Vakansiepret vir elke dag van die week

water_glybaan_kinders_vakansiepret.jpg

Foto: brittanyferries.ie

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Dis amper weer skoolvakansie en om te verhoed dat jou kinders kla hulle is verveeld óf ure voor die televisie deurbring, moet jy kreatief dink en vooruit beplan. Hier is ʼn paar voorstelle om jou te inspireer.

Maandag: Museums en maestro’s  

Besoek ʼn museum – verkieslik een wat jou kind se belangstelling sal prikkel – of stel vas watter vertonings by jul plaaslike teater gehou word. (Baie museums en teaters bied prettige, interaktiewe vakansieprogramme vir kinders aan.) As daar niks in jou omgewing plaasvind nie, waarom moedig jy nie jou kinders aan om hul eie toneelstuk te oefen en op te voer nie?

Dinsdag: Doen dit self

Vakansiepret hoef jou nie honderde rande uit die sak te jaag nie. Bak kolwyntjies, maak speelklei, knoopkleur ʼn T-hemp, of grou al jou ou kunsmateriale uit en laat die kinders solank Kerskaartjies begin maak.

Woensdag: Waag dit!

Ouer kinders sal dit geniet om te gaan skaats, om hul vrees vir hoogtes met muurklim of ʼn zip line te beproef, of om selfs bruisende waters in ʼn binneband aan te durf, terwyl jonger outjies weer die uitdaging van die klimapparaat by ʼn speelsentrum sal geniet. Julle kan ook ʼn temapark besoek, wat ongetwyfeld iets sal bied wat elkeen sal uitdaag.

Donderdag: Dieremaniere

Ons land wemel behoorlik van plekke waar jy allerhande diere – van die alledaagse tot die eienaardige – kan sien en selfs troetel! Is daar ʼn akwarium, dieretuin, slangpark, krokodilplaas of voëlparadys in jou agterplaas? Besoek dit gerus! Of nog beter, gee van julle tyd en gaan help by ʼn diere-organisasie – julle kan met die diere gaan stap en speel, of julle kan help met ander takies wat verrig moet word.

Vrydag: Verken jou dorp

Laai die kinders in die kar en gaan verken die hoeke en draaie van jul dorp. Julle kan ook jul omgewing per voet (vind uit of daar lekker daguitstappies is) óf per fiets (pak gerus ʼn piekniekmandjie) verken. Eindig die dag met ʼn fliek-marathon – laat elkeen sy gunstelingfliek kies, maak emmers vol springmielies, plak julself op die rusbank neer en ontspan!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.