Vadersdag: ’n Pa se mandaat

Argieffoto (Foto: peterjamesanthony, Pixabay)

Sondag is dit Vadersdag, ’n baie goeie dag om dankbaarheid teenoor ons pa’s te betuig. Dit is egter ook ’n baie goeie dag vir ons as pa’s om mooi te besin oor ons mandaat as die pa van ons kinders en die hoofde van ons huisgesinne.

Gelukkig is daar deesdae baie raad op die rakke van goeie boekwinkels – Bringing up Boys deur James Dobson en Wild at Heart deur John Eldredge is twee boeke waarsonder geen pa sy taak behoort aan te pak nie.

En dan natuurlik kursusse soos Shepherding a Child’s Heart deur Ted Trip en ons gesin se gunsteling, Growing Kids God’s Way deur Garry Ezzo. Een van die vele hoogtepunte in Ezzo se videoreeks van 18 sessies, is die een oor die pa se mandaat. Hier is die groot uitdaging waaroor ons as pa’s moet dink terwyl ons die geskenke Sondag oopmaak.

1. Jy is verantwoordelik om ’n sterk gesinsidentiteit te kweek

Wanneer jy opgewonde is oor jou gesin, sal die res van die gesin ook opgewonde wees. Jy is die “rasieleier” en jy moet die genot wat jy put uit jou gesin gedurig verbaliseer. Mag jou gesin hierdie Vadersdag by jou hoor: “Ons is die lekkerste gesin in die hele land.”

2. Jy moet volgehoue liefde vir jou vrou demonstreer

Kinders wat met selfvertroue weet dat jy hulle mamma lief het, floreer. Die grootste geskenk wat jy aan jou kinders kan gee is om hulle mamma lief te hê.

3. Jy moet jou kinders se private wêreld verstaan en respekteer

Daar sal geleenthede wees wanneer jou kinders jou innooi in hulle private wêreld in. Wees baie sensitief hiervoor, benut die geleentheid en bewaar dit soos goud.

4. Jy moet vir jou kinders die vryheid gun om te misluk

Jou kinders gaan na jou kyk wanneer hulle misluk en jou kalmte, liefde en aanvaarding gaan vir hulle dáárdie groeigeleenthede bied wat nét mislukking kan bied.

5. Jy moet jou kinders aanmoedig

Daar is ’n groot verskil tussen ’n bemoedigende aanmerking en ’n bemoedigende pa. Laasgenoemde vloei vanuit ’n vertrouensverhouding en is vir jou kind onontbeerlik.

6. Jy moet ’n wag voor jou mond sit en waak oor jou stemtoon

Wees bewus van jou kinders se opgewondenheid oor dinge en al is dit nie iets wat jy goedkeur nie, reageer kalm en rustig. Tye van groot opgewondenheid by jou kind is nie tye waar jy ’n preek moet afsteek nie – jy kan later in tye van geen-konflik lewenslesse in hulle inbou.

7. Jy moet gereeld drukkies en soene gee vir almal in die huis

Gereelde drukkies, ’n klop op die skouer, ’n vryf oor die kop, ’n soen op die wang demonstreer kwesbaarheid en liefde en verseker jou kind van ’n noue band tussen gesinslede.

8. Jy moet ’n onwrikbare vertroue in God se woord by jou kinders bou

Die groot seën en uitdaging vir ons as pa’s is dat ons kinders ons tot in die hemel, of tot in die hel, sal volg. Al is ons beslis nie verantwoordelik vir ons kinders se redding nie, speel ons doen en late ’n baie groot rol daarin.

Mag hierdie uitdagende lysie sy pad vind tot op die yskas se deur, waar dit ons daagliks sal oproep tot ’n grootse taak tot seën van ons gesinne en in afhanklikheid van God.

Geniet jou nuwe braaitang met ’n liggie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Brink

Dr. Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Skoleondersteuningsentrum.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vicky ·

Nie almal is goeie pa’s. MAAR Sondag word almal weer gesmeer met die heuning kwas.

