Vakkeuses vir ʼn beroep

beroepe

Foto: Dreamstime.com

Hallo Susan,

My gr. 9-seun het geen idee wat hy wil doen ná skool nie. Die beroepsvoorligter sê hy ken homself nie goed genoeg om te weet waarin hy belangstel nie. Sy vakkeuses moet dus so wyd moontlik wees sodat wanneer hy wel ’n beroepskeuse maak, hy die nodige vakke het. Hy is baie goed in al sy vakke. 

Wat sou ’n goeie vakkeuse vir hom wees?

Groete.

Karien

Hallo Karien,

Ja, ʼn mens kan nie ’n keuse uitoefen sonder om te weet in watter rigting jy wil gaan studeer nie. Jou seun is nie die enigste wat met hierdie dilemma sit nie; baie gr. 9-leerders bevind hulle in dieselfde situasie, maar wat in jou seun se geval verblydend is, is dat hy goed presteer in al sy vakke.

Kom ons neem die verskillende studierigtings een vir een.

  1. Tegnologie en ingenieurswese:

Wiskunde en fisiese wetenskappe is verpligtend vir graadkursusse en meeste nasionale diplomas. Indien jou seun later sou agterkom dit is waarin hy belangstel, is die vereistes vir universiteitskursusse dus wiskunde, fisiese wetenskappe en Engels.

Vir B.Tech-kursusse is wiskunde en fisiese wetenskappe ʼn vereiste. Sommige nasionale diploma-kursusse soos industriële ontwerp aanvaar wiskundige geletterdheid.

Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder ingenieurswese, argitektuur en tegniese tekeninge, bou en konstruksie, en dan al die verskillende ambagte.

  1. Gesondheids- en biologiese wetenskappe:

Wiskunde, fisiese wetenskappe en biologie is verpligtend vir medies, oogheelkunde, tandheelkunde, farmakologie, biologiese wetenskappe, navorsing en die mediese ondersteuningsberoepe. Sommige universiteite aanvaar wiskundige geletterdheid vir arbeidsterapie. Vir sielkunde, maatskaplike werk, berading en mediese ondersteuningsberoepe is wiskunde of wiskundige geletterdheid verpligtend, en biologie of fisiese wetenskappe word aanbeveel.

Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder mediese praktisyns, oogheelkunde of optometrie-ondersteuning, tandheelkunde en -ondersteuning, gesondheidsorg, biologie en navorsing, sielkunde, maatskaplike werk en berading.

  1. Rekenaar- en inligtingstegnologie:

Hierdie beroepsrigting vereis oor die algemeen wiskunde en fisiese wetenskappe, en in sommige gevalle ook inligtingstegnologie. Alle BCom-grade vereis wiskunde. Tegniese opleidingsinstansies vereis wiskunde, wiskundige geletterdheid en Engels, en beveel toegepaste rekenaartegnologie, inligtingstegnologie en ontwerp, visuele kunste, of ekonomie aan.

Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder inligtingstegnologie en -stelsels, rekenaar harde- en sagteware, netwerke, multimedia en ontwerp.

  1. Handelsake en bestuur:

Die sakebedryf, finansies en bestuur vereis wiskunde of wiskundige geletterdheid. Vakke soos besigheidstudies, ekonomie, rekeningkunde, toegepaste rekenaartegnologie of informatika word ook aanbeveel.

Alle BCom-graadkursusse vereis Engels of Afrikaans en wiskunde.

Ons kan beroepe in hierdie veld soos volg klassifiseer: finansies, waaronder rekenmeeter en ouditeurs ressorteer; kommersiële handels- en bedryfswese; bemarking en verkope; menslike hulpbronne en administrasie.

  1. Landbou, omgewingsake en geografiese wetenskappe:

Wiskunde of wiskundige geletterdheid en/of biologie en/of geografie is gewoonlik verpligtend vir beroepe in hierdie veld. ʼn BSc-studie vereis Engels, Afrikaans en wiskunde met óf fisiese wetenskappe óf biologie.

Beroepe in hierdie veld sluit onder meer in landbou en boerdery, kundigheid in diere, voëls en/of insekte, omgewingsbewaring of afval en herwinning, plante, landskapsargitektuur en tuinbou, marine- of water- en oseaantegnologie, geografie en argeologie.

  1. Sosiale wetenskappe en onderwys:

Afrikaans en Engels, wiskunde of wiskundige geletterdheid is verpligtend vir hierdie beroepsveld. Tale, biologie, toerisme, toegepaste rekenaartegnologie, geskiedenis, handel en geografie word aanbeveel.

Beroepe in hierdie veld is opvoedkunde, onderwys, opleiding en Educare, sport en fiksheid, skoonheidstegnologie en kosmetika, godsdiens, geskiedenis- en kultuurberoepe soos byvoorbeeld dié van antropoloog, antieke handelaar, ikonoloog, museumkurator, filosoof of sosioloog.

  1. Dienslewering:

Verpligte vakke is Afrikaans en Engels, en wiskunde of wiskundige geletterdheid.

Beroepe in hierdie veld is reis en toerisme, hotelbestuur en gasvryheid, lugvaart, verdediging, die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), die Suid-Afrikaanse Vloot, regerings- of openbare diens, veiligheid en sekuriteit.

  1. Kuns en kultuur:

Engels met een addisionele Nasionale Senior Sertifikaat-taal en wiskunde of wiskundige geletterdheid. Ander vakke wat aanbeveel word, is ontwerp, die visuele kunste, sakestudies, musiek, drama en dans, na gelang van die individu se talent.

Beroepe in hierdie veld is skone kunste en ontwerp, tekstiel en modemakery, juweelvervaardiging en ontwerp, rolprenttegnologie en televisie, mediastudies en uitgewery, en musiek en vermaaklikheid.

  1. Taal en regte:

Engels of Afrikaans met ’n ander Nasionale Senior Sertifikaat-taal, asook wiskunde of wiskundige geletterdheid, is verpligte vakke.

Beroepe in hierdie veld is taal en joernalistiek, soos byvoorbeeld skrywer, kopieskrywer en tolk; beroepe in die regte, soos byvoorbeeld advokaat, prokureur of ondersteunende regsberoepe soos byvoorbeeld speurder.

Karien, uit bogenoemde wil dit voorkom asof ’n veilige vakkeuse op hierdie stadium Engels, Afrikaans, biologie (lewenswetenskappe), wiskunde, en fisiese wetenskappe moet insluit.

Alles van die beste.

Groete,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 550 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raad ·

Ek was in presies dieselfde situasie. Uit ervaring kan ek aabeveel om met n beroepsvoorligter te praat en die toetse te doen, dit help regtig baie. Maar kies die voorligter goed…kids een wat nie te veel klem op belangstelling en te min op ekonomiese realiteite le nie want glo my, werk is skaars, geld min, en dis n groot gesukkel res van jou lewe as jy iets kies waarvoor die vraag swak is. Die ekonomie raak alweer globaal en daarom beveel Ek sterk aan om “occupational outlook handbook us department of labor” te google, dit is amerikaans maar gee by verre die beste vooruitsigte vir n globale ekonomie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.