Van die eerste oomblik tot vol oomblikke

Argieffoto (Foto: trestletech, Pixabay)

Die eerste oomblik toe ek ons eerste seuntjie gesien het, was dit nie soos almal gesê het dit gaan wees nie… baie mense sê jy is onmiddellik verlief. Gaan enige iemand my oordeel as ek sê dit was nie die geval met my nie?

Ná 16 ure van probeer om natuurlik te kraam en toe ʼn noodkeiser, tel die dokter die skreeuende bondeltjie op om hom bo-oor die groen seil vir ons te wys, en dis asof ek ʼn klein ruimtewesentjie sien.

Vir nege maande voel jy hierdie dingetjie binne jou groei, beweeg, jy weet hy is daar, jy praat met hom en sien uit na sy koms, maar toe hy ʼn “realiteit” word, was dit vir ʼn oomblik amper ʼn buite-liggaamlike ervaring.

Niks kan mens voorberei vir daardie oomblik nie. Die realiteit is, jou lewe verander. Dit gaan nooit weer dieselfde wees nie. Van nou af is hy jou verantwoordelikheid om te beskerm, op te pas, groot te maak. Maar dit is juis hierdie besef wat my die volgende oomblik lief gemaak het vir hom. Totaal weerloos en huilend het hulle die bondeltjie op my bors neergesit. Hy het rustig geword. Totaal afhanklik van net ons.

ʼn Onbeskryflike beskermingsdrang het oorgeneem. Die wete dat al is dit “ietsie” onbekends, is hy joune en aan jou toevertrou vir sy leeftyd op aarde. Al wat hy het, is jy.

Dit begin met sy eerste sug-sug ná al die trane, sy klein handjies met die klein, fyn, perfek gevormde naeltjies wat om jou vinger vou en jy asem daardie baba-reuk, uniek aan hom, in. Dit begin. Liefde. Nie verliefdheid nie, want verliefdheid gaan verby. Liefde bly. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles, soos die Bybel sê. Hierdie gevoel gaan hierdie dingetjie liefhê vir ewig.

Dis ook die eerste oomblik wat jy nie meer tyd het vir enige iets anders nie.

Dis ook iets wat mens nie vir iemand anders kan beskryf nie. Jou lewe is so vol, maar aan die einde van die dag kan jy nie noodwendig iets spesifiek wys daarvoor nie. Die resultate gaan heelmoontlik eers sigbaar wees oor 18, of selfs meer, jaar.

Die oomblikke, dae en jare rol net oor na die volgende. Voor jy jou oë uitvee is nog ʼn jaar verby en jy wonder, waar is die jaar tog heen?! Dis gewoonlik eers op ʼn pasella aandjie of naweek weg van die kinders, dat jy besef hoe “leeg” jou lewe was voor kinders.

Verstaan my reg. Dis nie dat ek sê ons het niks gedoen nie. Nog minder dat mense sonder kinders niks het om te doen nie. Ook nie dat ek nie noodwendig daarvan sal hou om tog weer “leë” oomblikke in my dae te hê nie. Dis egter ʼn volheid wat die onnodige ekstras en tydmors op die klein jakkalsies in die lewe verjaag.

Ek was verseker nooit so besig soos wat ek altyd gekla het ek was nie, want ek weet nóú eers wat besig is… Maar dis lekker.

Ek wonder egter nou waarmee het ek dan my dag gevul, as ek nou so baie gedoen kan kry? ʼn Paar goedjies waarop ek heel moontlik baie meer tyd gespandeer het, bly nou dikwels agterwee. Basiese voorbeelde is middagete en binne 15 minute winkels toe en terug te wees… Ek weet egter dat baie ma’s dikwels voel hulle doen eintlik niks in ʼn dag nie, maar dat jou dag se oomblikke ten spyte tot die nok toe vol is, is ʼn feit.

Op ʼn “weg”-naweek kan ek en manlief amper “verveeld” begin voel, met al die “leë” oomblikke wat ons ewe skielik het ná ons alles gedoen het wat ons van gedroom het… Ja, daar mag dalk ook nou nie meer tyd wees vir al die goedjies wat ons so lief was om te doen voor die gesin begin uitbrei het nie, maar “this too shall pass” en ons gaan dit weer kan doen.

Ek kyk na ouers wat hand-aan-hand in die winkels rondloop, met ouer kinders, wat dit ook nou kan geniet om te gaan fliek of saam met die ouers te gaan stap en die natuur geniet. Gesinne wat hulle gate uit geniet op familievakansies, met kinders wat nie veel ouer as ons s’n is nie.

Ek weet dat die volheid wat ek nou ervaar, net gaan toeneem en ryker word soos wat hulle ouer word.

Ek sal jok as ek sê ek was nie bekommerd ons lewe gaan heelmoontlik tot ʼn “einde” kom as hulle eers hulle opwagting gemaak het nie. Dit het verseker nie. Ek sal ons lewe, soos dit op hierdie oomblik is, nie wil verruil vir enige iets in die wêreld nie. Want dis eers as jy iets beters het, dat jy weet dit wat jy gehad het, was toe nie dit wat jy gedink het dit was nie.

Dis nou baie meer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

RN ·

Kinders het gewis ‘n spesiale plek in mens se lewe, maar ek sal jok as ek sê ek en my man geniet nie ons tyd saam noudat die kinders groot en op hulle eie is nie, maar as dit tyd word om hulle te sien is dit ‘n soort van opgewonde kan-nie-meer-wag gevoel, van die kleinkind nie te praat nie. Ek wonder soms of hulle ook daai selfde gevoel beleef? Ons lief ons kinders.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.