Dellaq ·

Beslis goeie punte en raad om na te streef want die van ons wat seuns het,maak die vlg man/pa groot. Ongelukkig kan ek nie dieselfde van my “pa” se nie, want dit was hy nog nooit. Gelukkige vadersdag aan die wonderlike pa’s en mans daarbuite…my man inkluis

John ·

Baie pa’s gebruik vadersdag ~ ja, vader soos moeder, wat gesag moet inboesem ~ om weer eens hul mag te demonstreer. Geen onderdanigheid beteken geen erfporsie. Ek weet van huise waar kinders nooit hul pa’s sy Bybel sien lees nie en een wat nooit ooit saam met die gesin in die kerk gesit het nie. En as hul kinders verwarde volwassenes word, is die eerste opsie ‘n begrypende duur psigiater…. en hierdie vername ‘vaders’ praat nogal Afrikaans…

Danie Bezuidenhout ·

Ek het my Pa hierdie week aan die ewige lewe afgestaan en ek het die grootste troosing in my hart want ek weet waar hy is,by ons grote Konning.Dis moeilike om en hartseer en om totsiens te se.Maar my Pa was en sal altyd my held wees want hy was n voorbeeld vir ons,al sy wysheid wat hy oorgedra het aan ons.Hy was altyd daar vir ons en het ons altyd met liefde gehanteer.Hy was n opregte Pa figuur en al die lof en heerlikheid gaan na God toe vir so wonderlike Pa wat hy aan ons geleen het.Sy kleinkinders was alles insy lewe en vir die kleinkinders was hy alles in hulle lewe.Ek is so trots op my kinders vir wat my Pa hulle verder geleeer het in die lewe wat ek nie kon nie.More is Vadersdag en ons gaan Pa baie mis, maar aan al die Pa’s daarbuite wil ek net se,Vat God se hand en jy sal die beste wees Pa wees vir jou kinders en kleinkinders soos my Pa.Gelukkig en geeseende Vadersdag aan al die Pa’s.

MCH ·

Eksodus 20:12 – ” Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.”
Nie omdat hy alles reg doen nie, maar ook omdat hy mens is en foute maak. My pa het ons drie kinders vir 13 jaar laat studeer. Ons is al drie professionele mense vandag. Dit het hom R1.3m gekos. Geen beurse, geen hulp. Hy is n gewone ou wat net buitengewoon besield was om vir ons n beter toekoms as wat hy het, wou verseker. In die proses het hy homself gereeld tenagekom ter wille van ons. Hy kon nie gaan studeer nie, want sy pa is oorlede toe hy in standerd 8 was en geld was bitter skaars, so ook beurse.Hy het deeltyds n diploma verwerf. Dus n gewone ou met n gewone werk. Hy was kanonvoer op sy tyd. Nie al sy besluite in die lewe het goed uitgewerk nie. Hy was soms ook nie n engeltjie nie, sommige goed wat hy gedoen het was plein stupid. Hy sal moet werk tot hy sy kop neerlê eendag as gevolg van besluite. Maar, ons kinders, is beter af as hy. Hy het dit gedoen. Dis n man wat, maak nie saak hoeveel keer hy neergeslaan het nie, altyd met passie opgestaan het en deur harde werk n verskil gemaak het. Hy leef sy geloof in sy Hemelse Vader met passie uit. Bulperd van Magallie, struikel, maar willie vallie!

Visser ·

Almal maak altyd ‘n vreeslike ophef van Moedersdag en Vadersdag en dit is een dag van die jaar en geskenke se pryse is belaglik duur. Moedersdag en Vadersdag moet elke dag van die jaar wees!!!

Helena ·

Gelukkig maak alles Pa’s & Ma’s foute….. Wat Danie hierbo geskryf het is waar. Mag iemand daaruit iets leer en toepas.

Liezl ·

My pa was nooit aanwesig met ons grootword jare nie. Hy het sy eie hartseer en ‘struggle’ uitgewoed. Hy het op n jong ouderdom sy hart verloor op n pragtige jong dame. Sy het vir hom n seun gegee. En toe die baba 3 maande oud was, is sy dood in n motor ongeluk. Hy moes verder sy seun grootmaak en het toe my ma ontmoet en ek was daar en toe kom nog ‘n broer ook. Ek dink nie hy het sy eerste liefde ooit vergeet nie. My ma is geskei van hom. Vandag 42 jaar later is hy nogsteeds my pa, ons het miskien nie n verhouding nie. Maar hy bly my pa. Hy het begin vd jaar uitgevind hy is n diabeet en het kanker. Hyt keuses in sy lewe uitgeoefen wat ons nie verstaan nie. Maar ek is lief vir hom. Gelukkig Vadersdag!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.