Vakansie is ’n ouer se grootste werk

(Foto: Omid Armin/Unsplash.)

Deur Charlotte Fourie

Dis Sondagoggend voor kerk. Daar staan ‘n jong ma met haar 10 maande jonge seuntjie en gesels met die ouderling by die deur. Jy stap vinnig nader, want jy kan jouself nie help nie. Die seuntjie het vellies aan – presies soos jou oupa s’n! ‘n Blou knopieshempie ingesteek in ‘n bruin chino-broekie. Die prentjie word afgerond met ‘n donkerblou strikdassie. Jy groet nie eens die ma of die ouderling nie – jy het nét oë vir die pragtige seuntjie. Hy lag toe hy jou oog vang; sy armpies begin waai soos jy hom speels kielie en “koetsjie-koetsjie-koo” – hy skater van plesier. Die jong ma en ouderling het ophou gesels en kyk met groot genot na die seuntjie se reaksie. Skielik is die oomblik verby, die volwassenes groet mekaar en almal beweeg verder.

Soos wat jy wegstap (of terwyl jy hierdie lees), gebeur een van twee dinge met jou: óf jy kry ‘n warm gevoel in jou hart, kyk met verlange na jou beter helfte en fluister: “Ag, kom ons kry (nog) enetjie?” Hierdie beteken gewoonlik dat jy reeds een kind het of dalk pas getroud is. Of jy kry nie kans om enige iets te voel of te fluister nie, want die een kind wie se hand julle nie kon vashou tussen die ander twee kinders, die doeksakke en die Bybels nie, het ontsnap en is besig om al die afkondigingsblaadjies van die tafel af te gooi.

My en Stoffel se eerstelinge is ‘n tweeling gebore in 2018. Toe hulle so 6 maande oud was (daardie vreedsame stadium waartydens jy hulle so oulik kan aantrek en hulle altyd op een plek bly sit), het die warm gevoel ons getref en het ons vir mekaar gefluister: “Ag, kom ons kry nog enetjie”.

Boetie is 10 maande later gebore, in 2019, toe die tweeling nie meer op een plek gesit het nie en mooi klere baie vinnig meer vuil was as mooi. Die jaar 2020 was vir ons ‘n uitdaging lank voor Covid-19 – in 2020 het ons drie kinders onder driejarige ouderdom. Die enigste gevoel wat ons kry as ons ander mooi aangetrekte kinders sien, is verligting – omdat die kinders nie ons s’n is nie.

Wat is deesdae vir ons moeiliker as om kerk toe te gaan? Vakansies.

‘n Naweek in die Bosveld by my ouers is net moontlik met ‘n ou Venterwaentjie, want hoe anders pas jy genoeg kos, klere, doeke, Wet Wipes, kos, motorfietsies, sonbrandroom, die opblaasswembad, ekstra klere vir as die eerste stelle almal vuil is, kos, Bumbo-stoeltjies, bottels, kos, klere vir die drie ander moontlike seisoene, twee miniatuur Schnauzers en hul bagasie, ‘n stootwaentjie, die mediese kas met medisyne vir elke moontlike ding wat kan skeef gaan, doeke en formulemelk in ‘n massiewe Prado? O, en ‘n klein sportsak met klere vir my en Stoffel.

Wanneer ons met vakansie gaan, baklei ek en Stoffel oor wie bestuur. Die een wat bestuur, is die wenner, want hy (en ek sê doelbewus hy) moet op die pad fokus. Die ander een moet die selfoon met afgelaaide Peppa Pig regop hou, bottels oor en weer gee, keer dat een kind nie per ongeluk aan die ander een raak nie en sover moontlik die kar skoon hou.

Soms slaap die kinders vir die eerste halfuur van die rit. Ons noem dit “genadetyd”. Ek en Stoffel gesels dan asof ons mekaar vir die eerste keer ná ’n lang tyd weer sien. Ons bespreek politiek, geloof, familielede, ons toekoms, ons dro… daar word een wakker. As een wakker is, is almal wakker.

Charlotte Fourie. (Foto: Verskaf.)

My suster en haar man het nog nie kinders nie – dalk omdat hulle elke vakansie ‘n huis met ons deel. Die eerste aand is altyd die moeilikste en niemand in die huis of in ‘n omtrek van 900 meter slaap veel nie. Daarna word dit beter – oupa en ouma geniet dit om bietjie tyd met die kinders te spandeer en hou hulle besig. Ons skud maar net ons koppe as hulle noem hoe soet ons kinders is en dat hulle nie kan verstaan hoekom ons soms kla nie.

Weer by die huis ná die vakansie is dit tasse uitpak, klere was en huis in orde kry voor die werksweek kan begin. Dankie tog! In dié week kan ons weer rus.

Vanaand, nadat ek en Stoffel die kinders in die bed gesit het en alles is rustig en netjies, praat die stilte met ons: Drie is darem nog te min. Net nog enetjie…

  • Charlotte Fourie is ‘n dosent by die Solidariteit Skoleondersteuning se Wolkskool-platform.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mel84

Hoe lui die spreekwoord. It kills you to see them grow up. It would kill you quicker if they didn’t.
Ouerskap is absoluut die ondankbaarste mees belonende deel van mens se lewe.