Vadersdag: Bekendes praat oor herinneringe, lesse

Argieffoto (Foto: sarahbernier3140, Pixabay)

Nederigheid, die waarde van goeie maniere en om onselfsugtig vir ander om te gee – dís maar enkele van die grootste lesse wat bekendes soos Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld en Jak de Priester by hulle pa’s geleer het.

Vadersdag – ʼn dag om pa’s te bederf en ʼn klop op die skouer te gee vir al hul liefde en ondersteuning – word Sondag gevier.

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het vandeesweek in ʼn rubriek geskryf dié dag is veel meer as een waarop pa’s gevier moet word. Vadersdag is volgens hom ook ʼn dag waarop pa’s oor hul mandaat in dié rol moet besin.

Ons het die Afrikaanse bekendes Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jak de Priester, Joshua na die Reën en Elvis Blue gepols oor Vadersdag.

Hier is wat hulle te sê het:

Bobby van Jaarsveld 2015 (LR)

Bobby van Jaarsveld (2015) Foto: Verskaf

Bobby van Jaarsveld

Wat is die grootste les wat jy by jou pa geleer het?
Om altyd nederig te bly.

Wat is jou mooiste kleintydherinnering?
Die Sodwana-vakansie saam met my pa.

Wat beteken Vadersdag vir jou?
Dis altyd ʼn dag waarop ons iets spesiaals vir my pa doen. Die lewe is ʼn gejaag en hierdie dag herinner mens net weer aan wat jou ouers vir jou beteken.

Steve Hofmeyr (Foto: Facebook)

Steve Hofmeyr

Wat is die grootste les wat jy by jou pa geleer het?
Erfenistrots. En dat goeie maniere jou ver bring.

Wat is jou mooiste kleintydherinnering?
As my ouers my ingesmokkel het onder ʼn skootkombers vir Clint Eastwood-flieks (die man het self ʼn kombersie gedra) in Lynnwood. Ek onthou Pretoria, Hennenman en Brandfort veral, my grootwordplekke.

Wat beteken Vadersdag vir jou?
Ek dank die gode vir die anker wat my pa vir my was en vra elke jaar of ek dit vir kinders ook is?

jak-de-priester-fb.jpg

Jak de Priester. Foto: Facebook

Jak de Priester

Wat is die grootste les wat jy by jou pa geleer het?
Mens moet van kleins af ʼn verhouding begin – van dag een af. As jy ʼn goeie verhouding met jou kind wil hê as hy groot is, moet jy daaraan aandag gee vanaf die dag wat hy gebore word.

Wat is jou mooiste kleintydherinnering?
Vakansies wat ons as gesin saam kampeer het. Ek het baie mooi herinneringe van ons wat saam gepak het om te gaan kamp in die berge of by Warmbad.

Wat beteken Vadersdag vir jou?
Die dag het vir my baie verander vandat ek self ʼn pa is. Vandag is dit my kindertjies wat my dag spesiaal maak deur vroeg by my in die bed te klim. Dit gaan oor die kans wat jy kry op aarde om pa te wees en hoe jy die geleentheid gebruik. Dis ʼn wonderlike dag saam met my vrou en my drie kleintjies.

Joshua na die Reën (Foto: Maroela Media)

Joshua na die Reën

Wat is die grootste les wat jy by jou pa geleer het?
Daar is twee dinge wat ek by my pa geleer het: Om onselfsugtig om te gee vir ander en dat hy my en my broers nog altyd geleer het om ons drome na te jaag – al is dit soms nie maklik vir hom nie omdat dit buite sy verwysingsraamwerk is.

Wat is jou mooiste kleintydherinering?
Ek onthou baie van ons familievakansies as van die mooiste herinneringe. Daar is een spesifieke waar ons gaan met vlotte op die Oranjerivier gaan ry het.

Wat beteken Vadersdag vir jou?
As ek moet eerlik moet wees, beteken Vadersdag as sulks nie vir my veel nie. Ek dink dit is belangrik om te weet wat jou pa vir jou beteken, maar dit moet ʼn kerndeel van die lewe wees en nie ʼn enkele dag nie.

Elvis Blue (Foto: Facebook)

Elvis Blue

Wat is die grootste les wat jy by jou pa geleer het? 
Ek dink dis meer iets oor jou lewensstyl wat hy my geleer het. Ek het dit nog nie bemeester soos hy nie, maar my pa het integriteit.

Wat is jou mooiste kleintydherinnering? 
Vakansie by die see.

Wat beteken Vadersdag vir jou? 
Dit voel soms vir my elke dag is soos Vadersdag (behalwe Moedersdag!) want ek bly in ’n huis vol girls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ou Sanna ·

Ek wonder watter gode Steve so dank. Daar is net een God wat waardig en Heilig is. Of dink hy miskien in Engels en skryf in Afrikaans – “I thank the gods” wat maar ‘n algemene engelse uitdrukking is sonder dieper betekenis? Ek wil ook net sê. Ek het Steve se Twitter nou die dag vir die eerste keer gaan uitkyk en ek het nog nooit soveel vloekwoorde op een blad gesien nie. Dan praat hy van goeie maniere wat jou ver bring. ~Moenie julle laat mislei nie: Slegte kommunikasie korrupteer goeie maniere. 1 Korinthiërs 15:33. Bad communications corrupts good manners (KJV)~ as dit nou in Engels moet wees. Mý pa sou hom ‘n vuil kyk gegee het soos net my pa kon. (Pa ek verlang elke dag. Ek sal jou nooit vergeet nie. Jy leef in elke oomblik waarin my herinnering aan dit wat goed en kosbaar was geroer word.) My pa het ook maar soos ‘n matroos gevloek somtyds, so ek is nie kwaad vir Steve nie ek sê maar net. Daar is beter Afrikaanse woorde wat ingespan kan word om jou misnoë of frustrasies uit te druk. Nou sou my pa mý ‘n vuil kyk gegee het. (Ai pa, die dag toe jy gegroet het, was niks ooit weer dieselfde nie. Selfs die dinge wat heel was was gebreek. En die son het vir ‘n lang tyd nie geskyn nie al het dit so gelyk, en die bome het verdor gestaan in hulle groenigheid. Mis jou altyd)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.