Gesien in die lig van die verskeie gebroke gesinne kom dit al hoe meer aan die lig dat die afwesigheid van ʼn vaderfiguur tot groot nadeel van ʼn kind se ontwikkeling kan wees. In lande soos Nederland is dit heel normaal dat mans grondslagfase-onderwys studeer. Buitendien mag die teenwoordigheid van mans ʼn positiewe invloed op dissipline in die grondslagfase hê.

As jy ‘n sinvolle bydrae wil lewer ten opsigte van die opvoeding van ons land se jong kinders, en vir so baie kinders uit gebroke huise ʼn verskil wil maak, kan onderrig in die grondslagfase dalk net vir jou wees.

  • Marietjie Bruwer het vir 15 jaar as grondslagfase-onderwyseres gewerk, waarna sy ʼn leerondersteuningsentrum gestig het, en later ook betrokke was as dosent by UP. Sy is tans departementshoof van die departement Grondslagfase by Aros en sien onderwys as ʼn roeping. Sy is opgewonde oor die geleentheid om haar passie met die studente van Aros te deel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ken2 ·

Uitstekende artikel. Ek is nou nie n geleerde in onderwys nie so ek weet nie waar begin grondslagfase nie maar ek weet dat die eerste lewensjare by verre die belangrikste is.

Saartjie ·

Knap gedaan, Marietjie! Ek is reeds jare van mening dat die heel beste studente na die grondslagfase (en die laerskool as ‘n geheel) gelok moet word en baie goeie salarisse moet kry. Soveel van die kennis- en vaardigheidsgapings wat leerders in die hoërskool openbaar, kan herlei word na ‘n gebrek aan basiese onderrig in die laerskool. Daar is net te veel halfgeskoolde onderwysers in die Grondslagfase … en dan praat ek nie eens van die geweldige groot leerdertalle waarmee hierdie jufrouens moet worstel nie!

Disselboom ·

Dink daar is meer van ons wat ons Graad 1-onderwyser met deernis onthou; en daardie besef êrens in jou lewe as jy al byna vergeet het dat jy ‘n kind was, hoe belangrik daardie onderwyser in jou opleiding was.

Karen ·

Verseker moet jou beste onderwysers vir grondslagfase gekues word veral as dit kim by Wiskunde. Net jammer dit is die fase waar die minumum departementele poste by n Laerskool is. In die kurrukulum voor 1994 moes leerling geevalueer word tov Huistaal en Wiskunde nou is dit al ‘n tweede en derde taal asook kuns, LV en LO. Boeke wat deur dept. verplig word om in te werk. Stel eerder nog onderwysers aan eerder ‘n leerling verhouding van 1:20 ipv 1:50+ in veral grondslagfase

Johan Neuteman ·

Die skrywer haal aan dat “godsdiens ‘n sleutelrol speel vir kinders”: is dit enige godsdiens wat die sleutelrol kan speel?

JC ·

Nee, Christelike studies slegs vir Christen kinders, en Islam studies slegs vir Moslem kinders ens.
Om geloofstudies te verwar en te meng gaan die kinders net verwar, en hulle gaan op die ou einde identiteitloos en ruggraatloos wees.

Leonard van der Dussen ·

Daar is net een ware God, God Drie-enig. Watter nut kan daar wees in godsdienste wat nie waarheid bevat nie, maar deur mense uitgedink is?
Dit wil ook lyk of die artikelskrywer verwys na die algemene invloed van godsdiens op ‘n kind se gemoed, wat hier deur JC met godsdiensonderrig in die meer vakkundige sin verwar word.

Net n ma ·

My seun is tans n student in Grondslagfase, met die doel om te immigreer. Die grootste rede hiervoor: Hy het menigmale aansoek gedoen vir assistent poste wat afgekeur is aangesien mans onderwysers in Grondslagfase as n risiko gesien word. Ek sal eerder nie uitbrei nie. Ek hoop elke hoof lees hierdie berig. Julle is die enigste mense wat hierdie mans n regverdige kans kan gee om hulleself te bewys.

Marius ·

In Finland is die vereiste dat onderwysers oor ‘n minimum van ‘n meestersgraad moet beskik. Ons groot gebrek is die gehalte van opleiding wat studente ontvang. Amerika spandeer meer geld per kind aan onderwys as enige ander land maar is met Wiskunde onder die wêreldgemiddeld en verswak steeds meer. Die groot rede is dat daar amper geen toelatingstandaard vir voornemende onderwysstudente is nie en hulle word meestal vir hulle sportvernuf aangestel. Klink dit bekend?

Sportier ·

Ons het ons land en toekoms weggegee vir sport, en party skole doen dit steeds. Akademie net n bysaak daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.